Hof gee Maluti-a-Phofung weer dwarsklap oor krag

Die Harrismith Intabazwe Tsiame-inwonersvereniging, beter bekend as HIT, en verskeie sake-eienaars op die dorp het die plaaslike owerheid en die munisipale bestuurder, Futhuli Mothamaha, oor die ontkoppelings hof toe gesleep. (Argieffoto: Marianne Styan)

Die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit wat onder meer die dorp Harrismith in die Vrystaat bedien, het opnuut bloedneus in die hooggeregshof gekry nadat hy vroeër vanjaar verskeie ondernemings se krag sonder waarskuwing afgesny het.

Die Harrismith Intabazwe Tsiame-inwonersvereniging, beter bekend as HIT, en verskeie sake-eienaars op die dorp het die plaaslike owerheid en die munisipale bestuurder, Futhuli Mothamaha, oor die ontkoppelings hof toe gesleep.

Luidens die hofstukke is die Spar-supermark en die Engen-vulstasie en geriefswinkel se krag op 23 Februarie afgesny. Krag na die Shell-vulstasie, sowel as ʼn Wimpy, Debonairs en Spar Express, is sowat twee weke later ook afgesny. Die ondernemings het hulle na die hof gewend en die krag is ingevolge ʼn tussentydse bevel weer aangeskakel.

Die munisipaliteit het nie enige van die verbruikers ingelig van sy voorneme om die krag af te sny nie. ʼn Brief daaroor is wel om en by 2020 aan sekere lede van HIT gestuur. Dit was egter nie aan enigiemand spesifiek geadresseer nie, is nie na ʼn spesifieke adres gestuur nie en geen verwysing is gemaak na die naam van die klant, die rekeningnommer of enige agterstallige bedrag nie.

Die applikante het boonop dispute met die munisipaliteit verklaar – waarop Maluti-a-Phofung bloot nie gereageer het nie – selfs al bepaal beleid dat ʼn dispuut binne drie maande besleg moet word.

Maluti-a-Phofung skuld Eskom sowat R6 miljard en in ʼn stadium is die owerheid se bankrekening selfs in beslag geneem en gevries.

Die munisipaliteit het aangevoer die betrokke ondernemings skuld hom op hulle beurt duisende rande in sogenaamde historiese skuld, hoewel geen formele rekeninge of fakture hiervoor bestaan nie.

Die Harrismith Spar se beweerde skuld is byna R780 000, terwyl die munisipaliteit aanvoer die Engel-vulstasie skuld hom byna R320 000. In die geval van die Sedibeng-vulstasie is die agterstallige bedrag as meer as R420 000 aangedui

Regter Johann Daffue het egter bevind die rekeninge is nie net “hopeloos verwarrend nie, maar voldoen ook nie aan die definisie van ‘rekening’ nie”.

Die respondente het nie betwis dat dispute oor die rekeninge verklaar is nie, maar ontken dat die bedrae wat in die rekeninge genoem word, in dispuut geplaas is. Luidens die hofstukke het nie een van die rekeninge wat aan die klante gestuur is, egter enige uitstaande skuld aangedui nie.

Die munisipaliteit voer aan die ondernemings skuld hom die geld vir “historiese kragverbruik” en dat hy geregtig daarop was om hulle krag af te sny. Deur onder meer te steun op die Grondwet, het die munisipaliteit aangevoer die besluit was nie onregmatig nie. Die munisipaliteit het aangevoer die verbruikers het verkeerdelik geglo dat hulle “geregtig is op munisipale dienste sonder om daarvoor te betaal”.

Die plaaslike owerheid se eie kredietbeheermaatreëls bepaal egter dat ʼn waarskuwingskennisgewing oor ʼn onbetaalde rekening by ʼn spesifieke adres afgelewer moet word en indien betaling nie binne sewe dae geskied nie, kan die dienste beperk of ontkoppel word. Rekeninge wat meer as 90 dae agterstallig is, se dienste kan afgesny word. Wanneer die krag afgesny word, moet daar weer ʼn kennisgewing wees oor waarom dit gedoen is.

“Die eerste respondent [die munisipaliteit] het versuim om enigsins te voldoen,” lui Daffue se uitspraak.

Die krag is boonop afgesny desnieteenstaande die inwoners se prokureursbriewe aan die munisipaliteit – waarop die owerheid nie gereageer het nie.

In die uitspraak sê Daffue die munisipaliteit het niks gedoen om dispute op te los nie.

“Die respondente se versuim om in hierdie opsig te reageer soos versoek, is onverskoonbaar.”

Die regter het voorts bevind die munisipaliteit het versuim om te bewys dat hy regmatig opgetree het toe hy die krag afgesny het. “Hulle het hul eie beleid verontagsaam, het nie ʼn behoorlike proses, onder andere ʼn proses van administratiewe billikheid, gevolg nie en het oorgegaan tot selfhelp.”

Daffue het voorts gesê daar is ook nie bewys dat die verbruikers versuim het om hul verpligting na te kom deur te betaal wat hulle verskuldig is nie.

“Die verbruikers is nie ʼn geleentheid gegun om deel te neem aan besluite wat hulle sou raak nie. Hulle het nie enige van die kennisgewings ontvang waarna in die bogenoemde beleid verwys is nie. Behoorlike state en fakture bestaan nie.

Daffue het bevind wanneer die feite oorweeg word, het die munisipaliteit, gelei deur die munisipale beampte as rekenpligte beampte, nie voldoen aan die vereistes vir ʼn aanspreeklike openbare administrasie nie.

Wilhelm König, voorsitter van die HIT-inwonersvereniging, het die uitspraak as ʼn deurbraak vir gemeenskappe landwyd bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

casper ·

Love dit – Koop pofkoring – Die hoof rolprent kom nou !!!

Pietertjie ·

Dis soos om ‘n muur te klap. Niks gebeur nie. Die hand kan net seerkry. Die muur moet eerder afgebreek word.

WILLEM ·

Wat nog. Dit wil voorkom of die munisipaliteit se finansiele amtenare nie ‘n benul het van somme maak nie. Vervang hulle onmiddelik en adverteer vir bekwame mense (dalk blankes wat weet) Hier kom nog groot moeilikheid.

Pieter9 ·

Hulle is so onbekwaam! Daar is absoluut niks waarmee dit vergelyk kan word; uiteraard totale verleentheid, nie dat dit iets is wat hulle pla nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.