Hof hoor Malema het verslaggewers geïntimideer

EFF-leiers Mbuyiseni Ndlozi, Marshall Dlamini, Floyd Shibambu en Julius Malema by die hooggeregshof in Pretoria (Foto: Oupa Mokoena/African News Agency/ANA)

Die gelykheidshofsitting in die Pretoriase hooggeregshof het gehoor Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) het na bewering vrees aangewakker by verslaggewers en dit het daartoe gelei dat hulle nie hul werk behoorlik gedoen het nie.

Die saak tussen die EFF en die redakteursforum (Sanef) en ʼn groep verslaggewers, is Maandag aangehoor.

Sanef het die hof genader ná ʼn paar joernaliste op sosiale media geïntimideer is.

Adv. Daniel Berger, vir Sanef, het gesê die EFF en Malema het ʼn omgewing geskep wat vyandig is teenoor verslaggewers. Hy het verwys na Malema se toespraak op 5 Julie buite die staatskapingskommissie in Johannesburg waar hy aan ondersteuners gesê het “sodra ʼn joernalis kant kies, moet hulle soos politici hanteer word en wanneer die vyand sy kop lig, moenie die kop aanval nie, sny hom keelaf”.

Volgens Berger het Malema gesê as joernaliste op ʼn spesifieke manier verslag doen, sal hulle anders hanteer word. “Skryf hul name neer en tree beslissend op,” het Malema gesê, aldus Berger. Hy het gesê Malema se woorde is intimiderend en aanhitsing tot geweld.

Die advokaat het gesê die EFF-leier het gemengde boodskappe in sy toespraak uitgestuur dat volgelinge “op ʼn beskaafde manier met hulle (joernaliste) moet omgaan – moenie gewelddadig wees nie, moenie hulle doodmaak nie”. “Mens kan nie só praat nie; jy stuur ʼn gemengde boodskap. Mense luister selektief,” het Berger aangevoer.

Hy het gesê Malema behoort te weet dat, as ʼn leier, sy woorde gevolge dra en ʼn voorbeeld stel vir sy volgelinge. Hy het ʼn voorbeeld gebruik waar ʼn Twitter-gebruiker gesê het joernaliste, wat onvleiende stories oor die EFF skryf, by hul huise besoek moet word. Hy voer aan Malema het die plasing op Twitter herhaal. “ʼn ‘Retweet’ is ʼn goedkeuring van Malema – ja, kom ons kry die huisadresse van hierdie joernaliste en gaan besoek hulle.”

Hy het bygevoeg Malema veroordeel nie sy ondersteuners wanneer hulle inligting deel wat geweld aanhits teen joernaliste nie. Hy het aangevoer Malema en sy party sê eenvoudig vir joernaliste: “As julle nie oor ons skryf waarvan ons hou nie, sal julle deurgaans geteister word.”

Hy het gesê dié gedrag van die EFF veroorsaak dat joernaliste beperk wat hulle oor die politieke party berig. “As hulle ʼn probleem het met joernaliste, kan hulle hulle dagvaar vir naamskending of die ombudsman nader,” het Berger aangevoer.

Sanef het die hof genader ná intimidasie van joernaliste op sosiale media. Die organisasie wil hê die EFF-leierskap moet verhoed word om verslaggewers te dreig en hul persoonlike besonderhede op openbare platforms bekend te maak. Sanef wil ook hê die hof moet beveel dat die EFF publiek om verskoning vra aan die joernaliste wat in die saak genoem word.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Sarel ·

Voeg ‘n klein eis van R500K by vir liefdadighied en asb ook ‘n koste-bevel! Hy maak onnodig werk vir ‘n hof wat met regte sake kan werk.

Vryheid ·

Gaan die MRK julius ook beboet met R200000 of werk dit net as jy blank en rasisties is?

Alfred ·

Geen hofuitspraak het Malema en sy geleerde kollegas al ooit beweeg om anders op te tree nie. Hulle mors hulle tyd met die saak al word in Sanef se guns gevind. Hulle maak wat hulle wil

lewies ·

Die wortel van hierdie optrede van die EFF le in die feit dat die media as ongewenste pretbederwers beskou word.

L ·

Malema se werk is steeds soos voorgeskryf deur sy base in die ANC.

George in Bloem. ·

Die grotes in die ANC beskerm hierdie rooiberet kaartmannetjie en soos gewoonlik sal hy bokkerol oorkom nie.

Anoniem ·

Die Malema mannetjie en EFF geniet ver te veel aandag. Die media moet net eenvoudig ophou om oor hom en die EFF verslag te lewer en ignoreer hulle geheel en al. Grootbekke hou nie daarvan om ge-ignoreer te word nie.

Dries Moolman ·

En hy (en sy mede- bankrower makkers) sal maar weer hiermee wegkom, want soos gewoonlik sal daar ‘n loophole wees van ‘hy het dit figuurlik bedoel, dus is dit nie ‘n direkte dreigement nie’.

Peet ·

Die feit is natuurlik dat dié aan die linkerkant nie ‘n probleem het as die HSM dié wat hulle as regs beskou verguis word nie. Vandaar die lawaai as hulleself aangevat word. Tot dusver is die gelykheidshowe alles behawe gelyk. Ons sal moe wag en kyk – moet net nie julle asem inhou nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.