Hier is Maroela Media se Bruid van 2023

Twané Lutman is Maroela Media se Bruid van die Jaar van 2023. (Foto: Happy Snaps Photography)

Twané Lutman (23) kon haar man van nege maande, Dylan, Maandagoggend verras met die “beste verjaardaggeskenk denkbaar” toe sy die nuus met hom deel dat sy aangewys is as Maroela Media se Bruid van die Jaar van 2023.

Dylan vier vandag sy 26ste verjaardag, en het volgens Twané nog onlangs gesê dit sal nou ʼn “welkome verrassing” wees sou hulle op sy verjaardag ʼn tweede wittebrood met Maroela se Bruid van die Jaar-kompetisie kon wen.

Twané, wat ook as Maroela Media se Herfsbruid 2023 aangewys is, en Dylan is op 27 April verlede jaar by Stable View in Krugersdorp getroud.

Sy vertel aan Maroela Media haar troudag was “alles en nog meer waarvan ek gedroom het.”

“My strooimeisies, ma en skoonma het elke sekonde saam gedeel in die opwinding van die dag,” vertel Twané.

“Ek onthou almal se geklets en gegiggel terwyl grimering en hare gedoen word nog so goed. My ma en hoofstrooimeisie het my gehelp om my rok aan te trek. ʼn Oomblik wat ek vir altyd sal koester, was die onthulling wat ek vir my strooimeisies, pa en boetie gedoen het.

“My pa se reaksie was genoeg om my soos ʼn ware prinses te laat voel. Alles het perfek ten goede meegewerk, en ek kon selfs my droom om ʼn trourok met lang moue te dra bewaarheid aangesien die weer perfek daarvoor was.”

Twané het twee spesiale vakansies ter waarde van R29 330 gewen. Sy en Dylan wen drie nagte vir twee persone wat deel by die Le Franschhoek Hotel & Spa in Franschhoek in die Wes-Kaap (bed-en-ontbyt in die middel van die week) en twee aande vir twee persone wat deel (bed-en-ontbyt) by The Peninsula Hotel in Seepunt, Kaapstad.

“Ons het reeds daarvan begin droom om ons vakansie in die Kaap te verleng, sou ek hierdie prys losslaan. Ek is so opgewonde, want nou kan die regte beplanning begin,” sê Twané, ʼn gr. RR-onderwyseres.

Sy vertel sy en Dylan was bevoorreg om na afloop van hulle troue vir ʼn week lank in Mauritius uit te span, waarna hulle ʼn weeklange toer van Suid-Afrika onderneem het.

“Ons wittebrood het in die Krugerwildtuin geëindig, waar ons vir ʼn paar dae gekampeer het. Dylan het my met die laaste gedeelte van die wittebrood verras.”

Volgens Twané het haar ma haar vir die Maroela Media se Bruid van die Jaar-kompetisie ingeskryf. “Ek het regtig nie gedink ek sal ooit so iets wen nie. Toe ek die Herfsbruid-afdeling wen, het sy gesê: ‘Sien, ek het jou gesê’.

“My ma is die tweede persoon wat ek vanoggend laat weet het dat ek gewen het. Sy is baie ondersteunend en bid al lank vir my hiervoor.”

  • Hou Maroela Media dop vir die 2024 Bruid van die Jaar-kompetisie wat binnekort afskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sê maar net ·

Geluk, Twané en Dylan. Julle is voorwaar die pragtigste! Geniet julle 2de wittebrood!

Althes ·

Jammer maar die meningspeiling hier onder. Daar is jongmans wat op afgeleë plase werk in Amerika – wat beteken hul sal nie fisies kan gaan stem by ñ verkiesingspunt nie – wat van hulle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.