Honde van gewisse dood gered

Een van die honde wat gered is. (Foto: Animal Welfare Society of SA/Facebook)

Die Animal Welfare Society of SA (AWS) in Kaapstad het vinnig opgetree om drie honde te red nadat beeldmateriaal van ʼn hondegeveg in Mitchells Plain sy inspekteurs net betyds bereik het.

Die AWS het in ʼn verklaring gesê dat hy vroeg Donderdagoggend beeldmateriaal ontvang het van ʼn hondegeveg wat in Heinz Park onderweg is.

“Ons inspekteurs het blitsig gereageer en nie net daarin geslaag om al drie honde wat by die geveg betrokke was te red nie, maar ook die eienaars te identifiseer en te konfronteer,” lui die verklaring.

Die inspekteurs moes die honde glo vinnig red aangesien hul eie veiligheid naderhand bedreig is.

“Die skare het opgewerk geraak toe die inspekteurs die honde wou neem en hulle is allerlei beledigings toegesnou terwyl hulle hul man moes staan.”

Die inspekteurs kon egter die twee volwasse pitbulls en ʼn bejaarde kruising van ʼn pitbull suksesvol red.

Die eienaars is ʼn waarskuwing opgelê, maar verdere regstappe sal na verwagting eersdaags teen hulle gedoen word.

“Die honde het bloederig en bewerig by ons opgedaag met talle vars bytmerke en ou letsels van vroeër gevegte.”

Die jongste en kleinste van die drie honde, ʼn bruin‑en‑wit pitbull, het skynbaar die meeste van die aanvalle verduur en was erg uitgeteer.

Die vereniging is egter tans besig om dié honde te rehabiliteer en te versorg.

Luidens sy verklaring het hy besluit dat die beeldmateriaal van die dodelike geveg te wreed is om op sosiale media te plaas.

“Die beelde is gruwelik, maar wat ons selfs meer bekommer is die groep bloeddorstige toeskouers wat in die agtergrond die honde aanmoedig om mekaar op die mees boosaardige manier denkbaar dood te maak.”

Desnieteenstaande is die vereniging daarvan oortuig dat hy nie sommer van die betrokke eienaars sal hoor terwyl die honde in sy sorg is nie.

“Ons sien wel uit daarna om ons sê in die hof te sê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Hasie ·

Honde gevegte is ONWETTIG ! Sleep die eienaars tronk toe en arestreer sommer ‘ n Paar toeskouers ook!!!!!!Is die mense net Dom of dom onnosel ook !!!!

Chantel ·

Dit is om van siek te word. Hoeveel honde gaan nie op ‘n daaglikse basis so dood nie. Hulle moet die eienaars en toekskouers wat dit so aanmoedig toe sluit en die sleutel weg gooi..

Erika ·

Hierdie mense wat betrokke is by honde gevegte, moet vir honger leeus gegooi word, dat hulle kan voel waardeer hierdie honde moet gaan. Dit is wreed en onmenslik.

Kokerboom ·

Toon weereens hoe swak is SAP se op-die-grond intelligensie!

Murray ·

Waar daar nie die lig van JESUS is nie, gedy die duisternis. God het tog vir Adam gesê sorg vir die skepping en bestuur dit. Hy het nie gesê vernietig dit nie.

Suzette ·

“Te konfronteer:” wat de hel???? Hierdie mense moet in my oë sommer die doodstraf kry en punt! Watse genot kan dit vir iemand wees om daarna te wil kyk? Die Vader moet my behoede om so mens eendag in die hande te moet kry!!! Ek sal defnitief lewenslank tronk toe gestuur word!!!!

Maria ·

Knap gedaan aan die fluitjieblaser en die Animal Welfare Society. Hierdie gevegte is afgryslik, wat is fout met die mense?

Samuel ·

Hoe wreed kan die mens nie wees nie. Sluit toe en gooi die sleutel weg.

Di ·

SKUIM van die aarde! Watse tipe “mense” put genot daaruit om diere deur sulke hel te sit? Hierdie EIENAARS en TOESKOUERS moet tronkstraf kry, punt. Hierdie walglike dade sal nooit eindig indien strenger vonnisse nie opgele word nie. ONS moet opstaan teen hierdie mense en dit aanmeld. Moenie jou rug draai op diere wat deur mishandeling gaan nie. Daar moet regtig iets ernstig FOUT wees met hierdie tipe mense of dis maar pleinweg in die DNA

christo ·

Die Animal Welfare Society se inspekteurs was baie dapper. Indien hulle moes wag vir rugsteun ( backup) van die SAPD of metropolisie sou dit te laat gewees het. Hierdie hondegevegte is niks anders as georganiseerde misdaad waar onwettige dobbelary plaasvind.
Die hele gespuis moes gearresteer word, maar dit sal nóóit gebeur nie.
Bheki Cele, hierdie is nog net ‘n bewys dat Ian Cameron korrek is dat jy moedswillig die Wes-Kaap van polisie hulpbronne weerhou.

JohanR ·

Kan soe veg hond ooit erehabiliteer word om weer ‘n huis saam men ‘n gesin te woon? Ek is soe lief vir ‘n hond en ‘n kat, en dit maak seer om die foto van die woofie te sien. Wil sommer iemand aan die strot gryp by daai honde geveg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.