Hekelnaalde klik teen dalende kwik

Die ATKV Arendsnes-tak se hekelmarathon vind hierdie naweek plaas. (Foto: Verskaf)

Om die koue wintermaande behoorlik in te lui, gaan sowat 1 500 vlytige mense wat kan hekel van reg oor die land eerskomende naweek die hekelnaalde laat klik vir die ATKV Arendsnes-tak aan die Wesrand se unieke hekelmarathon.

Die sogenaamde Hekel Safari Marathon, wat saam met die Maak ʼn Verskil-groep aangebied word, strek oor 30 ure. Deelnemers sal by altesaam 90 venues reg oor Suid-Afrika byeenkom om blokkies ten bate van liefdadigheid te hekel.

Die blokkies word ten tyde van die marathon aanmekaargelas om komberse te maak, wat dan as deel van die winterwarm-projek aan behoeftige mense en instansies uitgedeel word.

Die Arendsnes-tak se voorsitter, Monique Brink, en ondervoorsitter, Leandra van Wyk, dryf die marathon aan.

“Die blink idee van ’n hekelmarathon het in die Arendsnes-tak uitgebroei, waar die lede wissel van 2 maande tot 86 jaar oud,” vertel Brink.

“Ons is een groot laslappiekombers: verskillende persoonlikhede en verskillende patrone, gemaklik deur ons eie kultuur saamgebind.”

Volgens Van Wyk is die tak se hoofdoel nie liefdadigheid nie, maar om taal en kultuur saam met gesinne te geniet as voorbeeld vir die volgende geslagte.

“Ons wil die wanopvatting dat ’n ATKV-tak net ’n klomp ouer mense is wat ter wille van liefdadigheid saamkom, regstel. Ons missie is om positiewe ATKV-lidmaatskap te bevorder onder jonger gesinne – en ons groei weekliks.”

Brink beaam dit. “Ons moes iets anders doen om gemeenskapsbetrokkenheid te bewerkstellig. Iets wat almal saam kan geniet én ’n uitdaging is.”

Die marathon skop op Vrydag 26 Mei om 12:00 af en duur tot Saterdag 27 Mei om 18:00. Een deelnemer moet deurentyd hekel, maar dieselfde persoon hoef nie vir 30 ure aaneen te hekel nie.

“Die Safari-deel dui op die geografiese omvang – dit het in die Wesrand begin en daar is nou al deelnemers so ver as Namibië en Botswana. Dit sal ook lewendig gestroom word sodat mense wat wil saamhekel van oral oor kan inskakel,” verduidelik die organiseerders.

Die blokkies word gehekel om later as komberse aanmekaar te las. (Foto: Verskaf)

Mense wat reeds begin hekel het, kan blokkies en komberse stuur na Somersetstraat 4, Floridapark. Ná die marathon sal die Arendsnes-tak saam met die Maak ’n Verskil-groep die blokkies aanmekaarhekel.

Die ATKV sal na afloop van die marathon landwye behoeftebepalings doen.

Mense wat nie kan hekel nie, kan ook deelneem deur om ’n kombers teen R200 óf die aflewering daarvan teen R100 te borg, of selfs net dubbeldraadwol aan die onderskeie betrokke venues te skenk.

ʼn WhatsApp-groep ter ondersteuning is ook geskep en volgens die organiseerders bruis dit van passievolle mense wat hekel.

“Ons besef hoe gewillig en opgewonde Afrikaans- én Engelssprekende mense wat hekel landwyd is om ’n verskil te maak. Ons het reeds sowat 600 lede op die groep, en sommige is verteenwoordigers van hekelgroepies. Op die groep word ouma-blokkie-idees gedeel, en wol word onder mekaar verdeel en versprei.

“Die mense wat hekel bemoedig en inspireer mekaar. Groepies word in dorpe gevorm deur mense wat na mekaar uitreik en reël om bymekaar te kom vir die marathon.”

Brink beskryf die hekelmarathon-projek as “’n ongelooflike nasionale wonderwerk – ons is dankbaar!”

Die Arendsnes-tak se grootste doelwit is om in kinders te belê, wat moet leer om onbaatsugtig te kan gee en inspireer, sê sy.

“Om in ons kinders te belê, belê ons in ons toekoms. As ons kinders ons voorbeeld sien en saam met ons ’n verskil probeer maak, sal ons ’n verskil in die toekoms sien!”

Om te kan hekel, is ’n vaardigheid en ’n kuns wat stres verminder en kreatiwiteit verhoog, voeg Van Wyk by.

“Dit gee ’n warm gevoel en jy kan dit enige plek en tyd doen. Dit maak ook liefdadigheid en nuwe vriendskappe moontlik.

“Ons hoop hierdie projek sal vir mense in nood ’n verskil maak met komberse wat met liefde, entoesiasme en sorg gehekel en persoonlik oorhandig word.”

Bykomende bron: ATKV

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.