Heidi Mollentze leef twee lewenspassies uit

Heidi Mollentze. (Foto: Verskaf)

As die aktrise en stemkunstenaar Heidi Mollentze nie voor die kamera of agter die mikrofoon besig is om in ʼn karakter se skoene te klim nie, is sy ʼn lewensafrigter wat mense so ver as Latvia help om ʼn nuwe lewenspad uit te kerf.

Sy noem dit skertsend “ʼn dubbel lewe”, in ʼn onderhoud met Maroela Media. Die aktrise het tot onlangs haar verskyning in die kykNET-telenovela Diepe waters as Felicity gemaak.

Haar groot passie is om toneel te speel en stemwerk te doen, maar sy is ook ʼn lewensafrigter, neuro-linguistiese praktisyn en gekwalifiseerde hipnoterapeut.

Heidi was ook sewe jaar lank ʼn lektor in toneelspel by AFDA (Africa Film Drama Art) in Johannesburg, ʼn pos wat sy met oorgawe beklee het.

“Ek is egter so dankbaar ek het die geleentheid gekry om verder te studeer en internasionale kwalifikasies te verwerf,” sê sy.

Heidi het ʼn jaar en ʼn half gelede haar eie sakeonderneming gestig en bied ook kommunikasiewerkswinkels aan. Sy help ook individue met angs en verslawing en mense wat voel hulle sit vas in die lewe en kom nie voor uit nie.

Heidi as Felicity in “Diepe waters”. (Foto: Verskaf)

“Dit is ʼn wonderlike voorreg en eer om mense te kan help. Dit is asof ek ʼn klein deeltjie kan bydra tot ʼn nuwe lewe, en geen geld kan dit koop nie. Ek geniet albei die lewens wat ek lei vir verskillende redes en op verskillende maniere,” sê Heidi, wat al in ʼn legio rolprente, TV-reekse en verhoogproduksies verskyn het.

Heidi is al jare lank in Johannesburg gevestig, maar werk aanlyn met kliënte van reg oor die wêreld, insluitend lande soos Brittanje, Duitsland en selfs Zimbabwe.

Sy skryf die herontdekking van haar passie om ander te help toe aan die pandemie, toe opnames van reekse en rolprente noodgedwonge gestaak en verhoogproduksies gekanselleer is.

“Hoewel die Covid-tydperk moeilik was, het dit my ook die tyd gegee om stil te staan en my drome en visie vir myself te herondersoek.”

Heidi as Felicity in “Diepe waters”. (Foto: Verskaf)

Al is sy ʼn gesoute aktrise, is dit nog steeds vir haar belangrik om deeglike voorbereiding te doen voordat sy ʼn rol vertolk.

“Ek stap nie net die eerste dag op die stel en vertolk bloot die rol nie. Ek bou eers ʼn karakterbybel en doen navorsing om my karakter te bou. Dit is ʼn old school manier om te werk te gaan, maar dit werk vir my soos ʼn bom.

“Ek hou daarvan om met my liggaam, siel en gees ʼn karakter te skep.”

Felicity het drama in Diepe waters veroorsaak toe dit aan die lig gekom het dat Arno en Charity, twee gewilde karakters in die telenovela, haar langverlore kinders is.

Heidi Mollentze. (Foto: Verskaf)

“Op die oog af het sy soos ʼn oppervlakkige karakter gelyk, maar soos wat ek haar leer ken het, het ek besef daar is hartseer en diepte in haar. Vir my as aktrise is dit lekker om so ʼn rol te vertolk – ʼn bietjie lag met ʼn traan,” sê Heidi.

Hoewel Felicity vir eers weer verdwyn het uit die onstuimige lewens van die Diepe waters-karakters, hoop Heidi om weer ʼn draai op dié swem-drama se stel te maak.

“Dit was ʼn gelukkige plek om te werk met ʼn opbouende atmosfeer. ʼn Plek waar jy voel jy het ruimte om te speel en werk. Ek hou duime vas dat Felicity weer haar verskyning sal maak.”

Diepe waters is elke Maandag tot Donderdag om 18:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op CatchUp beskikbaar.

Heidi kan gekontak word by www.heidimollentze.com of 079 815 6305.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.