Hof gryp in by dorp se watertekort

Argieffoto

Die hooggeregshof in Polokwane het Dinsdag beslis dat twee boorgate en twee plaasvervangerboorgate aan Naboomspruit (Mookgophong) se waternetwerk gekoppel word om water aan dié dorp se inwoners te verskaf.

Dít volg nadat die burgerregteorganisasie AfriForum vroeër die hooggeregshof dringend genader het om die Modimolle-Mookgophong- plaaslike munisipaliteit te dwing om water volhoubaar aan Naboomspruit, Roedtan en Thusang te lewer.

Die munisipaliteit het die aansoek nie teengestaan nie.

Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, sê die hofbevel bepaal nou dat die twee boorgate wat verlede jaar by die Nyl-vallei geboor is sowel as die twee plaasvervangerboorgate binne tien dae toegerus en aan die waternetwerk gekoppel moet word.

Voldoende grootte waterpompe moet ook by die Welgevondendam geïnstalleer word sodat genoeg water gepomp kan word om die daaglikse toelaatbare kwota water te lewer.

Die munisipaliteit moet ook ingevolge die hofbevel sorg dat daar genoeg onderdele beskikbaar is om enige tyd herstelwerk aan die water- of elektrisiteitsvoorsieninginfrastruktuur te kan doen. Onderdele wat vir herstelwerk gebruik is, moet ook binne twee weke ná gebruik vervang word.

Die hofbevel bepaal verder dat die waarnemende munisipale bestuurder, Meluse Malanga, en die munisipaliteit moet toesien dat boorgatpompe wat water aan Naboomspruit, Roedtan en Thusang lewer met kragopwekkers toegerus word sodat water ook tydens kragonderbrekings voorsien kan word.

Jansen van Vuuren sê inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon water. “Dit is uiters kommerwekkend dat die hof die munisipaliteit moet beveel om dié dienste te lewer.”

Indien die munisipaliteit die hofbevel verontagsaam, sal AfriForum ’n opvolgaansoek bring om watervoorsiening te verseker.

Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir omgewingsake, sê die gebeure in Koster het die organisasie geleer dat gemeenskappe nie meer van munisipale verval kan wegskram nie en ander maniere sal moet soek om dienste te voorsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Baardman ·

Weereens Afriforum wat iets regkry. Die DA sit seker nog en wag vir antwoorde op vrae wat hulle aan die munisipaliteit gevra het.

Hendrik ·

Die verskil tussen ‘n politieke party en burgeregte groep. dit is hoekom Afriforum nie die politiek moet betree nie. So ook moet ons as burgers ook nie wag vir Afriforum om iets te doen nie maar as gemeenskap saam te span om onafhanklik/ selfstandig te word.

Blikkies ·

Hoekom moet jy eers iemand hof toe vat om beveel te word om sy werk te doen. Ek kan dit nie verstaan nie.

Ian ·

Hoekom word die munisipale bestuurder nie summier afgedank nie? Is hy dalk ANC? O ja hulle mag mos maak soos hulle lus voel. Geen nagevolge vir mense wat nie weet hoe om hulle werk te doen of nie die nodige kundigheid het om dit te kan doen nie.

Hannes ·

Wat van die Natal se Suidkus dis nou al n jaar DA is sit ook seker en wag.

Yvonne ·

So is dit met al die munisipaliteite wat deur ANC bestuur word…skande op skande….hulle voel vere

Sarel ·

Sal niks gebeur nie hille skrik nie meervir die hof nie. Daarom dat hulle die saak teengestaan het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.