Honde-eenheid se blaf nie groter as hul byt nie

JP Smith by een van die honde (Foto verskaf deur Stad Kaapstad)

Die honde in die honde-eenheid is een van verskeie gespesialiseerde eenhede in die Wes-Kaapse metropolisie wat op onwettige dwelmmiddels en vuurwapens fokus. Die eenheid het ʼn lang lys suksesverhale die afgelope 10 maande – waaronder om ʼn kokaïenbesending van R84 miljoen te vind.

Die honde-eenheid het 14 gekwalifiseerde honde met geldige werkspermitte. Hulle ondergaan baie spesifieke opleiding, insluitend om ʼn hegte band te vorm met hul hanteerder.

Hulle word opgelei om dwelmmiddels, vuurwapens, ammunisie en springstof uit te snuffel. Hulle kan ook help in die soeke na vermiste persone.

En van die honde, Jackson, kan dwelmmiddels en koper uitsnuffel.

In die huidige finansiële jaar (Julie 2022 tot April 2023) het die eenheid 328 inhegtenisnemings gemaak waarvan 45% dwelmverwant was.

Lede het dwelmmiddels, vyf vuurwapens, twee nagemaakte vuurwapens en 109 patrone opgespoor, asook agt gesteelde voertuie en net meer as R250 000 kontant.

Die honde het tydens dié periode altesaam 865 soektogte uitgevoer.

‘n Hanteerder by een van die honde (Foto verskaf deur Stad Kaapstad)

“Die bekamping van dwelm- en vuurwapenverwante oortredings is van die metropolisie se hoogste prioriteite, soos uiteengesit in sy jaarlikse polisiëringsplan,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit. “Ons gespesialiseerde eenhede soos die dwelm- en bendetaakspan en die honde-eenheid is ʼn integrale deel van die departement se bedrywighede en ons sien dit in die resultate wat hulle lewer – of dit outonome operasies of in samewerking met die SAPD is. Een van die honde, Khalesi, het onlangs gehelp om ʼn yslike hoeveelheid kokaïen op te spoor en bewys opnuut hoe waardevol hulle is tydens polisiewerksaamhede.”

Buiten die honde se ongelooflike snuffelvaardighede, help die honde ook om verhouding te bou met gemeenskappe, sê Smith. “Hulle is gunstelinge tydens opleiding- en bewusmakingsgeleenthede vir die publiek waar hulle met hul ongelooflike vaardighede kan spog.”

Volgens Smith is daar onlangs ook fokus geplaas op Kaapstad se belegging in ʼn meer tegnologiegeleide benadering wat noodsaaklik is vir toekomstige planne.

“Daar is egter geen plaasvervanger vir hierdie honde en hul uitstekende snuffelvaardighede nie. Hulle het keer op keer bewys dat hulle nie maklik om die bos gelei kan word nie – maak nie saak waar die wegkruipplek is nie.”

Van die voordele wat die honde in die polisie-omgewing bied, is:

  • die vermoë om verbode middels vinnig op te spoor
  • die vermoë om verbode middels op te spoor in plekke waar mense nie eers sou gedink het om te kyk nie
  • verminder die hoeveelheid tyd om ʼn perseel te deursoek
  • beskerm hul hanteerders en ander
  • vermoë om persone op te spoor of te agtervolg
  • vermoë om gesteelde koper-infrastruktuur op te spoor
  • verbeterde verhouding tussen die polisie en die publiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Doompie Daan ·

Absoluut wonderlik wat die honde eenheid doen om misdaad te bekamp en misdadige wetsoortreders vas te trek! Groot waardering!
Sterkte met jul lofwaardige werk as ‘n span!

Di ·

Hulle verrig wonderlike werk in die samelewing. Het baie respek vir hierdie honde en hulle hanteerders

Delia ·

Die arrestasies is goed en wel. Waar is die statistieke van skuldigbevindings en ordentlike afskrik vonnisse? Dis die vraag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.