‘Help Vrystaat-boere’, pleit TLU SA

Skade op Hennie Roos, ’n boer van die Hoosptad-omgewing, se plaas. (Foto: Verskaf)

TLU SA het Woensdag voorstelle aan die Vrystaatse departement van landbou gestuur om boere by te staan wat grootskaalse skade weens vloede en haelstorms gely het.

Die organisasie versoek onder meer dat landbougemeenskappe wat die swaarste getref is tot rampgebiede verklaar moet word en dat dringende noodhulpgeld beskikbaar gestel word sodat boerderybedrywighede voortgesit kan word.

Maroela Media het vroeër berig dat boere in die omgewing van Hoopstad, Heilbron, Bultfontein, Wesselsbron, Bothaville, Viljoenskroon, Kroonstad en dele van Noordwes veral Dinsdag erge skade gely het en dat ’n misoes talle van hulle in die gesig staar.

“Vloedwater het duisende hektare se oeste tussen Christiana en Hertzogville beskadig en in sekere gevalle vernietig.

“Die skade raak ’n rofweg geskatte gebied van meer as 6 000 ha wat heeltemal vernietig is. Dringende stappe is nodig om die uitwerking van hierdie natuurramp op die boerderygemeenskappe in die geraakte gebiede te verlig,” het Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, in ’n verklaring gesê.

TLU SA het verder versoek dat die finansiële uitwerking en monetêre verlies wat deur die slagoffers van hierdie ramp gely is, bepaal word, asook ’n beroep op die betrokke provinsiale departemente gedoen om vas te stel watter skade aan provinsiale infrastruktuur, soos paaie en ander strategiese netwerke, veroorsaak is.

Die departement word voorts gevra om inisiatief te neem om die stappe deur nie-provinsiale agentskappe soos Eskom te koördineer om strategiese dienste te herstel, asook om hande met TLU SA en ander landbou-agentskappe te vat om lede van die landbousektore by te staan waar nodig.

’n Video wat op Hennie Roos, wat tussen Hoopstad en Hetzogville boer, se plaas geneem is, wys hoe hael en swaar reën grootskaalse verwoesting aanrig.

“Binne ’n paar uur het 110 mm geval; die hael het my mielies en bone kisboude geslaan,” sê Roos.

“Ons het reeds waterskade weens die swaar reën gehad, maar gister [Dinsdag] was die finale spyker in die kis. Nou moet ons wag en kyk wat gebeur. Die planttyd is verby, so ek kan nie weer plant nie. Alles is ook ontoeganklik. Alles is net een groot gemors! Ons kan nie eens naby die lande kom nie, want alles is onder water en die paaie is weggespoel. Ons moet nou eers wag en tyd gee om op die lande te kom om te sien wat ons kan doen. Dalk sal ek kan koring plant, maar alles is onseker …”

Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê daar is permanente skade in groot mieliedistrikte in veral die Vrystaat, maar ook in ander provinsies, soos Noordwes, aangerig.

Skade op Hennie Roos se plaas. (Foto: Verskaf)

Boonop word daar nog reën in dié gebiede voorspel.

“Op kort termyn is daar nog baie reën die komende naweek tot so 15 Januarie. Dan word reën weer vir die laaste week van Januarie en die eerste twee weke van Februarie voorspel. Die kanse vir ’n grootskaalse vloed in die Vaal- en Oranjerivier is dus groot.

“Hoewel daar elke jaar droogtekolle of versuipkolle by droëlande is, is die oppervlakte vanjaar baie groter. Verder is haelskade ook ’n probleem. Saam met die reën in die noordwes-Vrystaat was daar die afgelope 36 uur ook baie hael. Boere kan tans nie genoegsame kunsmis toedien nie, die sonlig is min, versuiptoestande is hoog en in sekere gedeeltes kon daar nie geplant word nie – dit is alles faktore wat bydra tot skade van 10% tot 15%. Nog reën, soos voorspel, gaan dit erger maak. Water wat staan, kan veesiektes ook erg laat toeneem,” sê Van den Berg.

Enigiemand wat meer inligting verlang of ’n bydrae tot die traumafonds wil maak om die geraakte boere te help, kan TLU SA se webblad besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Julius ·

Ons dankgebede vir die reën word nou weggeklap van die wat nog nie reën gehad het nie. Waarvoor gaan ons op ons knië?

Yvonne ·

Here so kom kniel ons voor U Hoe reg….dankie Here dat U ook genade betoon…Amen

Alexander ·

Mens hoor altyd die boere kry swaar, maar mens sien dit selde, of ons interpreteer swaar kry anders.

Patches ·

As iemand wat self op ‘n plaas grootgeword het , besef ek , om boer te wees is nie maklik nie. Te min reen , geen oes en geen inkomste nie. Te veel reen en weer geen of swak oes en min of geen inkomste nie. Boere is uitgelewer aan die natuur vir daardie fyn balans van ” net genoeg water en son”. En dit is maar baie eenvoudig gestel. Vir die van julle wat vasbyt en deurdruk , baie dankie vir julle en julle span werkers want sonder julle het ek nie kos op my tafel nie.

Blue eye ·

Ons kan nie se ons voel dit saam die boere nie, maar as n Suid Afrikaner bloei ons harte saam met die boere van ons land. By elke donker wolkie is daar n silwer randjie en ons moet vas staan en sterk staan agter elke boer van ons land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.