Hewige opeenhoping van trokke by Lebombo

(Foto: Twitter)

Daar is wéér ʼn ernstige opeenhoping van vragmotors op die N4 naby die Lebombo-grenspos in Mpumalanga.

Dié opeenhoping van honderde vragmotors strek glo vir meer as 20 km tussen Malelane en die grenspos by Komatipoort.

Verkeersopeenhopings is niks nuut vir dié grenspos nie. Mpumalanga Landbou (ML) is egter nou bekommerd oor padgebruikers se veiligheid en die impak wat die opeenhoping van vragmotors moontlik op die gebied se ekonomiese aktiwiteite kan hê.

Robert Davel, uitvoerende hoof van ML, sê volgens sy wete is die grensbeheerbestuursagentskap bewus van die bottelnek by die grenspos en is dié agentskap in gesprek met verteenwoordigers van die plaaslike gemeenskap oor moontlike oplossings.

Davel meen ʼn moontlike korttermynoplossing kan wees om die verkeer saans vanaf 18:00 tot soggens 06:00 te reguleer.

“Dit is wanneer verkeersbeamptes vertrek vir die dag dat vragmotorbestuurders die reg in eie hande neem en ingange blokkeer.

Davel sê ingange van gastehuise, plase en pakhuise word dikwels tydens verkeersopeenhopings geblokkeer. Misdadigers maak ook gebruik van die vragmotors as ʼn versperring vir oortreding op private grond en die steel van vars produkte uit vrugteboorde in die omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.