Marmite-man pak nóg ʼn wêreldrekord aan

Billy Cowley. (Foto: Verskaf)

Die man wat byna twee jaar gelede die Guinness-wêreldrekord verbeter het deur die meeste Marmite in ʼn minuut te eet, gaan nou nog ʼn rekord aanpak – dié keer deur te probeer om die meeste sjokoladesmeer in ʼn minuut te eet.

Dié wêreldrekordfanatikus wil boonop Suid-Afrikaners uitdaag om ander wêreldrekords te probeer verbeter deur alledaagse goed te gebruik wat in hul huise rondlê.

Billy Cowley (43) sê toe hy probeer het om die rekord vir die meeste Marmite in ʼn minuut te verbeter, het iemand hom gevra hoekom hy nie eerder sjokoladesmeer, soos Nutella, probeer nie “want dit is soveel lekkerder”.

“Ek het nie veel van ʼn soettand nie, maar ek het besluit dat dit dan juis die perfekte uitdaging is vir my.”

Cowley se dokter het boonop vir hom gesê hy is nie bekommerd oor die feit dat hy so baie suiker op een slag gaan inneem nie, aangesien dit nie so lewensgevaarlik is soos die hoë soutinhoud wat hy met die Marmite-uitdaging ingeneem het nie.

Die bestaande rekord vir die meeste sjokoladesmeer in ʼn minuut eet staan op 359 g – duskant die grootte van ʼn standaard Nutella-bottel. Cowley gaan Donderdag weer by Hennie’s, Radio Raps se kuierplek in Moreletapark, probeer om meer as dít af te sluk.

“Elke wêreldrekorduitdaging het sy eie kriteria en vir hierdie spesifieke een moet jy die smeer vir ʼn uur lank teen kamertemperatuur laat staan. Met die winter hier hoop ek dit gaan sag genoeg wees sodat ek dit vinnig kan hap,” skerts Cowley.

“Jy mag ook nie die bottel van die tafel af optel nie en moet jou vinger – slegs een vinger – gebruik om die smeer mee uit te skep.”

Daar sal egter meer as een bottel tot sy beskikking wees, wat hy om die beurt kan takel.

“Ek gaan beslis nie desperaat sukkel om die laaste smeer onder uit die bottel te krap nie.”

Wanneer hy hierdie een onder die knie het, wil Cowley nóg ʼn wêreldrekordpoging aanpak, wat sal beteken dat hy die grootste rockgroep, van altesame 1 200 lede, bymekaar bring om saam musiek te maak. Die groep sal bestaan uit 300 tromspelers, 300 baskitaarspelers, 300 kitaarspelers en 300 sangers.

“Almal sal dan gelyktydig dieselfde liedjie speel en sing,” sê hy.

Hoewel daar nog nie ʼn datum bepaal is vir hierdie poging nie, het hy reeds Guinness-wêreldrekords se goedkeuring om dit te probeer.

“Daar is baie musiekgroepe in Suid-Afrika, so ek gaan eerste by hulle aanklop. ʼn Paar musiekmakers het reeds aangedui dat hulle meer as gewillig sal wees om deel te neem. Hierdie gaan ʼn reusepoging wees wat baie beplanning verg, maar ek hoop om die hele ervaring in ʼn liefdadigheidskonsert te omskep met mense wat kaartjies kan koop om dit by te woon,” sê Cowley.

“Een ding is gewis, Suid-Afrika het nog nooit iets so groot gesien soos wat dít gaan wees nie.”

ʼn Wêreldrekord binne almal se bereik

Volgens Cowley is mense onder die wanindruk dat net die vinnigste of sterkste ou ʼn wêreldrekord kan opstel, maar dit is nie die geval nie.

“Daar is so baie goed waarvan mense nie eens bewus is nie. Byvoorbeeld, ons elkeen maak elke dag ons beddens op en wanneer die beddegoed gewas word, moet jy natuurlik jou duvet oortrek. Daar is ʼn wêreldrekord vir die persoon wat hierdie oortreksel die vinnigste kan aansit. Mense smeer ook daagliks vir hulself of hul kinders broodjies vir middagete. Daar is ʼn wêreldrekord vir die meeste snytjies brood met botter smeer in ʼn gegewe tyd.”

Cowley het onlangs ʼn video saam met die bekende sanger Dozi gemaak waarin hy illustreer hoe maklik dit is om ʼn wêreldrekord aan te durf.

“As jy elke dag daaraan werk en oefen, kan jy ʼn wêreldrekord breek. Dit is ook ʼn lekker manier om jouself uit te daag en eindelik te sê kan dat jy die beste in iets is.”

Hy sê die wonder lê daarin dat hierdie wêreldrekordpogings nie ʼn ouderdomsbeperking het nie – enigiemand kan dit doen.

Een spesifieke rekord wat Cowley meen maklik gebreek kan word, is om die vinnigste ʼn koppie koffie te drink.

“Die koffie moet natuurlik ʼn sekere hoeveelheid en temperatuur wees, maar as jy genoeg fokus, kan dit gedoen word.”

Vreemde wêreldrekordpogings ‘in oorvloed’

Van die vreemdste pogings wat Cowley al in sy navorsing teëgekom het, sluit in een waar drie ballonne vir die langste tyd in die lug gehou moet word.

Daar is ook een vir die persoon wat die langste tyd aaneen kan braai. Die huidige rekordhouer het dit vir langer as 40 uur aaneen gedoen.

“Daar is ook een waar jy kyk wie ʼn rubberhoender die verste kan gooi, of selfs die meeste teddiebere op ʼn afstand in ʼn asblik ingooi.”

Die wêreldrekordopsies is eindeloos en Cowley wil elke Suid-Afrikaner uitdaag om ten minste een van die rekords aan te durf. Hy self wil nog ʼn hele paar rekords laat spat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dana ·

Billy het wel ‘n voltydse werk. Ek dink dis great dat hy probeer om die wêreldrekords te verbeter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.