Hernieude ‘alkoholverbod’ was nie eens op agenda – minister

Minister in die presidensie, Jackson Mthembu. (Foto: GCIS)

Besprekings oor ʼn hernieude drankverbod tydens die afsonderingstydperk was nie eens op die nasionale koronavirusbevelraad óf die kabinet se agenda nie. Dít volgens die minister in die presidensie, Jackson Mthembu, wat Donderdag terugvoer oor Woensdag se kabinetsvergadering gegee het.

Mthembu sê die regering het kort na die vergadering gehoor dat daar diegene is wat die “publiek mislei” oor ʼn moontlike hernieude verbod. “As daar nou iets is wat ʼn klassieke voorbeeld van fopnuus is, dan was dit hierdie een,” het Mthembu gesê.

“Daar was beslis nie so ʼn bespreking nie en daar is tans ook nie enige bespreking daaroor deur die kabinet of die bevelsraad nie,” het Mthembu gesê.

Talle Suid-Afrikaners het vroeër vandeesweek na drankwinkels gestroom nadat fopnuusberigte oor ʼn hernieude verbod soos ʼn veldbrand versprei het.

Suid-Afrikaners wou oënskynlik geen kanse waag nie en het blitsig hul yskaste begin opvul. (Foto: Maroela Media)

Mthembu het in antwoord op ʼn vraag oor die moontlike vervolging van die persoon wat die fopnuus versprei het, gesê dit word in wetstoepassingsowerhede se hande gelaat. “Hulle het die vermoë om fopnuusverspreiders vas te vat.”

Die kabinet het ook weer eens die versekering gegee dat hy sy steun aan wetstoepassingsowerhede gee wat die vlaag korrupsie met die regering se aankoop van veral persoonlike beskermingstoerusting (PPE’s) moet ondersoek.

“Diegene wat betrek word sal swaar gestraf word en die geld wat gewetenlose maatskappye en indiwidue van die staat gesteel het deur die prys van PPE’s te verhoog, sal teruggekry word,” het Mthembu gesê.

Hy sê die kabinet is tevrede met die werk wat die ministeriële komitee tot dusver gedoen het om inligting oor tenders vir staatsdepartemente en staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) aan die publiek beskikbaar te stel. Die inligting is reeds op die tesourie se webwerf beskikbaar. Hy het ook weer benadruk dat dié komitee nie die magte of mandaat het om korrupsie te ondersoek nie.

Besonderhede oor sommige van die tenders is reeds op die tesourie se webblad beskikbaar.

“Die vlaag korrupsie, wat na vore kom in die blatante diefstal en plundery van staatshulpbronne, is die grootste maatskaplike kanker en kan openbare vertroue in die regering se pogings om mense se lewe te verbeter, beduidend ondermyn.

“Die kabinet veroordeel die enige korrupsie ten sterkste en is vol vertroue dat alle oortreders eindelik sonder vrees of guns vervolg sal word.”

Die kabinet het ook ʼn opleidingsprogram vir kabinetslede en senior bestuurders in die staatsdiens goedgekeur.

“Jy is nooit te oud of te wys om verder te leer nie. Die regering het gestem dat ons almal terugkeer skool toe,” het Mtembu gesê.

Die minister sê die regering word telkens daarvan beskuldig dat hy goeie planne beraam en beleid opstel, maar struikel wanneer dié planne in werking gestel moet word.

“Ons hoop die opleidingsprogram gaan help om dié onvermoë om goeie beleid in werking te stel – en mense gevolglik van dienslewering beroof – reg te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

wim ·

Wat my betref behoort mense wat sulke snert optower aangekla te word (en vervolgens mense wat dit aanstuur sommer ook).

Ons buurt se WhatsApp groep het iets gehad in July dat alle hospitale in Johannesburg vol was. Nadat ek die persoon reggehelp het met skakels na die hospitale se webblaaie, het hy sommer 2 dae later ander gemors gestuur oor ‘n ander onderwerp.

Die hele rede dat ons almal in hierdie reuse ekonomiese gemors sit is as gevolg van paniek. Paniek sit druk op regerings, wat probeer punte koop dat hul omgee, en dit is waar inperking momentum gekry het.

Hierdie WhatsApps dien geen doel nie, maak nie saak wie dit stuur nie. Of dit ‘n nuwe vlaag hondediefstalle is, of wat ook al.

Gawie ·

Ons het ‘n eenvoudige reël op ons buurt se WA-groepe – as jy nie kan bewys lewer van die oorsprong van ‘n storie nie (koerantberig, staatskoerant ens), mag jy dit nie plaas nie. Sou jy dit wel doen, word jy dadelik versoek om dit te verwyder, so nie word jyself verwyder. Dit het fopnuus baie gou stopgesit.

Prikkie ·

Julle kon in hoeveel jaar nie vir Jakob Zuma vasvat nie…?

johanf ·

Jip, nooit te oud om iets te leer nie……as jy wil, by gesê…….

Marius ·

Julle sal ook enige iets se net om die volk sag te maak , net jammer almal val nie daarvoor nie . Jammer maar ek glo nie n woord wat die regering se nie en vat dit dag vir dag .

Adeline ·

Wel my mening na 4 maande se nuus wat ek elke dag lees – wonner ek ernstig of “fopnuus” nou eintlik nie die waarheid is as dit by die voos vrot cANCer regering en al sy vertakkinge landwyd betrekking het nie – die werklike korrupsie is buite beheer en jy kan nie grootmense wat in verantwoordelike poste staan “leer” nie – hulle moet daar wees juis oor die uitstekende verantwoordelike lewe wat hulle uitoefen. Volgens my is hierdie land in totale gaos en niemand doen iets hieromtrent nie en die wat wel doen se dade verdwyn soos mis voor die son.

Lizelle ·

Ek het al gewonder of dit nie dalk ‘n eienaar van ‘n drankwinkel was wat die nuus versprei het nie. In een dag sal sy besigheid vinniger geld maak as in ‘n week. Soos ek sê….. wonder maar net.

My siening ·

As die ANC iets sê is dit ook fop nuus want oor alles lieg hulle, so wie moet ons glo!!????

Moedeloos ·

Fopnuus het met onmiddelike effek baie goeie reaksie gekry

Jdb ·

Mense sou nie so reageer as Ramaruggraatloos net eerlik was tot nou toe nie. Hy en Kopdoek het mos die gewoonte ontwikkel om snags beperkinge uit te vaardig wat dan teen middernag in werking tree. Voor die vorige nagtelik uitgevaardigde drankverbod het die regering ook ontken dat ‘n verbod weer ingestel sou word.
Mens word net een maal met so ‘n slap riem gevang.
Wat maak dit saak dat mense gaan drank koop het? WAT. MAAK. DIT. SAAK?
Niemand forseer enigiemand om al hul drank in een dag, een week of een maand op te drink nie? Drank het mos ‘n baie lang raklewe!
Tree liewer oor die algemeen sterker op teen dronklappe.

Michael ·

Steeds is daar mense wat hulle aan WhatsApp voicenotes van ‘betroubare bronne’ steur. Nie een van die betroubare bronne het geweet dat als ‘n maand of so terug weer gestop sou word nie.

Tong in die kies ·

Waar daar ‘n rokie is, is daar gewoontlik ‘n vuurtjie.
Moet nie verbaas wees as kopdoek ter elfde ure besluit haar drankvoorraad op die ondergrondse mark is genoeg gestock en nou kan sy weer die drankwinkels sluit.

Andre ·

Met uitsprake wat so lagwekkend is wonder ek of daar enige fopnuus kan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.