Hof jaag besetters uit Kaapse woonstelblok

Die Goedehoop-kompleks in Brooklyn, Kaapstad. (Foto: Communicare.co.za)

Die verhuringsorganisasie Communicare moet ingevolge ’n hofbevel onmiddellik beheer van die maatskaplike huurwoonstelle in die Goedehoop-kompleks in Brooklyn, Kaapstad, terugkry. Dié woonstelle is vroeër vanjaar onwettig beset.

Maroela Media het berig dat 24 van die woonstelle wat deur Communicare besit word, in Maart vanjaar onder “georganiseerde kaping” deurgeloop het. Die kaping van die woonstelle is glo deur twee bestaande huurders gelei.

Die organisasie het aangedui dat die polisie op die toneel was, maar nie by die besetting, wat glo ook gewelddadig was, ingegryp het nie.

Communicare het gevolglik op 30 Maart ’n dringende hofaansoek ingedien vir die uitsetting van die onwettige besetters.

“Die hof het bevind dat die ‘kapers’ die woonstelle waarin hulle tans onwettig woon, onmiddellik moet ontruim. Ingevolge die bevel moet die woonstelle onmiddellik aan Communicare, die regmatige eienaars, terugbesorg word,” sê Anthea Housten, uitvoerende hoof van Communicare.

Housten sê dat besetters die woonstelle óf vrywillig kan ontruim, óf deur die balju verwyder sal word.

Ingevolge die bevel word die besetters verbied om na die eiendom terug te keer.

“Die hof het ook volkome beheer van die toegangshekke en ander sekuriteitspunte aan Communicare terugbesorg.”

“Ons wettige huurders is die werklike slagoffers. Bejaarde huurders is geteister en gedreig. Daar is ook by hulle woonstelle ingebreek om onwettige water- en elektrisiteitskoppelings te maak,” sê Housten.

In ’n poging om die hofaansoek teen te staan, het die besetters strokies van elektrisiteitsaankope aan die hof verskaf.

Volgens Housten het die hof die besetters se bewerings verwerp en as “verregaande” en “duidelik onverdedigbaar” bestempel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Die polisie was daar toe die plek beset is, en het NIKS gedoen. Maar het toe geen keuse gehad om daar te wees toe hulle op ‘n hof bevel moes regeer nie. As hulle hulle werk in die eerste plek gedoen het sou die saak nie bestaan het nie! Was daar ‘n paar pele tussen die beseters, en geld het gewissel van ‘n beseter se hand na ‘n polisieman se hand?

Blikkies ·

Hulle gaan daardie plek afbreek en groot skade los voor hulle loop. Hoop hulle sit die twee bestaande huurders ook uit wat dit begin het.

Samuel ·

Wat kan mens van ‘n poliesman verwag as Hoedman sy baas is?

Jack ·

Baie duidelik dat dit vriende van die polisie was wat die plek beset het vandaan die versuim. Almal word blootgestel en weens die verhoging van kwesbaarheid deur vuurwapens weg te neem gaan die soort optrede eskalleer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.