Gróót reën op pad; sneeu plek-plek selfs moontlik

Argieffoto

Ná ʼn week van versengende hitte en met die kwik wat op plekke tot ver bo 30 °C gestyg het, is die goeie nuus dat Suid-Afrika kan regmaak vir wydverspreide reën – uiters swaar op sommige plekke.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens sê beduidende reënval word Saterdag oor die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal verwag en dit sal teen Sondag na dele van die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo versprei.

Die weerdiens waarsku egter ook dat daar veral Maandag en Dinsdag, weens swaar reën in die oostelike en sentrale dele van die land, ʼn groot moontlikheid van oorstromings kan wees.

In die oostelike provinsies, ook Gauteng, word ʼn aansienlike daling in temperatuur verwag. Groot dele van die Hoëveld kan temperature tussen 10 °C en 20 °C verwag, met Johannesburg wat na verwagting ʼn maksimum van net 11 °C of 12 °C sal bereik.

Sommige hoogliggende gebiede kan selfs maksimum temperature laer as 10 °C ondervind.

Die oorsaak van die nat, koue toestande is ʼn kombinasie van twee weerstelsels: eerstens, ʼn sterk oppervlak-hoëdrukstelsel wat koue, vogtige lug oor die suidoostelike en oostelike kus en binneland meebring. Tweedens is daar die ontwikkeling van afwaartse druk oor die sentrale binneland wat reën oor die oostelike provinsies kan veroorsaak. ʼn Verdere faktor wat die waarskynlikheid van en hoeveelheid reën kan raak, is die tropiese aard van die lugmassa.

“Tropiese lug hou verband met reën van ʼn moontlik swaar en wydverspreide aard.”

Sneeu dalk moontlik

Die weerdiens waarsku ook teen moontlike ontwrigtende sneeuneerslae Sondag oor die Drakensberg en Van Reenenspas op die N3 in KwaZulu-Natal.

“Ligter sneeuneerslae kan oor die hoër pieke van die aanliggende provinsies soos die Oos-Kaap en die verre oostelike Vrystaat ondervind word. Daar is selfs ʼn klein, maar duidelike moontlikheid van ligte sneeu oor die Roossenekalpas, asook in die omgewing van Belfast en Dullstroom in Mpumalanga volgende week,” lui die weerdiens se verklaring.

Namate koue, vogtige en winderige toestand Sondag uit die ooste oor die Hoëveld spoel, kan swaar donderstorms, kwaai hael, hewige reën en sterk, verwoestende wind verwag word.

Provinsies wat na verwagting geraak word, sluit in die noordoostelike Vrystaat, weste van KwaZulu-Natal, Gauteng, die suide van Limpopo asook die Hoëveld en plato van Mpumalanga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Natalie ·

Ekees alweer niks van Noordwes nie, ons skroei hier……..
bietjie reen sal so lekker wees

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis seker weer steenkool se skuld. En die karre wat ons ry en beeste wat ons eet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.