Helpende Hand stel Gemeenskapsherstelplan bekend

hannes-noeth-hh

Hannes Noëth is die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. Foto: Verskaf.

Die welsynsorganisasie Solidariteit Helpende Hand stel vandag sy Gemeenskapsherstelplan bekend as deel van die Solidariteit Beweging se Werkherstelprogram.

Solidariteit Helpende Hand wil maatskaplike gebaseerde gemeenskapsontwikkeling in gemeenskappe bevorder deur volhoubare ontwikkelingsprogramme en -projekte, opleiding, netwerkvorming en hulpbron-ontginning, sodat die mens deur sy en haar gemeenskap tot ’n ontwikkelde, selfstandige, selfverantwoordelike en optimale funksionerende persoon gedryf word, wat gesonde, funksionerende gemeenskappe tot gevolg het. Die uitkoms moet ’n toekoms wees waarin die Afrikaner-kultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap, vry, veilig en voorspoedig kan wees.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, verduidelik die Gemeenskapsherstelplan fokus op maatskaplike gebaseerde gemeenskapsontwikkeling, en spesifiek op welstand binne die Werkherstelprogram wat verlede week van stapel gestuur is.

“Solidariteit Helpende Hand wil deur maatskaplike gebaseerde gemeenskapsontwikkeling die ontwikkeling van die individu in sy gemeenskap en die ontwikkeling van die gemeenskap as geheel bevorder.”

Noëth sê Afrikaner-gemeenskappe het ’n herstelplan nodig vir kwesbare groepe, vir die Covid-19-gekneusdes en vir die onsekerheid en die angs wat daar mag bestaan.

“Elkeen van Helpende Hand se afdelings verbind ons om by te dra tot strukture wat self ’n verskil maak, wat nie wag vir die staat nie. Ons weet dit is uitdagend, maar ons moet iewers begin en ons wil.”

Noëth sê die afgelope maande het Helpende Hand soos duisende ander organisasies die gemeenskap help dra. Helpende Hand het meer as 22 000 gesinne en meer as 2 000 instansies ondersteun.

Meer as 25 ton wildsvleis is ingesamel en aan behoeftiges uitgedeel. Sowat R30 miljoen is in dieselfde tyd aan studentelenings bestee en maatskaplike werkers in verskeie streke is ontplooi om te bepaal waar die grootste nood is. Terselfdertyd het Helpende Hand strukture ontwikkel met die oog op ’n “helpmekaar-toekoms”, want Helpende Hand glo volhoubaarheid is wesenlik “om vorentoe te gaan”.

“Daar is drie kernpunte van die Gemeenskapsherstelplan: maatskaplike ondersteuning aan die individu en gemeenskap, daar wees vir die gemeenskap deur die gemeenskap, en laastens die ontwikkeling, opheffing en opleiding van gemeenskapslede.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê die beweging het die Covid-19-krisis sterk binnegegaan.

“Solidariteit Helpende Hand was in besonder aan die voorpunt tydens die krisis en het ’n leidende rol gespeel om die nood van duisende mense en instellings te verlig. Die beweging se krisisfonds het ’n reuserol in hierdie tyd gespeel.

“Die personeel en vrywilligers het ’n bomenslike taak in baie moeilike omstandighede verrig om praktiese hoop aan mense te gee. Hoewel Solidariteit Helpende Hand se fokus tydens die krisis op die verligting van armoede was, skuif dit ná Covid-19 na opheffing deur maatskaplike gebaseerde gemeenskapsontwikkeling.”

Buys sê daarom is die doel om mense te help om hulself te help. “Hierdie strategie word ook uitgebeeld in Helpende Hand se embleem – dit is nie ’n bedelhand nie, en ook nie ’n gebalde vuis nie. Dit is ’n helpende hand. Eerstens gerig op kwesbare groepe soos ouer mense, kinders en mense met gestremdhede. Tweedens is die klem op volhoubare voorkoming en verbreking van maatskaplike problematiek, waar opleiding ’n belangrike rol speel. Mense se vlakke van opleiding bepaal hul vlakke van inkomste, en daarom bly opleiding en opvoeding die beste belegging wat daar is. Dit is die kragtigste enjin van voorspoed en vorm deel van ’n omvattende maatskaplike ontwikkelingstrategie.”

Klik hier om die volledige Gemeenskapsherstelplan af te laai of besoek www.helpendehand.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.