‘Hoë regeringskuld’ speel sleutelrol in begroting 

President Cyril Ramaphosa (Foto: JUSTIN TALLIS/ AFP)

In aanloop tot die 2023-begrotingsrede is daar talle aspekte wat waarskynlik ʼn rol in die uitkoms van die regering se begroting sal speel, waaronder stygende inflasie, swak ekonomiese groei en die voortslepende beurtkragkrisis in die land.

Prof. André Roux, ekonoom by die Stellenbosch Besigheidskool, meen egter dat die regering se hoë skuldvlakke van besondere belang in die opstel van die staat se begroting is – wat in wese die afgelope dekade teen ʼn vinniger tempo as die Bruto Binnelandse Produk (BBP) gestyg het.

“Gevolglik het die verhouding van openbare skuld tot BBP ʼn kritieke vlak (ongeveer 75%) bereik waar beleggers in staatseffekte (krediteure) ʼn hoër risiko eis om vir hoër risiko te vergoed.

“Namate die rentekoerse styg, word dit duurder om bestaande skuld te herfinansier en om nuwe skuld te finansier,” het Roux Maandag gesê.

Boonop moet meer staatsinkomste aan die betaling van skuld toegewys word, wat beteken dat minder geld beskikbaar is vir belangrike staatsdienste.

Staatskuld word immers hoofsaaklik aangegaan om lopende uitgawes te finansier wat die salarisse van staatsamptenare, maatskaplike toelaes en rente op skuld wat voorheen aangegaan is, insluit.

“Dit beteken dat die skuldlas vererger word aangesien dit geen betekenisvolle bydrae tot die toekomstige produksievermoë van die ekonomie lewer nie.”

Roux meen die regering is weens lenings wat vantevore aangegaan is eenvoudig nie in die posisie om die verwagte beleidsbenadering, naamlik “fiskale uitbreiding”, te volg om resessietoestande teë te werk nie.

“Op langer termyn sal kapitaalbesteding deur die regering (veral aan broodnodige ekonomiese infrastruktuur) verdring word deur veel minder produktiewe lopende uitgawes.”

Hoop teenoor werklikheid

Roux meen dié faktore, tesame met verskeie ander, gee die pas aan vir die verwagtinge wat Suid-Afrikaners het wanneer hulle aan die Begrotingsrede dink.

Hy benadruk egter dat dít wat Suid-Afrikaners hoop pres. Cyril Ramaphosa sal aanpak, nie dieselfde kwessies is as wat hulle verwag hy gaan aanraak nie.

Boonop hoop verskillende sektore ook op verskillende uitkomstes.

Volgens Roux sal die korporatiewe sektor en beleggersgemeenskap op ʼn aansienlike besnoeiing van die begrotingstekort hoop, wat tot ʼn bestendige afname in die staatskuld-tot-BBP-verhouding sal lei.

“Hulle sou ook graag ʼn samehangende strategie van die verkoop of privatisering van wanfunksionele staatsbeheerde ondernemings wou sien, tesame met beleidskonsekwentheid en inwerkingstelling, institusionele bevoegdheid en integriteit, die verdere verligting van die korporatiewe belastinglas en die einde van beurtkrag.

“Kleinsake- en mediumgrootte ondernemings sal hoop op belastingtoegewings, ʼn verslapping van arbeidswetgewing, vermindering van administratiewe rompslomp en die einde van beurtkrag.”

Volgens Roux sal middelinkomste-huishoudings op die uitkyk wees vir laer persoonlike inkomstebelastingkoerse, ʼn geloofwaardige en sigbare plan van aksie teen korrupsie, ʼn minder wisselvallige wisselkoers, en ook die einde van beurtkrag.

Georganiseerde arbeidsbewegings en werkloses sal onder meer hoop op ʼn aansienlike toename in die aantal werksgeleenthede en hoër minimum lone, terwyl staatsamptenare sal hoop op inflasiegekoppelde loonverhogings en ʼn staking van afleggings.

Verder sal die erg benadeelde lede van die samelewing op die verlenging van maatskaplike toelaes, die verlaging van die BTW-koers, verhoogde besteding aan onderwys en gesondheidsorg, asook goedkoper en meer betroubare vervoer hoop.  Dié groepe hoop natuurlik ook dat beurtkrag beëindig sal word.

“Natuurlik, selfs met die beste wil ter wêreld, is dit onmoontlik om hierdie wenslys in sy geheel te lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Watsenaam ·

Die eerste tekens van n sinkinde skip is die rotte wat rondskarrel en wegkruip klek soek. Klink dit bekend?

Pietertjie ·

Wat van nog ‘n paar drukperse vir die Reserwebank? Dis mos hoe staatskuld aangespreek word. Met die gepaardgaande styging van die inflasiekoers wat die werklike waarde van die skuld gerieflik laat krimp! (deur middel van stygende uitleenkoerse aan die banke natuurlik.)

Vrystaat2109 ·

Gebruik hierdie miljoene wat elke maand gegee word vir “werkloses” gebruik dit Vir salarisse skep werk en laat hulle die paaie reg maak, duisende van hierdie mense het werk as dagloners maar hulle ontvang bykomend hierdie R350.

George ·

Hulle gaan daai R350 opstoot na R750 net voor die verkiesing dat dies wat dit ontvang ANC bly stem, oormore as hul in hul waterlose, kraglose shak sit, onthou hulle net die geld.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Raak nie mismoedig nie. Suid-Afrika is lid van BRIGS. Die New Development Bank, voorheen bekend as die BRICS Development Bank, sal tog sekerlik Suid-Afrika te hulp snel met gunstige lenings en skenkings wat selfs ons nageslagte sal kniehalter en verslaaf. En Noord-Korea, Iran, Hamas, Palestina, Kuba, Rusland, China en Hezbolla sal ons sekerlik finansieel onderskraag. Ha-ha-ha. In hierdie gekkeparadysland SA moet mens jou humor vertroetel.

Sanet ·

Almal in Suid-Afrika moet saamstaan en die regering nie ondersteun nie!!! Hou op om belasting te betaal!!!! Die hoofrede hoekom ons land soveel skuld het is as gevolg van die koffers vol geld wat deur die kaders weggedra is en geen een van die mense is al toegesluit nie!!!! En dan moet ons belastingbetalers nog vir die regskostes betaal en hulle luukse lewens!!!!! Dit is strooi!!!!

Danie ·

Dankie Sanet uiteindelik nog een wat die spyker op die kop slaan.

Di ·

Die land is lankal insolvent!! Al die biljoene moet met rente terug betaal word maar SA bly geld leen. Ander lande gaan summier die land kom oorvat as hulle skuld nie betaal word nie

LANA is ELANè ·

Skop die regerende party uit, hulle gaan ons net verder laat verarm met hul onvermoë om enige iets reg te doen. As predikante en pastore al begin vra dat ons nie meer vir die regring bid nie, maar dat ons moet bid dat hulle vervang word met enige ander party, maak nie saak wie of wat nie, dan kan ons weet die land is “beyond return”.

George ·

Toemaar Cyril, solank jy en jou mense nog skep is dit mos oraait

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.