Hoekom bly Riemvasmaak-polisiestasie se deure toe?

Mediakonferensie van die regering se interdepartementele groep belas met justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: GCIS)

Die DA wil by polisieminister Bheki Cele weet waarom die Riemvasmaak-polisiestasie in die Noord-Kaap ná byna ’n jaar steeds nie in bedryf is nie.

Luidens plaaslike mediaberigte is dié stasie al sedert 8 Mei verlede jaar oop. Tog het DA-lede voor dooiemansdeur te staan gekom toe hulle ’n oorsigbesoek aan die polisiestasie gebring het, sê dr. Isak Fritz, die party se premierskandidaat vir die Noord-Kaap.

“Ons het ook inligting ontvang dat hoewel die stasie ‘oop’ is, is geen polisiebeamptes al by dié stasie geplaas nie.”

Fritz het reeds aan Cele geskryf om duidelikheid te kry oor waarom dié stasie se deure toe is en wat die voortslepende vertragings veroorsaak.

“Dit is onbegryplik en skep net meer vrae oor wat slegs as ʼn wit olifant beskryf kan word,” het Fritz gesê.

Die Riemvasmaak-polisiestasie in die Noord-Kaap is ná ‘n jaar nog steeds nie in bedryf nie. (Foto: Verskaf)

Cele het in antwoord op parlementêre vrae oor die Riemvasmaak-polisiestasie gesê dat die akte vir die stasie al in 2016 verkry is. Jaarlikse verslae dui verder aan ʼn tender van meer as R42 miljoen is al in 2018 aan ʼn maatskappy toegeken en dat bouwerk volgens beplanning teen April 2021 afgehandel sou wees.

Die polisie het destyds gesê ʼn verlenging van die spertyd is egter toegestaan weens die Covid-19-pandemie, gemeenskapsonluste en -dispute, inmenging van plaaslike sakeforums en probleme wat met die kontrakteur se eie onvermoë verband gehou het om vaardige arbeiders aan te stel en die regte boumateriaal in die hande te kry.

“Ons kan egter nie aanvaar dat die stasie – byna tien jaar nadat die grond aangekoop is om dit te bou – steeds nie enige waarde tot die Riemvasmaak-gemeenskap toegevoeg het nie. Dié gemeenskap moet byna 80 km reis om tot by die naaste polisiestasie te kom.

“Polisiebeamptes van die Kakamas-polisiestasie moet ook lang afstande op slegte paaie reis om op misdaadvoorvalle te reageer.”

Fritz wil by Cele weet waarom die stasie steeds nie oop is nie, en of die projek binne die goedgekeurde begroting en tyd afgehandel is.

“Ons wil ook weet of enige ongerymdhede rakende die kontrak oor die afgelope jare opgeduik het. Gegewe die polisie se oënskynlike onvermoë om dié landelike stasie in bedryf te stel, wil ons ook weet waarom só ʼn enorme stasie in ʼn laemisdaadgebied gebou is waar die behoefte aan ander dienste, soos ʼn skool, veel groter is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Carl ·

Hy het die polisiemag gestuur om Benjamin Rattle te gaan haal in Palestina. Dis mos belangriker om daar te gaan inmeng as hier……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.