Hof sê dán oor POF-prokureurs

Padongelukkefonds

Die hof sal na verwagting binne die volgende week uitspraak lewer oor of die Padongelukkefonds (POF) wel van sy paneel prokureurs ontslae mag raak.

Prokureursfirmas wat tot nou toe eise teen die POF namens die fonds hanteer het, het ʼn aansoek by die hof ingedien om die fonds se besluit om nie die paneel prokureurs se kontrak vanjaar te hernu nie, te laat hersien.

Die POF voer aan hulle kan miljoene rande bespaar deur self eise teen die fonds teen te staan. Prokureurs in diens van die fonds meen egter dit gaan onnodige oponthoud van sake beteken en dat die fonds nie die kapasiteit óf bevoegdheid het om dié sake suksesvol teen te staan nie. Dit sal uiteindelik veroorsaak dat die POF in die toekoms miljoene rande meer aan eise sal uitbetaal as nou.

Johann Hamman, een van die prokureurs wat die POF se besluit om van sy paneel prokureurs ontslae te raak in die hof betwis, het aan Maroela Media gesê die saak is verlede week aangehoor en uitspraak word binne die volgende week verwag.

Dit blyk nou boonop dat die POF bestaande prokureurs binne ses maande miljarde rande sal moet betaal vir die diens wat tot dusver gelewer is, sou hulle nie voortaan van dié firmas gebruik maak nie.

Hamman meen die fonds sal eensklaps tussen R20 miljard en R30 miljard aan bestaande prokureursfirmas moet betaal, sou die hof beslis dat die POF geregtig is daarop om nie verder van die paneel gebruik te maak nie.

“Indien ons aangaan soos nou, sal die fonds ons geleidelik vergoed vir die dienste wat ons reeds verrig het. Sou ons nie heraangestel word nie, sal die fonds ons rekeninge egter binne ses maande moet vereffen. Die POF het eenvoudig nie dié geld nie,” sê Hamman.

Maroela Media het in April berig die hof het reeds ʼn bevel uitgereik dat prokureurs verplig is om bestaande lêers aan die POF te oorhandig, sodat die fonds teen 1 Junie eise self kan hanteer.

Volgens Hamman is die prokureurs egter in die proses om dié uitspraak te appelleer en het dus nog nie die lêers oorhandig nie. “Die POF se eise staan stil tydens die afsonderingstydperk en bestaande sake word dus nie benadeel nie,” sê hy.

Die POF het nie reageer op Maroela Media se navrae oor die saak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

PieterP ·

Ja nee, nog iets wat gesentraliseerd moet word dat hulle dieper kan skep uit die half leë kan en hulle maatjies dikker kan instop. Hier kom nog meer en groter korrupsie as wat tans reeds aan die gang is

Mathys ·

Maar die burgers kan etlikke biljoene bespaar as hulle nie meer as 30% van elke liter brandstof aan ‘n statute verpligte versekering betaal nie! Hoe kan ‘n ou wat sy gras wil sny met ‘n petrol grassnyer verplig word om versekering te koop as hy nie mag eis vir beserings wat hy opdoen tydens die sny van die gras wat hy hom die es nie? Hoekom mag hy nie pryse van produkte vergelyk en die tweede goedkoopste ene koop nie? So nie net het jy ‘n monopolie, wat geen privaatsektor produk ooit verby die kompetisie tribunaal se geykte maatstawwe sal laat kom nie, het jy boonop gratis administrasie daarvan!!! He?!! Die howe doen die eisprosesse vir jou, verstop die geregtigheid vir elke burger, want jou versekeringsproduk word nie deur jou administrasie of eisekantoor behartig nie! Nee, ons regstelsel is daar om my statuter verpligte versekering vir my te administreur ten koste van burgerlikke regspleging en strafgeregtelikke aangeleendhede ne?? Het die publiek genoeg opgeoffer???? NEEE!!! NOG!!

Mathys ·

Dis die Pad Ongelukke Fonds (POF) en die eisers se prokereurs is die Pad Ongelukke Fonds Prokureurs, die howe is tot die administrasie van die fonds gereduseer, ons howe is die Administrasie Van Pad Ongelukke Eis Fonds

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.