Hofstukke oor Kubaanse ingenieurs ingedien

(Foto: Yamil LAGE/AFP)

Solidariteit het Dinsdag hofstukke aan die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, beteken oor die invoer van Kubaanse ingenieurs. Dít nadat die organisasie twee keer uitstel gegee het om met ʼn alternatiewe voorstel vir die invoer van dié ingenieurs vorendag te kom.

Die regsproses sluit in die bekendmaking van inligting, ʼn interdik om die ontplooiingsproses te staak, asook ʼn aansoek vir die hersiening van die regering se besluit.

Solidariteit het gesê dat hy met regstappe voortgaan, maar dat verdere gesprekke nie uitgesluit hoef te word nie.

“Ons is teleurgesteld in die minister. Daar was ʼn versoek van die regering om ʼn voorstel aan ons voor te lê en ons het die spertyd vir so ʼn voorstel twee keer uitgestel. Afgesien daarvan dat die regering nie by die spertyd gehou het nie, het die minister ook nie op wesenlike regsvrae wat Solidariteit gestel het, geantwoord nie. Daar is belangrike inligting wat steeds van lede van die publiek weerhou word. Dit behoort nie so moeilik te wees om inligting oor die aanwending van belastinggeld te kry nie,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Solidariteit begin sy regstappe met ʼn proses vir openbaarmaking van inligting. “Ons moet die geheimhouding rakende die Kubane se koms, wat hulle gaan doen, hoe die geld bestee gaan word en of die Kubaanse ingenieurs geregistreer is, verbreek,” het Hermann gesê.

Solidariteit het ook ʼn aansoek ingedien dat die ontplooiingsproses gestaak word hangende die hersieningsaansoek wat gaan volg.

In die hersieningsaansoek gaan Solidariteit vra om die regering se besluit om die Kubane in te voer ongeldig te verklaar. Solidariteit se aansoek berus op twee betoë. In die eerste plek word aangevoer dat die besluit om Kubane in te voer terwyl Suid-Afrikaanse vaardighede beskikbaar is, nie rasioneel is nie. Solidariteit gaan ook aanvoer dat dit onwettig is vir die Kubane om professionele ingenieurswerk te doen en af te teken omdat hulle nie aan die Suid-Afrikaanse registrasie- en akkreditasievereistes voldoen nie.

“Indien die Kubane bloot hier is om ʼn mentorskaprol te speel en R64 miljoen daarvoor betaal word, sal dit die duurste mentorskapprogram in Suid-Afrika se geskiedenis wees. Indien hulle nie hier by die Ingenieursraad van Suid-Afrika (IRSA) geregistreer is nie, beteken dit ook dat hulle onder die toesig van Suid-Afrikaanse ingenieurs moet werk en dat hulle net basiese werk sal kan doen. Dit sal alles bydra tot die volkome onlogiese besluit om die Kubane in te voer,” het Hermann afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kokerboom ·

Sterkte Solidariteit. Die hogere dame voel ‘n absolute veer! Haar ego is onaantasbaar!!

Tanniepetoors ·

Mooi so Solidariteit! Hierdie arrogante en flagrante wanpraktyke van Sisulu kan nie voortgaan nie. MK mag Kuba dalk iets “skuld”, die res van Suid-Afrika skuld hul niks en hoef nie hul verouderde tegnologie te leer nie.

Heinrich ·

Dankie Solidariteit, gee hulle gas! Hulle leer ook nie; so hierdie gaan ook nie die laaste keer wees nie.

Eragrostis ·

Uitstekende werk, Solidariteit. Dankie vir organisasies en mense soos julle wat nog liggies en rasioneel kan dink, en dan nog sulke aksies dryf ook. Ek slaan my hande saam oor die gebrek aan insig en logika by die minister en die regering, en dat hulle kan dink daar is niks mee fout nie. Skande.

Johan ·

Goeie werk solidariteit maar daardie geld is klaar oorbetaal en onthou die kaders gaan nie hulle “kommisie” terug betaal nie.

Fedup ·

Yeah the tax payers will pay for everything.
No worries, we are sooo used to this.
Now, who want to start a tax revolt?
One way or the other, this have to end.

Zacahara ·

Die Kubane kan maar eerder in hulle eie kraal gaan krap…!!! Hulle kennis kort ons nie!!

LANA is ELANè ·

Die logika agter die besluit gaan my verstand te bowe want daar is absoluut geen logika nie ~ dit is maar net weereens “baantjies vir boeties” ten koste vd belastingbetaler en regeringsamptenare wat hulself verhewe bo die publiek plaas, deur net te doen waarvoor hulle lus is, en ten gunste vd ANC as party.

Pieter ·

Dr HERMAN is daar nie n manier om die brein dood ANC se geld krane bietjie toe te draai nie.

Leonard ·

ÍS gladnie op dié soustrein. Het lankal oorgeskakel na ander bronne van Energie & van die ‘Grid’ afgeklim

Vernon ·

Dankie Solidariteit,julle is die enigste “party” wat bereid is om hakke in te slaan..dankie!

donsie ·

wonder wat word die minister betaal vir die guns wat sy kuba doen

Sê maar net ·

Wanneer gaan die korrupte leiers in hierdie land tot verantwoording geroep word?
Ek bid naarstiglik dat Vader al die korrupte gepeupel uit die regering verwyder en wedergebore, Heilige Gees gevulde kinders van God in hierdie posisies geplaas word. Ons land het geen goeie toekoms onder hierdie gepeupel nie.
Bid vir ons land mensies …..

Althes ·

Natuurlik sal sy haar afvee. Haar rassistiese uitspraak dat net aansoeke van wit mense ontvang is, moet daar ñ klag teen haar gelê word.
Haar arrogansie is verbysterend en om die minste te sê minagtend en diskrimineer teen wit mense.

JohanR ·

Solidariteit moenie nog eers probeer om met die ANC moegoes te onderhandel of praat nie. Al wat hulle doen is hulle voorige president Jacob Zuma volg en “duck and dive!” Gaan dadelik hof toe. Hulle hou nie daarvan as mens hulle hof toe vat nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.