Herstel van SA toerismebedryf nog té stadig

Fedhasa sê veel meer moet gedoen word om die plaaslike toerismebedryf se herstel te versnel. (Foto: Maroela Media)

Die algehele inkomste vir hotelle, gastehuise en verblyfplekke soos lodges en selfsorgeenhede in Suid-Afrika neem stadig aan toe, maar is steeds laer as dié soos weerspieël in die syfers vir 2019.

Syfers wys die gemiddelde inkomste per oornageenheid wat in Julie vanjaar verdien is, is effens hoër as dié wat in Julie 2019, voor die uitbreking van die Covid-19-pandemie, aangeteken is.

Die algehele inkomste vir Julie vanjaar is ook net 4% minder as dié van die Julie 2019-vlak.

“Wanneer ons die Julie-syfers in verskillende soorte verblyf opdeel, kan ons sien dat akkommodasie wat as ‘ander’ geklassifiseer word, soos lodges, BnB’s en selfsorgeenhede, aan die voorpunt is. Dit het byna 26% meer inkomste in Julie vanjaar in vergelyking met Julie 2019 behaal,” sê Rosemary Anderson, nasionale voorsitter van die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa).

“Hierdie soort verblyf het vanjaar deurlopend ander soorte verblyf in terme van herstel uitgestof.”

Fedhasa sê egter meer moet gedoen word om die herstel van die land se gasvryheidsbedryf te versnel.

Syfers van Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) wys dat die algehele inkomste vir die hotelbedryf in Julie vanjaar 14% laer was as die algehele inkomste in Julie 2019. Okkupasiesyfers staan tans boonop op 35,6%, in vergelyking met die 47,3% waar dit voor die pandemie gestaan het.

Syfers van die dataintelligensiemaatskappy STR plaas totale okkupasie in die hotelverblyf in Julie egter hoër, op 53,3%.

“Die herstel in die akkommodasiesektor word gedryf deur die vyf- en driestermark, indien daar na okkupasie gekyk word,” sê Anderson.

Provinsies soos Limpopo en KwaZulu-Natal was in Julie aan die voorpunt, hoewel ʼn provinsie soos die Wes-Kaap, wat nou in sy minder besige seisoen is, die prentjie moontlik later kan verander.

Toerismesyfers vir Julie bevestig dat die land nog ver agter 2019-vlakke is. Europa is ʼn sleutelmark vir die Suid-Afrikaanse toerismebedryf, maar besoekers uit dié gebied is steeds 36% minder as wat dit in 2019 was. Die grootste agterstande is vir besoekers uit Frankryk (-45%), Duitsland (-43,9%), Italië (-42,5%) en Nederland (-40,7%).

ʼn Gekoördineerde en gefokusde benadering is nou nodig om die herstel van die plaaslike bedryf te versnel, veral met die piekseisoen op hande. (Foto: Christel Cornelissen)

ʼn Land soos Kenia het reeds heelwat ingehaal en syfers wys Kenia se herstel plaas hom nou op 15% laer as in dieselfde tyd in 2019. Dít terwyl Suid-Afrika se syfer steeds 40% laer is as in 2019.

Anderson sê die Amerikaanse mark dryf in hierdie stadium Suid-Afrika se herstel, maar net met 17,5%.

Bykomende vlugte in die somer sal hopelik die mark selfs verder versterk.

Anderson sê ʼn gekoördineerde en gefokusde benadering is nou nodig om die herstel van die plaaslike bedryf te versnel, veral met die piekseisoen op hande. “Suid-Afrika posisioneer hom as ʼn bestemming wat alle ander oortref en dit is juis waarna talle reisigers ná die Covid-19-pandemie op soek is.”

Sy sê die regering se burokratiese rompslomp bly egter ʼn stok in die wiele en dit moet verwyder word sodat die toerisme- en gasvryheidsbedryf die ruimte het wat nodig is om werksgeleenthede te skep.

“Terwyl ons op pad is na een van ons besigste tye van die jaar, het ons die unieke geleentheid om die bestemming op só ʼn manier te bevorder dat ons internasionale besoekers die waarde sien wat Suid-Afrika bied,” sê Anderson.

“Ons moet kyk wat ander bestemmings, soos dié in Oos-Afrika, doen om hul herstel te versnel. Dit is duidelik dat sake soos gewoonlik nie die vinnige groei gaan lewer wat Suid-Afrika en sy ekonomie in hierdie stadium nodig het nie.

“Dit gaan ʼn buitengewone poging en die verbintenis van die private sektor én staat verg om dit te bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Antie Sarie ·

Daar het gastehuise, hotelle ens wat permanent toegemaak het. Menige mense het alles verloor, op so n vlak dat dit onmoontlik is om weer te begin. Maar dit is seker net collateral damage.

Marius ·

Verlaag die brandstof pryse sodat mense kan rond ry en sien daar , die toerismeberdryf sal “BOOM”.
Maar ons regering dink nie so ver nie. Siestog.

Hennie ·

Ek moes gister skel en skree om by OR Tambo uit te kom gister. Nie een van 5 kaartjie masjien het gewerk nie. Ek moes na die “parking ofies” toe gaan om my kaartjie te betaal. Die verskil tussen ‘n toeris en ‘n rasis is ongeveer 10 sekondes.

koos ·

Ek het ‘n maand terug by hulle langtermyn parkering geparkeer. Oppad uit wou hulle my van weet, want die kaartmasjien daar het OOK nie gewerk nie. Na herhaaldelike pogings spel ek toe my van foneties (dis Alpha Bravo Charlie ens). Die bemapte aan die anderkant laat my duidelik weet “I don’t speak that language”. Veiligheidsbeampte se dinges man! Almal wat radios gebruik ken tog die fonetiese alfabet, behalwe in hierdie land.

Stephanus Hendrik ·

Toeriste gaan al hoe minder na Suid-Afrika toe kom. Gevaarlikste land in wêreld. Sal niemand aanmoedig om hierheen te kom.

Pietertjie ·

Dis geen wonder nie: kyk maar hoeveel berigte van moord en doodslag is net die afgelope paar dae, net op Maroela Media. Die regeringsamptenare verantwoordelik vir veiligheid en sekuriteit behoort tronkstraf opgelê te word vir hulle aanspreeklikheid.

gpsa ·

Ironies hoe hierdie artikel volg net na die artikel van die Duitse toeriste wat dood is agv skietery in SA. Wat wil toeriste nog doen is hierdie wonderlike reenboog land? Maar net 60 moorde per dag. Weet nie eers hoeveel kapings en ander ernstige oortredings nie. Laaste plek op aarde wat ek as toeris sal wou besoek.

Delia ·

Doen asb iets aan die misdaad!!!ek sien duitse toerisme se getalle is laag. Nou weer n Duitser vermoor.

Santie Gildenhuys ·

My pleidooi is dat toerismebestemmings in ons pragtige land asseblief bekostigbaar moet wees vir ons eie mense. Sommige oornagtariewe is so hoog dat ‘n mens eintlik wil wakker bly om te sien hoekom.

MK123 ·

Word wakker Anderson. Mense in die buiteland wil nie vakansie hou waar daar nie elektrisiteit is nie. Mense wil nie betaal om te gaan sukkel nie. SA se reputasie gaan hom vooruit in die buiteland. Daar is meer as genoeg ander vakansie bestemmings waar toeriste nie in die donker hoef te sit en vrees vir hulle lewe nie. Totdat die ANC nie verwyder word nie, sal niks in die land verbeter en herstel nie.

Anel ·

Solank as wat daar niks aan die misdaad en beurtkrag gedoen gaan word nie, sal toerisme nie herstel nie.

Christine ·

Ek waarsku al my oorsese vriende dat misdaad hier buite beheer is. Hoekom die kans waag?

Aai ·

Wie wil nou in die donkerte hier sit en wie wil langs ‘n generator vakansie hou in die Kruger Wildtuin?Dit is hoekom @NC

Antie Sarie ·

Snaaks. As kind het ons wildtuin toe gegaan. Gebraai in die aand. Op primus koffie gemaak. By kerslig gekuier of by lampe. As jy uit die beskawing wil uitkom, moet jy nie jou bes doen om die beskawing saam te neem nie.

Jessey ·

Kan nie verstaan hoekom hulle besoekers uit Europa soek nie, hulle wil ons dan almal “huistoe” jaag, terug Europa toe. Nagevolge van baie slegte en nou denkende besluite deur baie nou denkende mense

Miss J ·

Met hierdie land se misdaad en gewelddadigheid sal toerisme nie floreer nie. 3 Plaasmoorde in een week, 2 moorde in Hogsback, Duitse toeris vermoor voor sy vriende en so gaan dit aan en aan!!!!!Solank kill the boer gesing word, polisie optrede vinnig en effektiief is en ons ANC in beheer bly 8s ons gedoem

Antie Sarie ·

Suid Afrika is die bewys n eerste wereldse land kan oornag derde werelds word. Natuurlik fyn beplan.

Louis ·

En dit gaan nie gou beter gaan nie. Daar is weer n duitse toeris doodgeskiet in mapumalanga..

Hermie ·

Met die huidige toename al die grusame moorde van gewone landsburgers en onbesonne aanvalle op en doodskiet van toeriste sal toerisme eerder agteruitgaan as toeneem. Dis tyd dat ons regering nou daadwerklik begin optree om die lafhartige en wreedaardige aanvalle op die burgery te stop.

Marelize ·

Miskien as daar minder van hulle vermoor word sal meer kom.

Stephen ·

Dit is tragies maar word die lewe van n toeris meer geskat as die lewe van n SA Boer wat die mense van die land voed?????
Daar word 50,000 SAR uitgeloof vir inligting om die skurke op te spoor wat die Duitse toeris vermoor het.
Maar nooit n woord van die nuttelose ANC regering wanneer n boer vermoor word!!!
Dit demonstreer net weer die absolute onvermoee om verantwoordelik te regeer.

Niklaas ·

En net die laaste week of drie , was daar erge stakings naby die KNP wat toeriste geteister het. Nou volg die nuus van die arme oorlede Duitse toeris. Moorde is alledaags tans. So, Fedhasa , alle voorspoed en sterkte , maar moenie te optimisties wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.