Groot wateronderbrekings in Gauteng ná pyp bars

(Argieffoto: Pixabay)

Rand Water sê hy hoop om teen laat Sondagaand weer water te pomp na inwoners van verskeie gebiede in Gauteng wat sonder water sit nadat ʼn groot waterpyp die naweek gebars het.

“Ons kon die gedeelte op die O2-pypleiding wat gebars het oornag oopmaak, nadat die stroom herlei is. Dit lyk of ʼn klep op die pypleiding gevandaliseer is,” het Rand Water in ʼn verklaring gesê.

“Na raming gaan ons teen vanaand [Sondag] weer water kan pomp. In samewerking met Joburg Water en die Ekurhuleni-metroraad voorsien ons bykomende watertenks vir verbruikers. Die onderskeie munisipaliteite sal die presiese ligging van die tenks deurgee.”

Gebiede wat geraak word sluit in Wychwood, Primrose Hill, Dinwiddie, Primrose, Windsor, Sunnyridge, Fishers Hill Primrose-uitbreiding, Isando, Glen Marais, Klopper Park, Isando Res, Kempton Park, Van Riebeeck Park, Spartan-lughawe, Bedfordview, Tembisa, Tembisa-Suid, President Park, Halfway House, Diepsloot, Rooihuiskraal, Kosmosdal, Silver Ball, Linmeyer, Linmeyer (uitbreiding 2) South Crest, Knights Mine, Medley Res in Boksburg, die Life Care-hospitaal, Germiston-stasie, Spoornet-Oos-nywerheidsgebied, asook Wadeville.

“Ons vra om verskoning vir enige ongerief en vra verbruikers om water spaarsaam te gebruik terwyl ons die watertoevoer begin herstel,” het Rand Water gesê.

Gebruikers is gevra om vordering op Twitter (@rand_water) dop te hou.

Rand Water het Saterdagaand gesê watertoevoer is na die O5-pypleiding oorgeskakel nadat die O2-pyp gebars het.

“Die spesifieke gedeelte van die O2-pypleiding, waar die herstelwerk gedoen moet word, steek ʼn stroom oor en daarom moes tegnici eers die rivierstroom herlei voordat hulle met herstelwerk kon begin. Ons het al die nodige spesialistoerusting en materiaal op die toneel en die spanne sal deurnag werk,” het Rand Water gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johanna Botha ·

N ding moet eers breek voir iets gedoen word …waneer gaan dit deurdring ! !

Gert van Wierdapark ·

As dit waar is dat die klep “gevandali-seer is, moet die saboteurs weens die ekonomiese sabotasie tereg-gestel kan word, indien moontlik! Miskien in ‘n put sonder water met as afleiding’ n paar giftige slange?

Geen water ·

Julle moun oor miskien n dag sonder water te wees ?? Wees dankbaar julle kry nog water !! Op Sundra gaan ons nou vir amper 3 maande sonder WATER .. wees dankbaar julle kry WATER !!

Yvonne ·

Ai dit is nie pret nie. Op Uitenhage is sekere dele al 8 dae sonder water. Gebrek aan onderhoud. En wat die herstel verder vertraag is die dood van n werker wat verdrink het toe daar aan die pyp gewerk word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.