Hennenman-plaasmoord: Een verdagte in hof, een vrygelaat

Eddie (links) saam met sy ouers, Pieter en Antoinette (Foto: Verskaf)

Een van vier verdagtes wat Vrydag in hegtenis geneem is in verband met die plaasmoord op Pieter Hills (56) en die aanval op sy seun, het Maandag vlugtig in die landdroshof in die dorp verskyn.

Pieter is einde verlede week op hul plaas by Hennenman in die Vrystaat op teregstellingswyse doodgeskiet en sy seun, Eddie (26), is in die nek geskiet nadat hulle in hul plaashuis aangeval is.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die verdagte, Tshidiso Patrick Bochedi (36), het in die hof verskyn op aanklag van sameswering om moord te pleeg, poging tot moord en huisroof.

Hy bly in aanhouding tot hy weer eerskomende Maandag in die hof sal verskyn om sy aansoek om borgtog te begin.

Schalk van der Merwe, die nasionale voorsitter van die Nasionale Konserwatiewe Party en regskenner, het die hofverrigtinge Maandag bygewoon en gesê Bochedi het om regshulp aansoek gedoen. Hy het aangedui dat hy aansoek om borgtog sal wil doen.

Van die inwoners het die oggend voor die hofverrigtinge by die dorp se veilingskrale byeengekom (Foto: Schalk van der Merwe, Facebook)

“Die staat het egter reeds aangedui dat hy die borgtogaansoek gaan teenstaan omdat dit ’n skedule ses-oortreding is en in ’n baie ernstige lig beskou word,” sê Van der Merwe.

Makhele sê die tweede verdagte sal na verwagting Woensdag in dieselfde hof verskyn, terwyl die derde een vrygelaat is nadat sy nie positief met die misdaad verbind kon word nie.

Daar was streng polisieteenwoordigheid voor die hof (Foto: Schalk van der Merwe, Facebook)

Die vierde verdagte is Saterdag vroegoggend dood in ʼn polisiesel gevind nadat hy homself gehang het.

“Die ondersoek duur voort en nog inhegtenisnemings kan verwag word. Ons kan in hierdie stadium nie bevestig hoeveel verdagtes nog in hegtenis geneem moet word nie,” volgens Makhele.

Van der Merwe en nog verteenwoordigers van die gemeenskap het Maandagoggend die aanklaer genader om ‘n klag van terrorisme tot die klagstaat te voeg. Hulle is aangesê om vertoë aan die direkteur van openbare vervolging te rig.

“Dit was stil en rustig by die hof en daar was ’n streng polisieteenwoordigheid. Ons het met die polisie vergader om te verseker dat vrede gehandhaaf word,” sê Van der Merwe.

Van die inwoners het die oggend voor die hofverrigtinge by die dorp se veilingskrale byeengekom.

Eddie lê tans in die Milpark-hospitaal in Johannesburg en het Sondagaand ’n terugslag gehad. Vriende en familie het mense gevra om vir hom te bid met sy toestand wat teen Maandagoggend steeds onveranderd was.

Eddie en sy vriendin, Marizanè du Plessis (Foto: Facebook)

Eddie het glo op die aanval afgekom toe hy by die huis op hul plaas Zwartpan aangekom het.

ʼn Werker van die gesin het Vrydag omstreeks 05:00 op die pa en seun in die plaashuis afgekom nadat die boer se vrou, Antoinette, haar gebel en gevra het om ondersoek in te stel. Sy was nie tuis ten tyde van die aanval nie en kon hulle nie in die hande kry nie waarna sy die werker genader het.

Die werker het met familie van die slagoffers kontak gemaak waarna die polisie na die plaas ontbied is. Daar word vermoed dat een of twee vuurwapens in die aanval gesteel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Deon ·

En so kook die pot, en die paddas sit geduldig en wag hul beurt af

Gert Johannes ·

so reg soos ‘n roer, word nie wakker nie. Dooie in die sel, is polisie betrokke???

Persheks Adri ·

Kyk die klagstaat nie eers moord nie net poging tot moord, huisroof en sameswering vir moord. Die pa is dan oorlede… Sinnelose moorde en aanvalle teen ons dankie ANC en EFF

Swerkater ·

Die een wat homself gehang het sal seker al die blaam kry… Lieflike regsisteem van ons.

Trotse Boervrou ·

Mense moet gereed maak. Anargie is reeds aan die orde van die dag. Dit gaan nou net erger raak. Moenie onkant betrap word nie. Daar is nie meer omdraai nie.

johanf ·

Ons bid vir jou Eddie, jou Moeder en Marizané, en naasbestaandes, mag God se Hand oor julle wees…..

Trotse Boervrou ·

En ons bid vir Eddie. Mag God sy hand vashou en hierdie lydingsbeker by hom verby laat gaan. Byt asb vas Eddie.

Swerkater ·

Die derde verdagte is vrygelaat ….. nadat sy nie positief met die moord verbind kon word nie? Lees ek reg?

Yvonne ·

Here ons bid vir die familie vir troos…dat U Genesende Hand oor Eddie uitgestrek sal wees…in Jesus naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.