Grootse poging om beseerde hengelaar uit getypoel te red

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: NSRI)

ʼn Man van Knysna is eindelik vroeg Sondagoggend na veiligheid gebring nadat hy ure lank onder ʼn rots in ʼn getypoel vasgekeer was.

Noodreddingsdienste het ure lank gespook om die man uit die gevaarlike, rotsagtige gebied te kry sonder om ook die lewens van reddingswerkers in gevaar te stel.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê die NSRI se Knysna-tak het Saterdag kort voort 16:00 ʼn oproep ontvang dat ʼn hengelaar in die Knoetzie-omgewing beseer is en hulp nodig het.

ʼn Motorwag in die omgewing het aan ʼn plaaslike inwoner gesê dat ʼn ongeïdentifiseerde hengelaar hom weer ingelig het dat ʼn hengelaar iewers in die gebied beseer is en ʼn ambulans benodig.

Dit was nie presies bekend waar die hengelaar is of wat die omvang van sy beserings is nie. Al wat in daardie stadium bekend was, was dat ʼn rots skynbaar op hom geval en hom vasgepen het.

“Die hengelaar wat oorspronklik die motorwag hieroor ingelig het, het in daardie stadium reeds die toneel verlaat,” sê Lambinon.

Jerome Simonis, NSRI-Knysna se stasiebevelvoerder, het die inwoner versoek om die motorwag te vra om die beseerde man te probeer opspoor sodat hulp na die regte plek gestuur kon word.

Intussen is ʼn span van die NSRI na die gebied ontplooi, asook die Wes-Kaapse nooddiens, die Knysna-brandweer en soek-en-reddingspanne van die polisie. Die provinsiale forensiese patologiediens is ook op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas en ʼn lugambulans was op bystand om die beseerde hengelaar te help.

Volgens Lambinon is die NSRI se reddingstuig, die JayTee IV, saam met drie reddingswemmers en ʼn reddingsvoertuig na Knoetzie gestuur.

“Met hul aankoms het die betrokke motorwag hulle ingewag en meer inligting oor die beseerde man deurgegee,” sê hy.

“Volgens die wag was die hengelaar op pad om te gaan visvang toe hy aan ʼn groot rots gegryp het. Terwyl hy oor die rots probeer klim het, het dit losgekom en hy het agteroor in ʼn getypoel geval. Die rots het op hom geval en weens sy beserings kon hy nie loskom nie.

“ʼn Ander hengelaar het op die beseerde hengelaar afgekom en kon die rots deels van die man afrol voordat hy na Knoetzie is om alarm te maak.”

Die NSRI het ná die nuwe inligting besluit om kuslangs na die beseerde hengelaar te soek, maar kon hom nie van die see af raaksien nie. Die motorwag is gevra om met ʼn reflekterende baadjie te waai om die reddingstuig se aandag te trek sodat hulle die pasiënt só kon opspoor.

Die NSRI en al die ander nood-en-reddingsdienste het te voet na die hengelaar begin soek, maar omdat daar geen selfoonsein by Knoetzie was nie, het die soektog stadig gevorder.

Die motorwag, wat in daardie stadium steeds by die beseerde man was, het intussen ʼn vuur gemaak en kon só die aandag van die bemanning op die NSRI se reddingstuig trek. Die drie swemmers het met mediese toerusting op ʼn drywende draagbaar na die rotse geswem en die beseerde hengelaar eindelik bereik.

“Die man is ondersoek en daar is bevind dat hy nie meer onder die rots vasgekeer was nie,” sê Lambinon.

“Hy is behandel vir hipotermie en ander beserings en nadat hy gestabiliseer is, met ʼn draagbaar uit die gevaarsone en weg van die inkomende gety geneem.”

ʼn Lugambulans is na die toneel ontbied, maar weens ʼn gebrek aan ʼn geskikte landingsplek en die naderende donker, kon die bemanning nie land nie.

Die span wou die man per boot uit die gebied neem, maar weens die donker en onbegaanbare terrein, het hulle besluit om nie die pasiënt verder te dra nie. ʼn Span het deurnag by hom gewaak en teen Sondag om 08:00 was ʼn helikopter terug op die toneel waarmee die pasiënt opgehys en na die strand geneem is. Hy is daarna na ʼn hospitaal gevlieg.

“Die hengelaar wat die beseerde man opgemerk het, die motorwag wat die inligting oorgedra het, die inwoner wat die NSRI ontbied het én die nooddienste word geloof vir al hul pogings om die man se lewe te red,” sê Lambinon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.