Hier is SA se top-sportskole vir seuns

(Foto: Hilton College/Facebook)

Dit is nie ʼn maklike taak om die land se beste sportskole aan te wys nie. Sport sorg immers grootliks vir ʼn skool se aansien en Suid-Afrikaners is báie passievol oor skolesport.

SA Skolesport het egter weer dié moeilike taak aangepak en vandeesweek sy jongste ranglys van die land se top-sportskole vir seuns bekend gemaak.

Meer as die helfte van die skole op dié gesogte ranglys is boonop Afrikaanse (enkel, dubbel óf parallelmedium) skole.

Heel bo aan die lys is Hilton College in KwaZulu-Natal gevolg deur Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch en daarna King Edward School (KES) in Johannesburg. Die volledige ranglys is hier beskikbaar.

Ongeveer 114 van die 210 skole op die lys is skole waar leerders in Afrikaans kan skoolgaan.

sport grafika sa se top sportskole vir seuns

(Grafika: Tania Heyns/Maroela Media)

Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria verskyn 17de op die ranglys, Hoërskool Garsfontein in Pretoria die 26ste plek en Paarl Gimnasium in die Wes-Kaap in die 27ste.

Bobby McLeod, uitvoerende direkteur van die NWU Super 16-skolesportreeks, sê die rede waarom leerders, oudleerders en ouers só fanaties is oor skolesport is omdat sport skole van mekaar onderskei.

“Dit is ook nou maar so dat ons Suid-Afrikaners daarvan hou om te wen. ’n Ou wil hê sy kind moet beter as die buurman se kind wees.”

Hy sê veral Afrikaanse skole is goed in akademie, daarom is dit die sport wat die koring van die kaf skei.

“’n Ou lees ook een maal ʼn jaar van ʼn skool se matriekuitslae maar dwarsdeur die jaar van die skool se sportuitslae. Veral rugby-uitslae. Suid-Afrikaners is fanaties oor rugby.”

SA Skolesport sê die ranglys – wat al ʼn dekade lank jaarliks opgestel word – is uitsluitlik gebaseer op ses sportsoorte naamlik rugby, krieket, hokkie, waterpolo, sokker en basketbal.

Ander gewilde sportsoorte, waaronder atletiek, tennis en roei, is nie vir die samestelling van die ranglys oorweeg nie, bloot weens die afwesigheid van gevestigde maatstawwe vir evaluering.

Verskeie skole sou dus moontlik hoër posisies op die ranglys behaal, sou hierdie sportsoorte ook oorweeg word.

Grey College in Bloemfontein se rugbyvelde. (Foto: Grey College/Facebook)

Só is ranglys opgestel

Die ranglysproses het ʼn deeglike evaluering van elke skool se prestasie in die finale eerstespanranglys behels.

SA Skolesport sê ʼn “streng ontleding en ʼn genuanseerde ranglysmetodologie” is toegepas om die ranglys op te stel.

“Met die erkenning van die uiteenlopende gewildheid en belangrikheid van sekere sportsoorte het ons ʼn doelbewuste gewigstelsel geïmplementeer om ʼn regverdige voorstelling van elke skool se algehele atletiese vaardigheid te verseker.”

Rugby word erken as die gewildste en mees gespeelde seunskoolsport en het daarom dubbele gewig op die ranglys geniet, ʼn bewys van die beduidende impak daarvan op ʼn skool se aansien.

Weens die aansienlike deelname en belangstelling in krieket, hokkie en sokker is ʼn gewig van 1,5 op hierdie sportsoorte toegepas.

(Foto: Paul Roos Gimnasium/Facebook)

Hoewel daar ʼn groeiende belangstelling in basketbal en waterpolo is, het dié sportsoorte hul oorspronklike waardes behou aangesien baie skole nie aan hierdie sportsoorte deelneem nie of oor beperkte fasiliteite beskik.

SA Skolesport sê die samestelling van hierdie lys is met die grootste erns onderneem “met die klem op ons verbintenis om ʼn betroubare gids vir ouers, leerders en sportentoesiaste te bied”.

“Dit is egter noodsaaklik om te erken dat ons ranglys skole bevoordeel wat konsekwentheid oor alle aangewese sportsoorte getoon het, eerder as dié wat uitblink in ʼn enkele dissipline. Sommige skole het baie in ʼn spesifieke sportsoort uitgeblink, maar het dalk nie oor die algemeen vergelykbare sukses behaal nie.”

Is groter beter?

McLeod sê elke seun hunker daarna om ’n Springbok te word. Elke ouer glo ook in sy hart dat sy kind die beste is en dit kan maak. “Die realiteit van die saak is egter dat die bottelnek so klein is en dat daar eindelik baie min kinders is wat werklik ʼn lewe uit sport kan maak.”

Ouers kyk van buite die skoolgrond na hul kinders se sportaktiwiteite. (Foto: Maroela Media)

Hy sê in die verlede het selfs klein skole Springbokrugbyspelers opgelewer. Hy glo egter dat die sogenaamde groot skole wat jong spelers reeds in gr. 8 lok, vorentoe eindelik die sogenaamde voedingsbronne vir Suid-Afrika se nasionale spanne sal wees.

“Elke ouer probeer hom dus deesdae só posisioneer dat sy kind in die beste moontlike skool is en die beste moontlike kans gebied word om provinsiaal deel te neem. Ek glo egter dat as ʼn ou goed genoeg is, kan hy dit van enige plek af maak.”

McLeod sê dit is ook nie gewaarborg dat ʼn leerder in ʼn sogenaamde groot sportskool eindelik ʼn Springbok of Protea sal word nie. “Dit gaan ook nie waarborg dat jou kind gelukkig is nie,” verduidelik hy.

“Ek sê altyd ʼn gelukkige kind is ʼn kind wat in sy ouerhuis geborge voel en daarom glo ek jy moet gaan na die skool naaste aan jou huis. Indien daardie skool vir jou niks bied nie, kan jy elders kyk.”

Hierdie Afrikaanse (enkel, dubbel of parallelmedium skole) het die top-110 gehaal:

SkoolPosisie op die ranglysGemiddelde bonuspunte:
Paul Roos Gimnasium2104.391
Grey College996.695
Afrikaanse Hoër Seunskool1784.538
Hoërskool Garsfontein2673.388
Paarl Gimnasium2773.194
Hoër Jongenskool Paarl3163.695
Hoërskool Waterkloof3262.891
Helpmekaar Kollege3555.361
Hoërskool Outeniqua3753.107
Hoërskool Durbanville3852.378
Hoërskool Noordheuwel3952.205
Die Hoërskool Menlopark4151.853
Hoërskool Monument4250.665
Die Hoërskool Stellenberg4348.449
Hoër Landbouskool Boland4447.627
Hoërskool Eldoraigne4547.574
Hoërskool Marais Viljoen4936.487
Hoërskool Parel Vallei5036.245
Hoërskool Charlie Hofmeyr5335.998
Hoërskool Framesby5435.600
HTS Drostdy5534.927
Hoërskool Kempton Park5834.153
Hoërskool Bellville5933.703
Hoërskool Nelspruit6033.570
Potchefstroom Gimnasium6133.110
Die Hoërskool DF Malan6232.424
Hoërskool Nico Malan6430.173
Hoërskool Dr. E.G. Jansen6528.864
Die Hoërskool Rustenburg6828.642
Worcester Gymnasium7028.066
Hoërskool Fichardtpark7327.170
Goudveld Hoërskool7426.896
Hoër Landbouskool Oakdale7526.734
Hoërskool Centurion7626.337
Hoërskool Strand7726.328
Pietersburg Hoërskool7826.170
Bethlehem Voortrekker Hoërskool7925.090
Middelburg Hoërskool8024.322
Hoërskool Secunda8123.828
Hoërskool Trio8223.416
Marlow Landbouskool8423.134
Hoërskool Jim Fouché8622.698
Hoër Tegniese skool Daniel Pienaar8822.333
Welkom Gimnasium9022.032
Hoërskool Diamantveld9121.696
Hoërskool Transvalia9221.546
Hoërskool Randburg9420.340
Hoërskool Labori9619.952
Hoër Volkskool Heidelberg9719.944
Ligbron Akademie vir Tegnologie9919.590
Hoërskool Linden10019.544
Hoërskool Hopefield10119.106
Hoërskool Montana10219.029
Hugenote Hoërskool10318.966
Hoërskool Punt10518.336
Hoërskool Zwartkop10618.302
Hoërskool Witteberg10717.970
Midstream College10917.242

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.