Hierdie week se hoogtepunte by die Zondo-kommissie

Adjunkhoofregter Raymond Zondo. (Foto: Nhlanhla Phillips/ANA)

Grootskaalse beweerde korrupsie in KwaZulu-Natal, getuienis oor hoe die Gupta-familie se koerant, The New Age, deur staatsbeheerde ondernemings in stand gehou is en ‘n waarskuwing aan oudpres. Jacob Zuma, was van die hoogtepunte uit die urelange sittings van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping hierdie week.

Maandag, Dinsdag en Woensdag het ‘n forensiese ouditeur van Pricewaterhouse Coopers, Trevor White, getuienis gelewer oor beweerde staatskaping in KwaZulu-Natal.

Dit sluit in hoe ‘n Durbanse sakeman, Thoshan Pillay, tydens die Sokkerwêreldbeker van 2010 kontrakte ter waarde van R47 miljoen bekom het deur na bewering die provinsiale polisiekommissaris, genl. Mmamonnye Ngobeni, om te koop.

Hy het ook meer lig gewerp op die omstrede Amigo-omkoopverhaal wat al tien jaar lank in Suid-Afrikaanse howe afspeel en onder meer sentreer op die sakeman uit Uruguay, Gaston Savoi, se suksesvolle tender om suurstofmaskers en watersuiweringstoerusting aan die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid te verskaf.

Die kontrakte, wat R144 miljoen werd was, het gelei tot die arrestasie van twee magtige voormalige LUR’s in die KwaZulu-Natalse regering, te wete Mike Mabuyakhulu en Peggy Nkonyeni, maar hulle is albei reeds weer vrygelaat.

Donderdag en Vrydag is opgeneem deur getuienis oor staatsbeheerde ondernemings se kaping deur die Gupta-familie. Donderdag het die voormalige raadsvoorsitter van Eskom, Zola Totsi, getuig hoedat die Eskom-raad in 2014, met die uittrede van Brian Dames as hoofamptenaar, besluit het om Steve Lennon as waarnemende hoofamptenaar aan te stel. Ook die destydse minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, het ingestem, het Totsi getuig.

Volgens Totsi het Gigaba hom nietemin ‘n paar maande later uiters ontstoke gebel om te vra hoe hy Lennon kon aanstel, wat ‘n wit man is, en dit net voor die 2014-verkiesing.

Gigaba het aangedring daarop om Lennon te vervang met Collin Matjila, en die minister het volgens Totsi sy sin gekry. Matjila het vervolgens ‘n sleutelrol gespeel om Eskom se borgskap van The New Age se peperduur sake-ontbyte te verseker.

Ook Vrydag het The New Age, wat nie meer bestaan nie, ‘n terugkeer na die kollig gemaak toe ‘n senior kommunikasiekundige by Transnet, Joseph Frank, getuig het hoe Transnet R2 miljoen binne ‘n paar maande bestee het om net ‘n strook aan die bokant van ‘n enkele bladsy in The New Age as advertensie te kry, hoewel die sirkulasiesyfer van The New Age nooit eers geoudit is nie.

Regter Zondo het gedurende die week ook drie belangwekkende aankondigings gemaak. Eerstens het hy aangekondig hy gaan aansoek doen dat die kommissie met sy werk kan voortgaan tot einde Desember. Dit het daartoe gelei dat verskeie belanghebbendes ‘n oproep gedoen het dat hy ‘n tussentydse verslag opstel sodat vervolging van beweerde staatskapers kan begin.

Tweedens het die regter aangekondig dat die staatshoof (tans pres. Cyril Ramaphosa) sal kan besluit of die hele uiteindelike verslag van die kommissie ten volle gepubliseer sal word, of net ten dele.

Derdens het die regter vir oudpres. Jacob Zuma gewaarsku dat die aansoek om hom te dwing om voor die kommissie te verskyn, nog hangende is en dat dit op Zuma se eie risiko is dat hy wegbly – bevindings sal gemaak word op beskikbare getuienis, en dis sy keuse of hy hom teen die bewerings teen hom wil verweer of dit deur sy afwesigheid as gemene saak te laat konstateer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Dries ·

Stem saam jou pj so bly hulle ons geld mors. Dit is die hoe die ANC werk speel vir tyd

Ben Wolmarans ·

Die zondo kommissie lyk my is net daar om die wat bedrog gepleeg het tyd te gee om die geld weg te steek , want niks word gedoen om die skelms te aresteer nie

Maans ·

Die zondo kommissie is n groot klug en oë verblindend. Ten spyte van alles wat bereken is, is dat geen arrestasie gemaak. Stop die kommissie want hulle mors net geld.

John ·

… die regter is na bewering bekend daarvoor dat sake wat voor hom dien stof vergader. Hy moet oppas vir spatare en bloedklonte van die lang sit en luister na stories uit Neverland. Dit kos die land en vlug na Dubai en mediese besoeke na Kuba kan binnekort erg ly.

Swannie ·

Ja-nee, so veer die regter maar net sy eie nessie uit. Hoe langer die “ondersoeke”na staatskaping duur, hoe meer betalend is dit vir hom.

Hoor vreeslik baie stories deur getuies, maar bitter min bewyse.

Het op radio gehoor hy wil aansoek doen dat die tydperk verleng word na 31 Desember 2020. Regtig ? En dit terwyl die Kommissie dan alreeds lankal hul werksaamhede opgeskort het vir die Desember vakansie.

jean lotriet ·

Dis verstommend dat ongeag dodelike bewyse soos bv VBS BANK se absolute bewyse name wat geïmpliseer is,ens.,daar absoluut niks gebeur nie.EFF lede waarteen duidelike bewyse is,Zuma wat ongeneeslik siek is ens.ens.Die hele land sien dit,insluitend die strafregtelike stelsel,ens.,en absoluut NIKS gebeur nie!?WTF

jean lotriet ·

Wat ek verder totaal onanvaarbaar/verstommend vind,is dat NIE die DA,of VF n sigbare “outcry” pleeg nie.Wat de hel maak Jan Burger daarvan??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.