Hitte kelder sjokoladesmeerrekord

Billy Cowley. (Foto: Verskaf)

Hitte was verlede week Billy Cowley se grootste vyand toe hy probeer het om die meeste sjokoladesmeer in ʼn minuut by Hennie’s, Radio Raps se kuierplek in Moreletapark, te eet.

“Dit het nie gegaan soos wat ek beplan het nie,” het ʼn teleurgestelde Cowley gesê.

Cowley se moed het in sy skoene gesak toe hy verlede week, ten aanskoue van talle gretige toeskouers, sy plek ingeneem en besef dat die sjokoladesmeer tot net duskant ʼn vloeistof gesmelt het. Hy moes dié pappery met net sy vinger uitskep.

Elke wêreldrekorduitdaging het sy eie kriteria en vir hierdie spesifieke een moes die smeer vir ʼn uur lank teen kamertemperatuur gestaan het.

“Hennie’s was so warm – met almal se asems en die pizzaoonde wat oortyd werk het die sjokoladesmeer heeltemal gesmelt,” sê hy.

“Ek kon net sowat 180 g in totaal eet, want ek kon doodeenvoudig nie meer skep met my vinger nie.”

Hy het aanvanklik daarvoor gemik om altesaam 500 g te eet en daardeur die vorige rekord te breek. Die huidige rekord word steeds deur Andre Ortolf van Duitsland gehou. Hy het in April 2020 altesaam 435 g sjokoladesmeer in ʼn minuut geëet.

Cowley het by verskeie geleenthede vir die wêreldrekordpoging geoefen en nooit was temperatuur ʼn probleem nie. Hy was selfs voor sy poging bekommerd dat die smeer te hard sou wees, weens die koue winterweer.

“Toe ek Donderdag my vinger by die bottel sjokoladesmeer indruk, het ek dadelik besef iets is fout. Teen die tyd wat 30 sekondes verby was, het ek skaars iets uitgeskep en ek moes vinnig my strategie verander. Ek het my kop so naby aan die bottel gehou as wat ek kon sodat ek meer kon skep, maar toe het die loperige sjokoladesmeer teen my verhemelte en in my keel vasgesit. Ek kon nie genoeg speeksel produseer om dit ook nog af te sluk nie.”

Hy het die volgende oggend ʼn nie-amptelike poging by sy huis aangewend – dié keer met sjokoladesmeer wat wel kamertemperatuur is, eerder as ʼn paar grade Celsius hoër. Toe het hy 200 g in 20 sekondes geëet.

Hoewel sy eerste poging gefaal het, is sy moed nie heeltemal gebreek nie. Cowley beplan om binne die volgende twee weke nóg ʼn amptelike poging aan te wend.

“Ek sal dit hopelik weer by Hennie’s kan doen, maar ek gaan dit in die oggend probeer met aansienlik minder mense om die plek se temperatuur op te jaag,” skerts Cowley.

Hy is nou vol vertroue dat hy – gewapen met dit wat hy met sy eerste poging geleer het – die tweede keer suksesvol sal wees.

Cowley het ook die vorige rekord gehou vir die persoon om die meeste Marmite in ʼn minuut te eet. Hy het in Oktober 2020 altesaam 420 g Marmite afgesluk, maar dié rekord is vyf maande later deur Ortolf laat spat toe hy 502 g geëet het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miena ·

Het Cowley en Ortolf dalk “beef” met mekaar dat hulle mekaar die stryd aanse of mekaar se rekords elke keer aanpak en ewenaar of verbeter? Plaas kom die 2 bymekaar en doen dit behoorlik op n plek waar hulle beide teenwoordig is.

Faraway ·

Ai tog, enige iets net om n rekord te breek . . . daai eie ek

Gert K ·

Billy, kom probeer volgende keer hier in Bloem, koel hier die tyd van die jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.