Hofsaak oor Zim-permitte na Grondwethof

Foto: http://zimembassycanberra.org.au/

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die Helen Suzman-stigting het dokumente by die Konstitusionele Hof ingedien om Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, se appèlaansoek teen ʼn hooggeregshofbeslissing – om voort te gaan met sy poging om die Zimbabwiese vrystellingspermit-program (ZEP) te beëindig – teen te staan.

Die hooggeregshof in Pretoria het in Junie verlede jaar beslis die beëindiging van die ZEP was onregmatig en ongrondwetlik.

Die Helen Suzman-stigting sê die onregmatigheid van Motsoaledi se besluit om die ZEP te beëindig berus op feite van gemene saak waarteen daar doodeenvoudig nie geappelleer kan word nie.

Volgens die hooggeregshof het die minister nie met die nagenoeg 178 000 geraakte ZEP-houers beraadslaag voordat die besluit geneem is nie. Motsoaledi het ook nie persoonlik ʼn beëdigde verklaring in die saak gedeponeer nie.

Die hooggeregshof het die besluit om die vrystellingspermit-program te beëindig tersyde gestel en die aangeleentheid na die minister teruggestuur om ʼn besluit te neem “ná ʼn regverdige, raadplegende proses”.

Die hooggeregshof het later ʼn aansoek van die minister om verlof tot appèl geweier en die appèlhof het onlangs sy appèl van die hand gewys omdat dit volgens die hof geen vooruitsig op sukses het nie.

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid (Foto: ANA)

Motsoaledi het hom egter nou tot die land se hoogste hof gewend.

Livhuwani Tommy Makhode, direkteur-generaal van die departement, het in sy beëdigde verklaring gesê die hooggeregshof moes bevind het dat die minister wel ʼn regverdige, raadplegende proses gevolg en die beperking van permithouersregte geregverdig het, waaronder deur aan te voer “dat toestande in Zimbabwe verbeter het”.

Hy sê die hooggeregshofbevel het effektief beteken dat die minister nooit die program kan beëindig nie.

Naseema Fakir, waarnemende uitvoerende direkteur van die Helen Suzman-stigting, sê egter in haar beëdigde verklaring die stigting het nié die hooggeregshof versoek om te beslis dat die minister nooit die program kan opskort nie.

Sy meen egter omdat die beëindiging van die program diepgaande gevolge sal hê, “moet dit ʼn regverdige en prosedureel rasionele konsultasieproses volg in ooreenstemming met fundamentele grondwetlike regte wat op wettige en rasionele redes gegrond is”.

Volgens Fakir was die hooggeregshof se uitspraak “oorredend en omvattend”.

“Die minister se skielike besluit om die program te beëindig het die lewe en regte van die 178 000 Zimbabwiërs en hul kinders wat sedert 2009 in Suid-Afrika woon, werk en studeer in gevaar gestel.”

Fakir het in die hooggeregshof aangevoer die Helen Suzman-stigting het die impak van die besluit op ZEP-houers en hul kinders in detail beskryf. Volgens die stigting sal ZEP-houers ongedokumenteer gelaat word weens die wetlike en praktiese hindernisse om alternatiewe visums en permitte te verkry.

Die stigting het stawende beëdigde verklarings van ZEP-houers en omsendbriewe wat deur die departement uitgereik is, opgestel wat voortdurende agterstande en vertragings in die verwerking van alternatiewe visums en permitte weerspieël.

“Die direkteur-generaal het die feite egter ontken en ʼn glibberige en heeltemal inkonsekwente houding ingeneem,” het Fakir gesê.

Nadat hy die besluit geneem het, het die minister en sy regsverteenwoordigers “aan die wêreld gesê” dat sy besluit finaal is en nie verander sal word nie en dat hy die stigting se hersieningsaansoek as “vals hoop” beskou.

“Die minister wat hare kloof oor gedeeltes van die hofuitspraak vestig nie werklike gronde vir appèl of enige redelike vooruitsig op sukses nie,” het Fakir gesê.

Die konsortium vir vlugtelinge en migrante in Suid-Afrika (Cormsa) het ook dokumente ingedien wat Motsoaledi se aansoek om verlof tot appèl teenstaan.

“Selfs al het die minister ʼn raadplegende proses gevolg (wat ontken word), het hy uitdruklik gesê dat hy nie bereid is om sy besluit te verander of te wysig nie. Die besluit was dus óf onbillik ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Paja) óf irrasioneel ingevolge die Grondwet. Dit is die gevolgtrekkings waartoe die hooggeregshof gekom het en daar is geen redelike vooruitsig dat enige ander hof tot ʼn ander gevolgtrekking sou kom nie,” het Thifulufheli Sinthumule, uitvoerende direkteur van Cormsa, in sy beëdigde verklaring aangevoer.

Hy sê die minister het ook die ZEP-program tot 29 November 2025 verleng en “hy kan dus nie nou aanvoer dat hy deur die hooggeregshof se uitspraak beperk is nie”.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Amelia ·

Wie het plase skole ens afgebrand jammer dit is maar hoe dit is ja manie stem saam hier nie eers genoeg vir sa burgers nie

daarsdit ·

Stem, as dit beter gaan daar, hoekom moet hulle bly. Neem kos uit ons eie mense se monde

Di ·

Hulle moet almal TERUG GAAN waar hulle vandaan kom. Ons korrupte regering kan nie eers omsien na hulle EIE miljoene mense wat in armoede leef nie, maar wil nog miljoene uitlanders ook onderhou. Wie betaal vir hierdie duisende immigrante? ONS die belasting betalers

Anel ·

Hierdie Helen kan die lot maar nooi om by haar te bly en hulle te versorg. Ons as belasting betalers is nou moeg om vir al hierdie onwettiges te moet sorg. Kom onwettig hier aan, kry kleintjies en dan moet daar toelaes betaal word. Ons medies is in sy kanon in, ons het nie genoeg skole nie om nie van werk te praat nie, maar ons moet die hele Afrika en sy familie hier verwelkom, ten koste van ons eie burgers!!! Gaan doen bietjie in hulle lande wat hulle hier doen! Kyk of jy onwettig sekere ander Afrika lande kan binne gaan! Hoekom dit dan hier toelaat! Om die a en c aan bewind te hou?? Stuur hulle terug waar hulle vandaan kom!!!!

christo ·

Minister Motsoaledi moet hierdie saak tot in die Konstitusionele Hof neem en ek hoop hy wen. In my skool is daar meer as dertig van die ongedokumenteerde leerders, sonder enige paspoort of ID’s nie. Die Hoofgeregshof het bepaal dat dié leerders sonder dokumente wél ingeskryf móét word. Ongelukkig neem die Nasionale Department van Onderwys hierdie leerders in ag as dit kom by die toekenning van onderwysers nie. Dus verloor die skool een onderwyser se pos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.