‘Honderde miljoene’ bestee om Gautengse skole te ontsmet

‘n Skool in Gauteng word ontsmet. (Foto: Verskaf)

Die Demokratiese Alliansie eis dat die Gautengse premier, David Makhura, ondersoek instel nadat sowat R431 miljoen glo in drie maande bestee is om skole in dié provinsie te ontsmet.

Die DA voer aan dat die honderde maatskappye wat tenders gekry het om skole te ontsmet, blykbaar nie enige ervaring of kennis hiervan het of eens in die skoonmaakbedryf werksaam is nie.

“Die geld wat aan dié ondernemings betaal is, is tydens verskeie betalings oorbetaal, wat vrae laat ontstaan oor of dié geld met die nodige oorleg bestee is,” het Khume Ramulifho, die DA se woordvoerder vir onderwys in Gauteng, Dinsdag gesê. Hy het daarop gewys dat sommige van die skole boonop verlede jaar gratis deur Bidvest ontsmet is, wat verdere bewys is dat die departement onnodig baie geld aan ontsmetting bestee het.

Covid-19-afsonderingsregulasies bepaal dat skole behoorlik ontsmet moet word indien ʼn leerder of onderwyser met dié virus gediagnoseer is.

Hy het Makhura gevra om onmiddellik ondersoek in te stel na dié betalings om te bepaal presies hoeveel per skool aan ontsmetting bestee is en aan wie dié geld betaal is. “Sou bevind word dat sommige ondernemings gefaktureer het vir werk wat nie gedoen is nie, moet die hoof van die provinsiale onderwysdepartement die betalings verduidelik,” sê Ramulifho. Hy vra dat dié ondersoek moet verseker dat geld terugbetaal word indien dit onregmatig oorbetaal is en dat diegene wat verantwoordelik is vir korrupte betalings, daarvoor verantwoordbaar gehou word.

“Die miljoene rande wat die afgelope maande bestee is om skole te ontsmet, kon gebruik word om nuwe skole te bou of skole toe te rus met bykomende klaskamers om ʼn oplossing vir oorvol klaskamers te bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sakkie ·

Net maar weereens bewys dat hulle nie sonder toesig kan werk nie en nie in bestuurs poste moet wees nie.

annie ·

Is die ontsmetting gedoen terwyl die skole leeg was? Dit sou mos geen doel dien nie. Eerder terwyl leerders kom en gaan. Toe die skole gesluit het was daar min siek leerders. Die virus het nie in die skole ingetrek in afwagting op hul terugkeer nie. Hoeveel toerusting het voete gekry? Net vier uitsteeksels is nodig om ‘n nie-lewende item te infekteer, te absorbeer en te laat disappear.

Melinda ·

Hoe oorleef die virus vir twee maande sonder enige gashere? Wat moet ontsmet word?

Deon ·

Is dit nodig om skole so ten duurste te ontsmet? Vrek die virus nie na n paar dae vanself as hy op “nie biologiese” oppervlaktes sit nie? Ander vraag, groot besighede soos ons petro chemiese reuse, gebeur dieselfde daar of is die kostes te hoog om produksie te verloor as daar n positiewe geval is?

Kompas ·

So moeg om te hoor van al die geld wat verdoesel word. Skole moet ontsmet word net voor skool begin en dan daagliks as skool aan is . Nie drie weke voor die tyd nie.

Deon ·

En so suipel die geld in alle rigtings net solank jy covid as n dekmantel gebruik…. Covid maak SA bankrot vanuit alle rigtings… Dis eintlik n hele hartseer spul

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.