Hof hoor oor dogter se ‘week van hel’

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Michael Zantow (64) se dogter het Woensdag in die hof die week beskryf wat gevolg het ná haar pa se moord in Augustus verlede jaar.

Dié paar dae is ʼn tyd wat selfs ʼn jaar later steeds by haar spook.

“Ek het net heeltyd vir myself gesê, ‘hy is nie dood nie, hy is nie dood nie’. Ek kon dit nie glo nie.”

Zantow se dogter, die derde getuie in sy en sy lewensmaat, Annie Liebenberg (62), se moordsaak, het Woensdag in die rondgaande hof in Parys getuig. Op versoek van Zantow se geliefdes vir privaatheid word dié getuie se naam nie in die media genoem nie.

Volgens die getuie is sy op Sondag 22 Augustus 2021 in kennis gestel dat haar pa vermis is en Liebenberg by hul tuiste in Sasolburg vermoor is. Die getuie se broer, Zantow se seun, het die dag by haar huis in Pretoria deurgebring en is ook die nuus meegedeel.

“Ons albei het fisiek in skok gegaan. Ons het onophoudelik gebewe en kon skaars ʼn uur of twee se slaap die aand inkry,” sê sy.

“Ons het die volgende dag [Maandag] deurgery Sasolburg toe. Ek het net aanhou wonder of hy lewend is, lê hy êrens en bloei, word hy in iemand se kattebak aangehou? Ons het nie geweet wat aangaan nie.”

Met hul aankoms in Sasolburg is die sibbe in kennis gestel dat hul pa se liggaam in hul oorlede grootouers se erf aangetref is.

“Soos wat ek die erf ingestap het, was hulle besig om my pa se liggaam in ʼn lyksak uit te dra,” het die emosionele getuie aan die hof gesê.

Sy het toe in die erf rondgedwaal en ʼn groot hoeveelheid van haar pa se bloed in ʼn stoorkamer gevind.

“Ek het vir enige bewyse gesoek wat vir my kan sê dat hierdie werklik gebeur.”

Dinsdag moes die getuie na die lykshuis gaan om haar pa se liggaam amptelik uit te ken. Hierdie ervaring is nog duidelik in die getuie se geheue geëts.

“Ek kan nog die toestand van my pa se liggaam in die fynste besonderhede onthou. Sy lippe en hande was pikswart en hy het diep wonde aan sy kop, arms en bors gehad.” Hierdie plekke is waar die staat beweer die beskuldigdes, Stanley Lingena (38) en Sithembiso Hlongwane (28), Zantow met ʼn byl bygekom het.

“Dit was asof ek toe eers besef het ek kyk na my pa, maar al die lewe was uit hom getap.”

Lewe skielik op sy kop gekeer

Die getuie het Woensdag aan die hof verduidelik hoe haar lewe op sy kop gedraai is en die trauma waarmee sy nou moet saamleef ná haar pa se moord.

Volgens die getuie is sy reeds ʼn jaar lank besig met berading, maar elke keer wat sy en die berader probeer om haar trauma te takel, begin sy weer onophoudelik te bewe.

Sy kry ook gereeld nagmerries en kon in ʼn stadium skaars twee ure se slaap inkry as gevolg daarvan.

Die getuie het boonop ʼn tyd lank af en toe gedissosieer van haar liggaam. Sy verduidelik dit is ʼn tipe geestesversteuring wat veroorsaak dat mense van hul lewe ontkoppel. Dit ʼn manier vir mense om op ʼn onwillekeurige wyse van die werklikheid te ontsnap. Dié persone sukkel ook om in die alledaagse lewe te funksioneer.

“Dit is soos om na ʼn slegte fliek te kyk, maar dis jou eie lewe,” sê die getuie.

“Hierdie het alles ʼn beduidende impak op my verhouding met my eie kinders en man gehad.”

Albei sibbe is erg deur die voorval getraumatiseer en voer aan dat hulle sedertdien medikasie gebruik om die trauma te verwerk.

Die saak word Donderdag in die hof voortgesit, wanneer nog getuies geroep sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lillian ·

Ek verstaan presies hoe sy voel. My oupa se bylmoord spook na meer as 3 dekades steeds by my …

Roek ·

Baie sterkte , hoop werklik jy sal “heel”” uit dit kom , ons bid vir Julle !

Moedeloos ·

Dit is wat vir my so tragies is. Die skuldige word na n tyd op parool vrygelaat en gaan aan met die lewe, maar die gesinne, families van die slagoffers sit lewenslank met die trauma.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.