Hof roskam OB wéér in SAID-aansoek

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die Openbare Beskermer (OB) het weer ʼn bloutjie in die hof geloop en sal ook weer gedeeltelik uit haar sak daarvoor moet opdok.

Die hooggeregshof in Pretoria het Maandag bevind adv. Busisiwe Mkhwebane (OB) se dagvaardingsmagte strek nié tot by inligting oor belastingbetalers nie.

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het die hooggeregshof vir dié bevel gevra. Die OB, oudpres. Jacob Zuma, voormalige DA-leier Mmusi Maimane en die maatskappy Royal was die respondente.

Die inkomstediens het aangevoer wetgewing verplig hom om belastingbetalers se inligting vertroulik te hou en dat hy dit nie met die OB mag deel nie.

Hy het die hofaansoek ingedien nadat die OB twee jaar gelede toegang tot Zuma se belastingrekords aangevra het. Dit het deel gevorm van haar ondersoek na bewerings dat Royal Security die oudpresident maandeliks R1 miljoen betaal het.

Die OB het die aansoek teengestaan en onder meer aangevoer die SAID het ʼn grondwetlike plig om die OB in ʼn ondersoek te help.

In sy uitspraak sê regter Peter Mabuse egter die OB is behoorlik van raad bedien dat sy nié die SAID kan dwing om belastingbetalers se inligting bekend te maak nie – en tog het sy steeds met die aansoek voortgegaan.

Hy noem die OB se optrede “onverskoonbaar” en sê sy het bloot ʼn regsmening gevra om haar eie mening te probeer staaf. Toe dít nié na haar goeddunke was nie, het sy dit verwerp.

Mabuse sê voorts Mkhwebane – self ʼn advokaat – het die wet dalk misverstaan en as sy dit wél verstaan het, het sy dit bloot verontagsaam.

“Dit dui op die OB se neiging om buite die wet op te tree.”

Mabuse het bevind die SAID word ingevolge wetgewing toegelaat om belastingbetalers se besonderhede vertroulik te hou – en dat hy dit ook móét doen – en dat die OB se magte om te dagvaar om toegang tot sekere inligting te kry, nie betrekking op belastingbetalers se inligting het nie.

Hy het die OB se teeneis met koste verwerp en Mkhwebane beveel om persoonlik 15% van die SAID se koste te betaal. Die SAID sê hy gaan die uitspraak noukeurig bestudeer en daarna volledig reageer.

Die howe is egter nie die enigste plek waar die OB moet vure doodslaan nie.

ʼn DA-mosie om haar van haar amp te onthef, sal voortgesit word sodra die parlement weer sy werksaamhede normaalweg hervat, het Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, gesê.

Die parlement is, soos die res van die land, deur die verspreiding van die nuwe koronavirus in sy spore gestuit.

Die aansoek sou op 26 en 27 Maart aangehoor word, maar die partye het ooreengekom dat die saak tot verdere kennisgewing uitgestel word. Die ooreenkoms is ook ʼn bevel van die hooggeregshof verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marius ·

Waneer gaan sy regskoste in haar persoonlike hoedanigheid begin betaal ? Sy kry nog elke maand ‘n vet salaris en al die byvoordele wat uit diegene se sakke kom wat sy moet beskerm .

Scalla ·

Nie die wet misverstaan nie, eerder glad nie verstaan nie, en sy is n regsgeleerde!!!

Wondermaarnet ·

Daar is duisende webwerwe waar mens ‘n graad kan koop.

Wondermaarnet ·

Die vrou is kastig geleerd met ‘n graad of twee agter haar naam, maar ‘n graad maak mens blykbaar nie slim nie. Dit is net so goed ek vra haar bankkaart en haar pin. Gaan sy dit vir my gee? Sy sal seker dan ‘n bohaai daaroor wil maak, maar vertroulik bly vertroulik.

Gawie ·

Hoeveel geld gaan sy die belastingbetaler nóg kos? Ten spyte van die deel wat sy self moet betaal, word die res nog steeds van ons verhaal!
Het sy al ooit enige van die skuld betaal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.