‘Help Jagersfontein se boere’

‘n Troppie skapie in die Jagersfontein-omgewing kort nadat hulle in die slik beland het. (Foto: Dennis Louw)

Dit is byna ’n maand sedert die slikdamramp hom by Jagersfontein in die Vrystaat afgespeel het en die plaaslike boeregemeenskap benodig hulp om die stukke op te tel.

“Die ouens gaan redelik aan. Ons het planne begin maak en die myn help regtig waar hulle kan. Hulle word egter oorval deur klagtes en kan nie by alles uitkom nie,” vertel Albertus van Schalkwyk, voorsitter van die plaaslike boerevereniging.

Die Virseker Trust het R50 000 aan Solidariteit Helpende Hand geskenk wat nou dié geld gaan gebruik om geraakte boere se onmiddellike nood te verlig. Dié boere benodig tans twintig tot veertig 5 000 liter-watertenks, minstens 40 tot 80 waterkrippe, pompe om water na die watertenks en krippe te pomp en kragvoer vir ooie wat tans lam.

Die boeregemeenskap beleef ook ’n tekort aan voer vir vee terwyl draad en boumateriaal benodig word om heinings te herstel wat deur slik platgevee is.

Die nood is groot sedert slik verlede maand oor boere in die omgewing se grond gespoel, groot skade aan infrastruktuur aangerig en grootskaalse veeverliese tot gevolg gehad het. Een boer het 90% van sy vee tydens die ramp verloor.

“Hierdie is ʼn reuse- humanitêre krisis en dis ons voorreg om, danksy die ondersteuning van elkeen van ons polishouers, uit te reik na hierdie gemeenskap en ʼn praktiese verskil te kan maak om mense, wat ʼn lewensbron vir soveel ander skep, weer op hul voete te kry,” sê Riaan Pretorius, woordvoerder van die Virseker Trust.

(Foto: Verskaf)

Kobus Venter, Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder van die Vrystaat, vertel dat slik in dié stadium nog groot stukke landbougrond en weidingsveld bedek. Die slik het ook in die omliggende spruite en Rietrivier ingespoel tot by die Kalkfonteindam.

“Dié water is tans nie geskik vir landbou nie aangesien dit basies net modder is en die boere het groot uitdagings om hulle vee en gewasse van water te voorsien,” verduidelik Venter.

Volgens hom is daar nagenoeg 13 plase wat deur die slik geraak word. “Die slik het nagenoeg 15 km gestoomroller met ʼn wydte van 1,5 km.”

Van Schalkwyk vertel dat die meeste opruimingswerk in dié stadium nog in die dorp geskied om verdere lewensverlies te voorkom. Dit is omdat die kors wat oor die slik gevorm het kan meegee en inwoners, insluitend kinders, daarin kan val.

Venter sê Virseker se skenking sal nou aangewend word om sommige van die nodige toerusting aan boere te skaf. Die maatskappy wil “iets volhoubaar vir die boere neersit wat jare ná die ramp hierdie gemeenskap, sowel as die omliggende gemeenskappe, kan bystaan”.

Pretorius moedig nou ook ander maatskappye en individue aan om dieselfde te doen.

Diegene wat finansiële steun wil bied om broodnodige toerusting vir die boere van Jagersfontein aan te koop, kan ʼn e-pos stuur na [email protected] of skakel 079 488 1964.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miskruier ·

Dagvaar die verantwoordelike party!!die regering is onbevoeg en gee ook nie om nie.

Di ·

DIE myn moet uithaal en wys – HULLE is die oorsaak dat hierdie ramp gebeur het en daarom moet HULLE ALLE boere vergoed vir AL die skade wat hulle gely het. Ons a mede landsburgers kan help sover montlik maar meeste mense in die land sukkel self tans om kop bo water te hou. Die Regering en MYN moet verantwoordelik gehou word want hulle het nie hulle werk gedoen nie

Papsak ·

Myn moet pa staan vir wat daar gebeur het dagvaar hulke want myn in verkeerde se hande hulle kyk nie na sulke goed soos vrot damwalle nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.