Hokaai met die brandstof en die braaivleis

Kookolie is steeds peperduur. (Foto: Maroela Media)

Jaarlikse inflasie het effense skiet gegee en staan vir Junie op 4,9% nadat dit in Mei  ʼn rekordhoogtepunt van 5,2% bereik het.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Woensdag gesê die maandelikse styging in die verbruikersprysindeks (VPI) was 0,2%, ʼn styging van die 0,1% in Mei, maar laer as die 0,5%-styging wat tussen Mei en Junie verlede maand opgeteken is.

StatsSA sê dit was weereens duidelik watter belangrike aandrywer van inflasie kos en nie-alkoholiese drankies, asook brandstof, is. As die jaarlikse VPI daarsonder bereken word, staan dit op 3,4% vir Junie – heelwat laer as die 4,9%-kerf wat vir inflasie gestel is.

Brandstof

Brandstofpryse het in Junie met 27,5% gestyg wanneer dit met dieselfde tyd ʼn jaar gelede vergelyk word. Dit is laer as die styging in Mei (37,4%), maar steeds hoër as die 21,4%-styging in April.

Brandstofpryse in verlede jaar se tweede kwartaal was egter uiters laag.

Op ʼn maand-tot-maand-grondslag het brandstofpryse met 0,2% tussen Mei en Junie vanjaar gedaal. In die binneland was die prys van 95 oktaan-petrol 10c goedkoper, maar dieselpryse was 0,7% hoër.

Die jaarlikse styging in die dieselprys was 25,5% in Junie, met ʼn gemiddelde prys van R16,31 per liter.

Petrol se jaarlikse styging was 28,2%, sê StatsSA.

Kospryse

Die prys van kos en nie-alkoholiese drankies het op ʼn jaargrondslag met 6,7% toegeneem.

Die prys van olies en vette styg sedert Februarie verlede jaar ook steeds en in Junie vanjaar was die jaarlikse toename 21,6%.

Die prys van kookolie laat steeds die hare rys. In Junie verlede jaar sou ʼn bottel 750 ml-kookolie jou gemiddeld R20,99 uit die sak gejaag het. Dié prys het in Junie vanjaar op R29,45 gestaan.

Vleisinflasie versnel ook en het ʼn jaarlikse koers van 8,6% bereik nadat dit in Augustus verlede jaar op 4,1% gestaan het.

Die prys van skaapvleis is 10,9% hoër, stowevleis is nou 16,7% duurder en varkvleis kos 10,5% meer.

Só vergelyk die stygings met verlede jaar:

  • Brood en grane: 4,5%
  • Vleis: 8,6%
  • Vis: 7,0%
  • Melk, eiers en kaas: 6,3%
  • Olie en vette: 21,6%
  • Vrugte: -3,5%
  • Groente: 6,7%
  • Suiker, lekkergoed en nagereg: 7,2%
  • Ander kos: 3,2%

Die indeks vir suiker, lekkers en nagereg toon ʼn jaarlikse styging van 7,2% in Junie vanjaar, maar is laer as die 8,7% wat in Mei opgeteken is. Prysstygings het effe verstadig van die 9,7% waarop dit in Oktober verlede jaar gestaan het.

Vrugte is volgens StatsSA een van die min items in verbruikers se kosmandjie wat goedkoper is. Dit het ʼn daling van 3,5% ondervind in vergelyking met dieselfde tyd ʼn jaar gelede.

Die prys van spiritualieë is 5,5% meer in vergelyking met ʼn jaar gelede, dié van wyn 6,7% meer en bier kos jou nou 3,3% meer as dieselfde tyd verlede jaar.

Die prys van tabak het die afgelope jaar met 6,5% gestyg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

DieKriek ·

Watter vrugte is goedkoper? Die vrottes? Ek kan nog steeds nie regtig vrugte en groente bekostig nie. Dis miskien goedkoper as verlede jaar maar nog steeds peperduur.

VaalDonkie ·

Dis omtrent net appels en lemoene wat bekostigbaar is. En so nou en dan piesangs. Ek kyk nie eens na mangoes of ander fancy goed nie.

Dana ·

Ons plaaslike groentewinkel se sak aartappels het tussen Saterdag en Dinsdag met R20 verhoog. Kos nou R100.

Kathleen ·

alles het oornag duur geword , nie net vrugte en groente nie . Dit is ‘n skande wat ons vir kos moet betaal

Nico ·

Al hierdie prys stygings lê in die hande van die oliemagnate

Elinette ·

Dit sal goed wees as mens se salaris kan byhou met dié prysstygings, maar nou ja …. daai is “wishful thinking”!!!

MAGRIETHA ·

Vrugte bly duur en kwaliteit by sommige winkels nie goed nie wou noudag lemoene koop ma al die sakkies lemoen e is pap , uie gekoop by huis gekom 2 uie vrot so gaan jou geld nog down the drain ook

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.