Hankey-plaasmoord: Skuldige hoor gou sy lot

Sebenzile Simane (32) in die hooggeregshof in Port Elizabeth. (Foto: Raahil Sain/ANA)

Sebenzile Simane (32), wat Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth skuldig bevind is op 17 aanklagte rakende die wrede plaasaanval op ʼn plaas buite Hankey waartydens ʼn ma van drie geskiet en verkrag is, sal gou gevonnis word.

Simane se saak is tot Donderdagoggend om 09:30 uitgestel vir vonnisoplegging.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder wat by die saak betrokke was, het bevestig Simane is onder meer skuldig bevind op aanklagte van ontvoering, verkragting, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie en die dwing van ʼn kind om ʼn seksuele oortreding te aanskou.

AfriForum het die vrou van die begin van die saak af bygestaan en Kamfer het nou saam met die regspan gewerk om seker te maak die saak word na behore afgehandel.

Die ma het vroeër tydens die verhoor getuig sy en haar drie kinders “is soos diere gejag” die aand van 23 Maart verlede jaar toe Simane by hul plaashuis ingebreek het.

Die kinders het in die gang afgehardloop gekom en die twee jongste kinders het in haar slaapkamer ingehardloop terwyl die tiener na die badkamer gehardloop het. In dié stadium was sy reeds geskiet en het sy haar liggaam teen die deur gedruk om te probeer keer dat Simane in die kamer kan kom. Hy het egter begin skote afvuur.

Simane kon daarin slaag om in die slaapkamer te kom nadat hy die skuifdeur se glas stukkend geskiet het. Hy het in die kamer ʼn vuurwapen teen die negejarige seun se kop gehou. Simane het die gesin later na die sitkamer gedwing waarna die tiener ook met sy hande in die lug by hulle aangesluit het.

Volgens die vrou het Simane geglo daar word R9 000 aan hom geskuld en het hy vir die kinders gesê hy is kwaad vir hul pa. “Hy wou weet waar my man was en het gesê hy sal hom eerste en dan die res van ons doodmaak.”

Die vrou het getuig sy het vir Simane R600 uit haar handsak gegee, asook haar bankkaarte en vir hom gesê hy kan nog geld by ʼn kitsbank gaan trek. In dié stadium het Simane hulle begin vasbind. Hy het na die kinders gedraai en gesê hy gaan hul ma verkrag en hulle gaan moet kyk.

Die vrou het hom gesmeek om haar nie voor haar kinders te verkrag nie waarna hy haar na die slaapkamer gesleep en op haar bed verkrag het. Nadat Simane haar verkrag het, het hy haar een dogter gaan haal en haar langs haar ma op die bed laat sit. Hy het toe gedreig om haar ook te verkrag.

“Ek het net geskree: moet haar asseblief nie verkrag nie, sy is te jonk. Sy is net 12 jaar oud, dis nie moontlik nie. Moet haar asseblief nie verkrag nie.”

Die vrou is hierna voor haar dogter verkrag. “Hy het seker gemaak sy sou kyk, al het sy probeer wegkyk.”

Sy en haar dogter is later teruggevat na die sitkamer toe en sy het aangebied om hom na ʼn kitsbank te neem aangesien hy nie haar motor aangeskakel kon kry nie. Sy was in dié stadium al baie swak aangesien sy baie bloed verloor het, maar het sy met hom dorp toe gery waar hy teen omstreeks 23:30 R4 000 onttrek het. Simane wou nog geld trek en het hy vir haar gesê om na ʼn grondpad te ry en daar te wag tot middernag. Terwyl hulle gewag het, het Simane weer gedreig om haar op die agterste sitplek van haar voertuig te verkrag.

Die vrou het in dié stadium besef sy het baie bloed verloor en vir hom gesê sy “weet hy is nie ʼn slegte persoon nie” en by hom gepleit om haar kinders te gaan haal en na ʼn hospitaal toe te gaan.

Simane het kort ná middernag nog geld onttrek, die sakke vol goed wat hy geroof het, gevat en vir die vrou totsiens gesê voor hy op die vlug geslaan het.

Volgens die vrou het sy terug na die plaas gery en gesien daar is ligte aan by familie van haar man se huis. “Hulle het met hul vuurwapens uitgekom en die kinders was reeds daar. Ons was almal in so ʼn toestand.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karoolsie ·

30+ jaar ASB……. En geen parool ooit nie. Die Bli…ksem moet sit.
Baie sterkte aan die Familie……dit is regtig Baie tragies.

Netso ·

6 jaar dan sien jy hom weer in daai selfde e omgewing! Hy kom nog vra vir werk jou kyk maar uit?

lh ·

Mens kan dit amper sien as ‘moord’! hierdie vrou en kinders se lewe sal NOOIT weer die selfde wees nie . . .

Monica ·

Beslis bere hom lank…. Net jammer ons belasting betalers moet vir hom sorg, en die mense wat aangeval is , se lewe is verwoes…. Glo nie n mens se lewe is ooit weer dieselfde nie.. Bitte baie sterkte aan julle as gesin… Ons bid vir julle….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.