Hofaksies dreig oor sigarette, kosproduksie 

sigarette

(Foto: pixabay)

Die “onsinnige” en “drakoniese” verbod op sigarette dreig om die afsonderingstydperk te ondermyn.

Yusuf Abramjee, stigter van Tax Justice South Africa (TJSA), het die regering versoek om ag te slaan op die toenemende oproepe om die verbod te hersien.

“Die ondeurdagte verbod op sigarette verarm die land, verryk misdadigers en vernietig die publiek se vertroue in die afsonderingstydperk, wat baie belangrik is vir die sukses daarvan,” het Abramjee gesê.

“Daar is groot teenstand teen die verbod, van die breë publiek tot sakeleiers, politici en selfs sommige lede van die polisie. Hulle besef almal dat die staat geld verloor in onbetaalde belasting, terwyl misdadigers in die onwettige handel voordeel hieruit trek.”

TJSA se beroep op die regering kom nadat die Fair Trade Independent Tobacco Association (FITA) aangekondig het dat hy die hof gaan nader oor die verbod op sigarette.  Die regering het Vrydag weer benadruk dat die verbod op sigarette en alkohol sal bly geld vir die duur van die afsonderingstydperk.

Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van FITA, het gesê die onsekerheid oor die huidige beperkings en oor of die afsonderingsperiode na die huidige einddatum verleng gaan word, het FITA met geen ander keuse gelaat as om so ’n drastiese stap te neem nie. “Ons het lank en hard probeer om met die regering hieroor in gesprek te tree, maar ons pleidooie het ongelukkig op dowe ore geval.”

Volgens Abramjee het TJSA aan die president en verskeie ministers geskryf en versoek dat die verbod opgehef word. Hy het gesê elke dag van die afsonderingstydperk kos die tesourie R35 miljoen aan aksynsreg op sigarette. Indien die verbod vir 35 dae in plek bly, sal die totale verlies R1,3 miljard beloop, aldus Abramjee.

Die dreiging met hofaksie rakende die verbod op sigarette kom terwyl die sakegroep Sakeliga die minister van handel, nywerheid en mededinging tot 09:00 Maandagoggend gegee het om van sy uitsprake terug te trek of ook hofaksie in die gesig te staar.

Ebrahim Patel. (Foto: Twitter)

Sakeliga het minister Ebrahim Patel versoek om ʼn onderneming te gee dat hy sy uitsprake oor die produksie en verkoop van “voorbereide”, “warm” en “gekookte” kos terugtrek.

Indien hy dit nie doen nie, sal Sakeliga hof toe gaan oor die departement se onregmatige, irrasionale en skadelike obstruksie van kosproduksie.

“Ons is geadviseer dat daar geen regmatige beperking op die produksie van ‘warm’, ‘gekookte’ of ‘voorbereide’ kos is soos wat die minister en sy departement aandring nie. Amptenare hou aan om hierdie arbitrêre direktiewe in mediakonferensies en twiets uit te vaardig, maar geen sodanige regulasie is gepromulgeer nie,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gesê.

“Nie net is hierdie regulasies nooit gepromulgeer nie,” sê Le Roux, “maar die blote idee dat die verkoop van warm, gaargemaakte of voorbereide kos gestaak behoort te word, is irrasioneel en skadelik vir die openbare gesondheid: elke kositem op winkelrakke is iewers in sy produksieketting verhit, gaargemaak of op een of ander wyse voorberei.”

Die VF Plus het Patel ook versoek om dringend die verbod op die verkoop van voorbereide voedsel op te hef. Jaco Mulder, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor handel en nywerheid, het ook gesê daar bestaan regtens geen bepaling in die inperkingsregulasies wat voorsiening maak vir die uitsluiting van enige kategorie voedselproduk nie.

“Die enigste eksplisiete uitsluiting is dié van alkohol-bevattende kosprodukte.  Wetstoepassingsagentskappe wat die verkope van voorbereide kos stopsit of daarop beslag lê, tree onregmatig op en staar moontlike siviele eise in die gesig.

“Die gevolg van hierdie optrede veroorsaak verder onberekenbare skade in die wegneemete-bedryf as noodsaaklike voedselverskaffer met ’n onafwendbare verlies aan werksgeleenthede,” het Mulder gesê.

Volgens die DA is hy ook intussen besig om ʼn regsmening hieroor te kry. Dean Macpherson, LP en DA-woordvoerder oor handel en nywerheid, het gesê hy het Patel versoek om die rasionaal agter die besluit skriftelik te verduidelik.

“Ons kan nie toelaat dat ministers die afsonderingstydperk arbitrêr ondermyn deur buite die mandaat op te tree, soos ons dit tans sien nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Nie Verbaas ·

Ek kan nie verstaan dat die regering wie se finansies alreeds onder druk is veral op sigarette nie n wysiging wil maak nie. R35mil per dag is nie te versmaai as daar nie geld is nie. Opheffing van sigarette gedurende afsondering gaan geen verskil maak aan die vatbaarheid of komplikasies van die virus vir n persoon wat al jare lank rook nie.

Louwrens ·

Ek stem R35 mil per dag kan die sukkelende ekonomie baie help. Word wakker cyril.
Warm etes oftewel take aways kan ook baie help want op al daardie produkte word ook belasting betaal. As hulle nie die verbod op dit wil lug nie moet sopkombuise wat kos voorsien aan behoeftiges ook gestaak word.

'n Simpelman ·

‘n uiters selfsugtige mening. Daai bord kos is al wat daai mense kry vir die dag.

Al maak take aways oop, die risiko vir besetting te groot, so sal dit nie ondersteun.

Ek darem geleer om kos te maak en vir myself te sorg.

Eerlik ·

Hulle persoonlike gevoel oor rokers oorskadu die belange van die res van die land. Te dom om dit te verstaan.

Philip ·

As geeneen van die ANC in die kabinet rook of drink nie sal ek my berus by die besluit wat op die publiek eensydig afgedwing word.

'n Simpelman ·

Dit is maklik om te sê ‘n groot meerderheid. My navorsing wys dat ‘n groter meerderheid saamstem met die tabak en alkohol verbod.
Die TJSA en FITA net bekommerd oor hul eie sakke. Die anderkant van die saak is, as die regering bereid is om daai inkomste te verloor, vertel dit jou sekerlik die erns van die saak.

Die verbod op warm kos is ‘n ander saak. Probleem is hoe beheer?

myvyfsent ·

… en die wat die meeste onder dit lei is die mense wat nou moet werk sodat ek en jy veilig kan wees. Wat doen jy om die dokter, verpleegster, trokdrywer se maag vol te maak. Mens kan ook net soveel brood en blikkies kos eet ne. Hulle werk lang ure!

AmY ·

Volgende is dit seker koffie en sjokolade en alle koeldranke…

Genis ·

Hoe dan so, die polisie kuier dan lekker in die Taverns, drank en sigarette… Almal verkoop skelm cigarette… en alaml weet dit, jy betaal net n premie..

Alida ·

Die regering verloor miljarde met die belaglike verbod op sigarette. Dit is geld wat hulle broodnodig het. Hulle verryk die buitelanders en dan le die polisie beslag daarop en gebruik dit self of verkoop dit. Ek steun die hofaksie. Hierdie wette is gemaak sonder deeglike oordenking en oorweging. Belaglik. Gaan ASB voort. Hulle gaan nog biljoene moet betaal vir hofsake. Wag en kyk.

MJ ·

Glo daar is persone in die regering wat geld maak in die verkope van die smokkel van sigarette, sal ook graag wil weet of al die ministers 4 weke laas ‘n dop gemaak het. Glo baie van hulle kry gereëld voorraad.

Alida ·

Hulle drink ALMAL en baie rook maar het genoeg voorraad opgebou vir n jaar. Hulle onderskat ons intelligensie.

myvyfsent ·

Ek het gedink ons land is arm, het nie geld nie… tog gooi hul die taxgeld weg in hierdie tyd. So wie help nou – China? Vat eerder die energie en sorg dat misdaad bekamp word. Los Jan-alleman en konsentreer eerder op ernstiger misdaad. Suid-Afrika, ek het my trots verloor, jy stink soos dagga (want dit is wettig)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.