Heuningfees is vertoonvenster vir byeboerdery

(Foto: Annie Spratt/Unsplash)

Heuning word nie verniet die voedsel van die gode genoem nie – die wonderlike produk is nie net stroopsoet nie, maar boonop gesond en het ʼn wye verskeidenheid van gebruike in kos, drank en gesondheid- en skoonheidsprodukte.

In Rustenburg is daar ʼn groep byeboere wat hulle nou beywer om die Stedelike Bye-gilde landswyd uit te brei. Die gilde se idee is om hulp en ondersteuning te bied aan kleinskaalse beginnerbyeboere en stadbewoners wat met heuning, byewas en propolis (bye-gom) wil boer.

Hennie Oberholzer het van Rustenburg met Maroela Media gesels oor die Heuningfees wat van 21 tot 28 November in dié dorp plaasvind en die kollig op bye en die skoonheid van hulle produkte laat val.

Oberholzer sê die fees is ʼn vertoonvenster vir die verskeie inisiatiewe van die Stedelike Bye-gilde. Belangstellendes sal hier ʼn goeie idee kan kry van wat alles met heuning gedoen kan word.

“Die gilde fokus nog altyd op die verfyning en verwerking van heuning, byewas en propolis, maar as ons die aanbod wil uitbrei, moet daar meer byeboere in stedelike en dorpsgebiede wees. Boonop kan stedelike byeboerdery bydra tot omgewingsbewaring in hul streek, want bye is ʼn uiters noodsaaklike skakel in die bestuiwing van plante.”

(Foto: Amelia Bartlett/Unsplash)

Oberholzer hou voet by stuk dat dit nie net ʼn blote stokperdjie is nie, want hy meen een byekorf kan met min aandag tot 20 kg heuning per jaar lewer. Boonop word 80% van heuning ingevoer na Suid-Afrika, iets wat Oberholzer meen veel eerder plaaslik vervaardig behoort te word.

“Stede met hul residensiële tuine het genoeg weiding reg deur die jaar vir bye. Dit bied die ideale omstandighede, wat beteken hier is tot 90% meer potensiaal vir ʼn volhoubare byeboerdery as in die meeste plattelandse gebiede.”

Hy reken verder dat 20 kg heuning sowat 40 botteltjies heuning kan lewer, wat vir jou ʼn inkomste van meer as R2 400 kan lewer as jy konserwatief R60 per botteltjie sou vra. “As jy dus vyf korwe kan aanhou, kan jy maklik ʼn inkomste van R10 000 haal; so die moontlikhede vir ʼn entrepreneur is daar.”

Maar wat van die mense wat glo bye is gevaarlik?

“Nee wat, as jy bye eers verstaan verdwyn jou ongegronde vrees vir ʼn bysteek,” verduidelik Oberholzer. Hy glo as Parys in Frankryk bye kan aanhou op die dak van ʼn ou stadsaal, kan stadsbewoners gerus hul voorbeeld volg. “ Die meeste munisipaliteitsrade kry veel meer klagtes oor honde as oor bye.”

(Foto: Annie Spratt/Unsplash)

Hy meen dit is ook waar die gilde die mense wat in dorpsgebiede woon kan help om hul bye veilig aan te hou deur hulle toe te rus met die regte kennis om met die klein heuningproduseerders te boer.

Die Heuningfees skop af met ʼn heuningbier (mead) op Saterdag 21 November. Twee restaurante in Rustenburg gaan nege dae lank klante voorstel aan die verskillende drankies wat met heuning gebrou kan word. Daarna kan mense op 27 en 28 November op die feesterrein kom aansluit vir al die pret, vermaak en heuningprodukte van die Heuningfees.

Besoek die Heuningfees se Facebook-blad vir meer inligting of stuur ʼn boodskap per WhatsApp na 076 756 0801.

  • Hennie Oberholzer het met Maroela Media gesels oor die Stedelike Bye-gilde en die Heuningfees wat die gilde van 21 tot 28 November in Rustenburg aanbied. Hy het ook meer vertel oor die produksiepotensiaal van ʼn kleinskaalse byeboerdery in ʼn dorpgebied. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Heuningfees in Rusternburg en ek bly in Kaapstad…..nee man! Wat se lekker Kaapse wyn gaan saam met heuning?

Byekonfyt ·

Seker die suur van ‘n Chenin Blanc en daarmee saam heuning [oor gorgonzola en okkerneute].

Nico ·

Heuing is deel van die natuur, die bye maak nie bottels wyn nie, wyn veroorsaak net probleme en pad sterftes.

Byekonfyt ·

Roekelose gedrag veroorsaak probleme en dies meer. Terloops, die berig gaan nie oor wyn nie.
Sonder bye kan ons nie bestaan nie.

Rudolph ·

‘n By se heuning is net so min vir ons bedoel soos ‘n koei se melk en die ‘gesondheidsvoordele’ is ‘n mite wat gespin word deur produsente organisasies met gevestigde belange. Net soos melk is dit ‘n produk wat vooorspruit uit die mishandeling van ‘n onskuldige, weerlose dier vir menslike gewin. Daar is talle plant-gebaseerde, dierevriendelike alternatiewe beskikbaar as jy voel jy moet gekonsentreerde suiker inneem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.