Hof moet regering beveel om entstofplan bekend te maak – DA

(Foto: Andres Larravere/AFP)

Die DA het hom Vrydag in ʼn dringende aansoek tot die hooggeregshof in Kaapstad gewend oor die regering se entstofplan.

Die party se regsverteenwoordigers het ʼn week gelede aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf en hom sewe dae gegee om ʼn omvattende verslag oor die regering se onderhandelings met entstofverskaffers te verskaf, asook besonderhede oor die staat se plan om die entstof aan burgers beskikbaar te stel.

Die president het nie geantwoord nie.

Die DA vra die hof vir ʼn verklarende bevel dat die regering se gedrag met die aankoop van entstowwe, asook sy voorbereiding vir die verspreiding van die entstof, ʼn skending van verskeie grondwetlike beginsels is.

“Ons het die hof gevra om die regering te beveel om ʼn omvattende en gekoördineerde entstofverspreidingsplan te ontwikkel en om dié plan binne ʼn maand na die datum van die bevel beskikbaar te maak,” sê John Steenhuisen, leier van die amptelike opposisie.

Die DA voer aan die regering se versuim om Covid-19-entstowwe tydig beskikbaar te stel terwyl dit reeds beskikbaar was, is ʼn skending van die reg op toegang tot gesondheidsdienste, asook ʼn skending van die regering se plig om billike maatreëls te tref om toegang tot hierdie reg te verseker.

Die DA voer ook aan dit is ʼn skending van die reg op lewe.

John Steenhuisen, leier van die DA. (Foto: David Ritchie/ANA)

“Daar is geen rasionaliteit in die versuim om entstof te verseker terwyl [die regering] vroeg al geweet het hoe belangrik dit gaan wees, asook om toegang daartoe te verkry nie. Dit voldoen nie aan die grondwetlike voorskrif van die oppergesag van die reg wat bepaal dat besluitneming rasioneel moet wees nie.”

Die bevel waarvoor die DA vra, is soortgelyk aan dié van die TAC sowat twee dekades gelede, toe die drukgroep die hof gevra het om die regering te dwing om sy antiretrovirale program openbaar te maak.

“Sonder ʼn deursigtige plan met duidelike tydraamwerke en die verdeling van verantwoordelikhede, gaan dit nie net vir die DA as amptelike opposisie nie, maar ook vir die media en burgerlike samelewing onmoontlik wees om die regering aanspreeklik te hou.”

Die DA vra onder meer vir duidelike inligting oor:

  • Die kriteria wat die regering gebruik het om op ʼn entstof te besluit;
  • Hoeveel mense die regering beoog om in te ent;
  • Hoe mense ingelig gaan word dat hulle ingeënt moet word en wanneer watter prioriteitsgroepe ingeënt gaan word;
  • Die lys entstowwe, met getalle, datums en pryse, waarvoor die regering onderhandelings afgehandel het;
  • Die geld wat die regering vir die entstofprogram beskikbaar gestel het;
  • Die goedkeuring wat die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) nog vir sekere entstowwe moet gee en wanneer dit na verwagting gedoen gaan word;
  • Vereistes vir die stoor en vervoer van die entstof;
  • Die rol van provinsiale regerings, staatshospitale en die private sektor in die plan;
  • Personeel wat benodig word;
  • Waar die entstof toegedien gaan word; en
  • Die mediese toerusting wat benodig word.

Die DA vra die hof ook om die regering te beveel om gereelde bywerkings oor die plan te gee.

“Die regering moet eerlik wees in sy verslagdoening, hy moet deursigtig in sy handeling wees en hy moet wys die veiligheid van burgers is die eerste prioriteit,” sê Steenhuisen.

Hy sê die regering het tot dusver niks hiervan gedoen nie en het getalm terwyl ander lande reeds in Mei verlede jaar entstof begin bekom het.

Steenhuisen sê die Suid-Afrikaanse regering het egter niks anders gedoen as om entstof vir 10% van die bevolking deur die Covax-inisiatief te bekom nie – en dít teen die hoogste prys.

Hy sê nadat die regering se gebrek aan optrede blootgelê is, het hy vinnig aan die werk gespring en deur leuens en aandagafleiery uit die situasie probeer kom, met die jongste poging Ramaphosa “wat die skuld op ander lande pak wat al die entstof koop”.

“Die waarheid is dat hulle die entstof gekoop het en ons nie, bloot omdat Suid-Afrika nooit in die tou was nie.”

Steenhuisen sê Ramaphosa se stelling dat die regering al ses maande lank met onderhandelings oor entstof besig is, is as leuen blootgelê – deur die vervaardigers self en die departement van gesondheid.

“Die skuld vir die brouwerk met ons entstofprogram lê nie by farmaseutiese maatskappye wat dit vervaardig nie; dit lê nie by die lande wat entstof gekoop het voor ons nog daaroor begin dink het nie. Dit lê vierkantig by die ANC-regering en pres. Ramaphosa in die besonder. Sy regering is nie die slagoffer van ʼn wêreldwye sameswering nie – Suid-Afrikaners is die slagoffers van sy regering.”

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het vroeër vandeesweek gesê die eerste entstof word Maandag in die land verwag.

Die organisasies AfriForum en Solidariteit het hulle ook reeds tot die hof gewend oor die regering se entstofplan. Hulle wil deur die hofsaak die regering se planne stuit om die entstofproses te sentraliseer.

AfriForum en Solidariteit gaan die hof vra om die regering se verspreidingsplan vir entstowwe ongrondwetlik te verklaar, asook om uitsluitsel te gee dat enige instelling buite die raamwerk van die regering die reg het om entstowwe te verkry en toe te dien.

Die saak word op 2 Maart aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SomeOne ·

Die president het nie geantwoord nie, en dink julle hy gaan ooit antwoord, julle wat vra is wit en hy het uitdruklik gese dat net swartes baat sal vind by die entstof (stof)

Die Wolf ·

CR praat vandat hy ingesweer is die waarheid baie snaaks!

christo ·

CR is onbetroubaar. Hy is soos Pontius Pilatus wat gewoonlik van ‘ geen ongeruimdhede ‘ bewus is of was nie. Ek sal definitief nie met ‘n entstof wat deur die staat verkry, vervoer en geberg is ,, ingeënt word nie. Indien dit nie deur die privaat sektor en mediese fondse verkry is en die inenting gedoen word nie, sal ek weier.
Boodskap aan CR: Soos die Engelse sal sê: ‘ Liar, liar your pants are on fire! ‘

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.