Helpende Hand stel multimiljoen studiehulpskema bekend

Stefan Pieterse, is die hoof van Helpende Hand se Studiefondssentrum. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS) het Maandag aangekondig hy sal studiehulp van R48 miljoen vir Afrikaanse studente vir 2021 beskikbaar stel.

“Ons lewe in tye wat groter krisisse bied en daarom moet oplossings vir dié krisisse groter wees,” het Stefan Pieterse, hoof van die SFS, tydens ʼn mediakonferensie by Helpende Hand se hoofkantoor in Centurion gesê.

“In 2009 kon ons studiehulp ter waarde van R984 000 met die hulp van ons skenkers, die publiek en die sakewêreld aan behoeftige studente toeken. Vanjaar kan ons met trots aankondig dat die SFS altesaam R48 miljoen se studiehulp beskikbaar kan stel.

“Daarmee kan ons 1 200 jong mense help om by geakkrediteerde tersiêre instellings met ʼn rentevrye studielening te gaan studeer.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en die ekonoom Dawie Roodt het tydens die konferensie benadruk hoe belangrik tersiêre opleiding is. Hulle was dit eens dat ʼn naskoolse kwalifikasie die beste belegging vir ʼn jong mens se toekoms is.

Buys het ook benadruk dat die studiehulp sonder enige staatsfinansiering gedoen word. “Die SFS het groter donateurs en help om trusts te bestuur maar 90% van die studiehulp word gefinansier uit projekte wat Helpende Hand se takke aanpak soos tweedehandse winkels, onder meer Ons Winkel.

“Dit is ʼn wonderlike manier vir die gemeenskap om op grondvlak betrokke te raak en te help om ʼn student verder te laat studeer,” het Buys gesê.

Pieterse het voorts gesê die Solidariteit Navorsingsinstituut het in 2018 bevind dat 20% van jong Afrikaners die skool sonder matriek verlaat. Slegs 27% van Afrikaner-kinders gaan universiteit toe en 73% van hulle sal nooit ʼn universiteitskwalifikasie verwerf nie.

Uit navorsing wat die SFS self in 2020 onder 480 van sy afgestudeerde gedoen het blyk dit dat 71% van ongekwalifiseerde jong mense tussen R0 en R10 000 per maand verdien.

“ʼn Jong mens se kans om meer as R25 000 per maand te verdien is slegs 1% as jy nie oor ʼn tersiêre kwalifikasie beskik nie. Wat werk betref, kry 86% van jong gekwalifiseerde mense ʼn werk. Sowat 71% van gekwalifiseerde jong mense verdien tussen R10 000 en R25 000 per maand.”

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, het die Studiefondssentrum reeds 6 300 studente oor die afgelope 12 jaar van sy bestaan gehelp. (Foto: Verskaf)

Pieterse het genoem dat SFS reeds 6 300 studente oor die afgelope 12 jaar van sy bestaan kon help. Verder is sowat 200 bestaande studiefondse en nagenoeg R245 miljoen se lenings tot dusver uitbetaal.

“Ons is baie dankbaar vir elke skenking wat studiehulp moontlik maak. Die statistieke spreek van die vertroue wat die publiek en korporatiewe Suid-Afrika in Helpend Hand stel om armoede deur opleiding te verbreek.

“Terwyl ons baie dankbaar is vir elke skenker se bydrae wat hierdie mylpaal moontlik gemaak het, gaan ons harte ook uit na die sowat 800 studente aan wie ons nie hulp kon bied nie. Daar is bloot net nie genoeg geld nie. Ons bly dus afhanklik van ons skenkers om nog meer jong mense te help.”

Die SFS sou nog R30 miljoen kort om die 800 studente se studie te help dek.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, het gesê dat die gemeenskap in onseker tye drie dinge kan doen: bakhand staan, vuis in die lug bal oor alles wat hulle toekom of “hand aan die ploeg slaag en die toekomspad wat voor ons lê, ingaan”.

“Helpende Hand se Studiefondsentrum doen laasgenoemde. Ons besef dat ons alles in ons vermoë moet doen om ons kinders in die toekoms te laat glo. Ons moet geleenthede bied. Ons moet dit vir hulle moontlik maak om die toekoms te betree.

“Natuurlik is die nood te veel vir ons om alleen te hanteer, maar so ver ons kan, wil ons graag help en skenk ons hulp.”

  • Die SFS is ʼn platform waardeur skenkers behoeftige studente se studie kan borg, of hulle eie studiefondse stig in ruil vir ʼn belastingvoordeel en die skep van ʼn nalatenskap. Studente wat verder kan studeer maar nie die nodige geld het om dit te doen nie, kan jaarliks tussen 1 Junie en 30 September aansoek vir die daaropvolgende jaar se studiehulp doen. Rentevrye studielenings word toegestaan op die grondslag dat studente wat afstudeer slegs dit terugbetaal wat hulle geleen het. Hierdie geld word dan weer gebruik om die volgende behoeftige studente se studie moontlik te maak. Besoek Helpende Hand se webwerf hier om meer inligting oor die Studiefondssentrum te kry.

Studiehulp van Helpende Hand se Studiefondssentrum het May-Li Swanepoel, tans ʼn finalejaarstudent aan Akademia, se studies moontlik gemaak. Sy het Maroela Media gesels oor die droom wat vir haar bewaarheid is, hoe sy ook nou self terugploeg in haar gemeenskap en vertel daar is altyd rede om te droom. Luister hier hoe Swanepoel vertel:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Steve ·

Respek. Puik. Staan op vir ons eie mense teen die korrupte anc

Frieda ·

Dit is ‘n ligpunt vir voornemende studente en ook ‘n aanmoediging om goed te doen op skool.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.