‘Heelwat kinkels’ in nuwe Deon Meyer-minireeks

Die gewilde skrywer Deon Meyer. (Foto; M-Net)

Hy word bestempel as “die gewildste spanningsverhaalskrywer in Afrikaans”, maar Deon Meyer gaan van vandeesmaand af nie net misdaadfiksie-boekverslaafdes op die punte van hul stoele hou nie, hy gaan kykers na verwagting ook vasgenael voor die kassie hou.

Meyer se blitsverkoper Spoor, oftewel Trackers, is verwerk in ʼn Engelse televisiereeks vir M-Net en net soos sy veelbekroonde boeke, beloof dit om van wêreldgehalte te wees. Meyer was ook al verantwoordelik vir die draaiboeke van Jakhalsdans, Die laaste tango, Die ballade van Robbie de Wee en Jagveld.

Hy was nou betrokke by die draaiboekontwikkeling vir Trackers en ʼn span van ses skrywers het – ná talle dinkskrums – uiteindelik verseker dat die draaiboek ʼn uitstekende visuele verhaal vertel. Die Britse skrywer Robert Thorogood (bekend vir reekse soos Death in Paradise) was die hoofdraaiboekskrywer.

“As die draaiboek goed is, is dit baie moeilik om van daar af ʼn blaps te maak. Dit is wonderlike mense wat uitstekende werk met die reeks gedoen het.”

Hy sê dit is ʼn ingewikkelde proses om ʼn boek in ʼn draaiboek te omskep, omdat die storie nie eenvoudig net so gebruik kan word nie. Daar is byvoorbeeld net ʼn paar episodes en boonop ʼn streng begroting waarby die span moes hou.

Meyer sê uiteindelik is ʼn boek en ʼn reeks twee afsonderlike stukke werk. Die eise, uitdagings en behoeftes van ʼn televisiereeks moet in ag geneem word en die storie word daarvolgens aangepas.

“Dit kán nié presies soos die boek wees nie,” sê Meyer.

En selfs al hét ʼn kyker die boek gelees, gaan daar steeds heelwat verrassings wees, beloof hy.

“Daar gaan ʼn paar baie groot kinkels wees.”

Bekende Suid-Afrikaanse akteurs soos Ed Stoppard, Rolanda Marais, James Alexander en Thapelo Mokoena is in die reeks te sien en Meyer sê sy karakters het lewend geword danksy die rolverdeling. “As jy skryf, sien jy die karakters op ʼn sekere manier in jou kop en die akteurs ís nou vir my die karakters.”

(Foto met vergunning van Deon Meyer.)

Die uiteenlopende Suid-Afrikaanse landskap vorm ʼn groot deel van dié komplekse verhaal van terreur en smokkelary, wat uiteindelik eintlik drie storielyne in een is. “Dit wys Suid-Afrika se wye verskeidenheid mense en kulture.

“Ons het Suid-Afrika absoluut gebruik as ʼn uitstalvenster vir ons natuurskoon en kulture,” sê Meyer.

“Dit is verskriklik mooi.”

Trackers word deur M-Net in samewerking met die Duitse openbare uitsaaier ZDF en Cinemax vervaardig, wat die reeks aan die res van die wêreld gaan bekend stel.

“ʼn Goeie storie is universeel. Iets wat alle lande en tale in gemeen het, is storievertellery. Dít, en die menslikheid van karakters,” sê Meyer.

Hy glo die reeks gaan dus internasionaal ook aanklank vind.

“Ek is geweldig trots op die reeks en ek is dankbaar vir die kans wat M-Net gewaag het.”

Die minireeks vervang die tradisionele Sondagaand-rolprent op M-Net. “Dit ís ʼn risiko, maar dit is soms ook goed om iets nuut te probeer. Ek glo regtig in die reeks. Ek dink mense gaan dit baie geniet.”

Meyer sê hy is in dié stadium reeds besig met werk aan nóg ʼn televisiereeks, maar daaroor kan hy nog nie veel uitlap nie. En dan wag daar ʼn nuwe boek op aanhangers. Al wat hy nog hieroor wil sê, is dat dit ʼn “Bennie-en-Vaughn-storie is…”  Die boek gaan na verwagting oor sowat ʼn jaar op die rakke verskyn.

(Foto: M-Net)

Vir baie Meyer-aanhangers is dit ʼn leeftyd om te wag, maar Meyer sê skryf is, net soos enige ander werk, dikwels harde werk. Hy skerts dat mense dalk soms die idee het dat skrywers wag vir die muse om liefdeswoordjies in hul oor te fluister. “Jy moet sit en die werk doen en soms het jy ʼn goeie dag op kantoor en soms nie.”

Trackers word vanaf 27 Oktober elke Sondagaand om 20:05 op M-Net uitgesaai. Die reeks van vyf episodes gaan ook op DStv Catch Up en ShowMax beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Spook op thaba ·

Hou niks van sy boeke. Hy vloek te veel en gebruik die Here se naam te ydel. Vloek maak beslis nie n boek interessanter of beter nie.

Manna ·

Ek het ook nie van koors gehou dan was daar nog een. Verder is sy boeke baie goed. Stem saam hy het nie nodig om vloekwoorde en Here se naam ydelik te gebruik. Sy storie lyne is baie goed. Baie bly oor nuwe reeks

Hou op Adverteer ·

Liewe Land, Trackers word elke aand minstens 20 keer in n mens se keel afgedruk met verskeie advertensies op MNet . Teen die tyd dat die prent begin, is almal al OP van die hele ding. Tot Deon Meyer besing sy eie lof saam met elke liewe akteur wat n beurt kry om te praat!

Hans ·

Nee wat, Deon Meyer het 1 resep vir al sy stories. Nie moeitewerd nie.

Salamander ·

As sy boeke te rof is vir julle, hou dan maar by julle Mills & Boon

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.