Hernude oproepe vir ondersoek na parlementêre sekretaris se salaris

Xolile George (Foto: Parliament of South Africa)

Die DA het ʼn mosie ingedien vir ʼn amptelike ondersoek na die salaris van Xolile George, parlementêre sekretaris.

Siviwe Gwarube, DA-LP en hoofsweep van die party, sê dié mosie kom nadat die voorsitters van die komitee die saak vertraag het en dit in wese onder die mat probeer invee het.

George se salaris is luidens berigte kort ná sy aanstelling met bykans 70% opgestoot; van R2,6 miljoen tot R4,4 miljoen.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, destydse speaker van die Nasionale Vergadering, is onder verdenking vir haar betrokkenheid by dié beweerde onregmatige verhoging. Die speaker en Nasionale Raad van Provinsies se voorsitter (destyds Nkosiyakhe Masondo) vorm die uitvoerende gesag.

George se vergoedingspakket is glo deur hulle, as uitvoerende gesag, verhoog.

Gwarube sê die DA het die parlement se gesamentlike staande komitee oor finansiële bestuur genader om die saak te ondersoek, maar nadat die voorsittende beamptes die kwessie “uitgerek en uiteindelik onder die mat ingevee het”, is die staande komitee genader.

Sy sê ondanks ʼn senior advokaat wat deur die parlement aangestel is en wat bevestig het dat Mapisa-Nqakula en Masondo verantwoording moet doen, het hulle die regsadvies geïgnoreer en ná Mapisa-Nqakula se bedanking besluit om nie die saak verder te voer nie.

Die DA het ʼn klagte by die komitee oor magte en voorregte ingedien om die beweerde aandadigheid van Mapisa-Nqakula te ondersoek, en ’n soortgelyke klagte by die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) om Masondo te ondersoek.

Die DA vra vir die samestelling van ʼn ad hoc-komitee om die kwessie deeglik te ondersoek.

Gwarube sê die feite oor die salarisverhoging is vaag en vrae bly onbeantwoord.

“Hoekom word [George] ʼn salaris toegeken wat 70% hoër is as wat op die webwerf geadverteer is en wat is in die parlement voorgelê? Watter regstellende stappe bly oor? Wie moet verantwoordelik gehou word vir die misleiding van die parlement?” vra sy.

George, wie se salarisaanpassing destyds stil-stil gedoen is, het in ʼn stadium ʼn groter salaris as pres. Cyril Ramaphosa verdien.

“Die DA sal nie rus totdat hierdie vrae beantwoord is nie. Die adjunkspeaker en voorsitter van die NRP kan besluit om die komitee saam te stel en te verseker hy dien die verslag in voor die parlementêre termyn op 21 Mei verstryk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Christine ·

Sal nie verbaas wees as gunslone betrokke is baantjies vir booties
Ondersoek dit deeglik asb DA

Papsak ·

Asb DA vatvas ondersoek saak deeglik wat wil hy met so groot salaris maak masr kyk hoe kyk alles seker daar waar gelde heen gaan dit maak sin??????

Aggie ·

Dankie DA, byt vas hier en dwing verantwoordelikheid af. Ek is keelvol van al die bedrog en belasting wat ek moet betaal. Hoekom is die ander lede van die Pakt stil? Daar moet mos nou druk gebou word!!

Gert ·

Onthou dit is ons belasting geld wat die salarisse finansier.

SjN ·

Daar is ander kaders betrokke wat maandeliks deel in die buitesporige vergoeding, ondersoek maar net verder.

Cassie Carstens ·

Hoe kan ‘n werker meer as sy senior verdien? Net in ‘n ANC geleide Suid Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.