Hondesiekte in Noord-Kaap ‘buite beheer’

‘n Hond van die Noord-Kaap wat reeds neurlogiese simptome ontwikkel het. (Foto: Verskaf)

Paniek heers in dele van die Noord-Kaap oor ʼn onbeheerde en hoogs aansteeklike siekte onder honde, wat veroorsaak dat tientalle honde daagliks uitgesit moet word.

Inwoners van die provinsie sê troetelbrakke word selfs vir dood op straat agtergelaat – alles in die hoop dat die siekte, bekend as hondesiekte (canine distemper), nie verder versprei nie.

Sanmari Labuschagne van die aannemingsorganisasie FURever adoptions, het aan Maroela Media gesê die situasie in en om Upington, Rosedale, Raaswater, Kakamas en hordes ander woongebiede in die Noord-Kaap is beroerd.

“Al die honde kry nou hondesiekte, dit is soos ʼn epidemie. Ons stap met ʼn hond by die veearts in en stap bitter selde weer met een uit,” sê sy.

“Daar lê diere gevrek langs die pad of mense gooi hulle op ashope want hulle weet nie wat is fout met hul honde nie en kan nie bekostig om uit te vind nie. Daar is selfs gevalle waar honde met klippe doodgegooi is uit vrees dat die siekte na mense versprei.”

Hoewel hondesiekte nie ʼn gevaar vir mense inhou nie, versprei dit wel soos ʼn veldbrand onder honde wat nie daarteen ingeënt is nie. Baie mense het nie geld om hul diere in te ent nie en die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het ook nie genoeg befondsing om dit gratis te doen nie.

ʼn Private veeartse op die dorp het aan Maroela Media gesê dat hulle praktyk weekliks sowat 10 honde moet uitsit – en dit is net van mense wat wel die veearts kan bekostig.

Labuschagne sê sy het al op ʼn dag meer as 50 oproepe ontvang van mense wat beweer hulle honde het die siekte opgedoen.

“Ek weet nie hoeveel honde dit nou al is wat dood of uitgesit is nie, maar dit word net al hoe erger.”

Hondesiekte is ʼn virussiekte wat ongeënte honde aantas. Aangesien daar nie ʼn kuur daarvoor is nie, behalwe voorkomende inentings, is die siekte altyd dodelik.

Honde wat die siekte opdoen, sal aanvanklik etteragtige afskeiding uit hul oë ontwikkel. Hulle kry dan dikwels koors, afskeiding uit die neus, lusteloosheid en ʼn verminderde eetlus. Soos wat die virus die senuweestelsel aanval, begin honde neurologiese simptome ontwikkel soos om in sirkels te loop, hul kop te kantel, stuiptrekkings te kry en speekselafskeiding gevolg deur verlamming. Die meeste honde-eienaars laat hul diere voor dié stadium uitsit.

Volgens die staatsveearts op die dorp word hierdie siekte dikwels verwar met hondsdolheid, omdat die simptome dieselfde lyk.

Voorkoming die probleem

Honde met die siekte verloor dikwels hul eetlus. (Foto: Verskaf)

Die kantoor van die staatsveearts en private veeartse op die dorp stem saam dat die huidige uitbreking, wat nie ongewoon is nie, spruit uit die feit dat honde nie van kleins af ingeënt is teen die siekte nie.

“Niemand in die gebied wil geld bestee aan inentingsveldtogte nie, of mense sien dit bloot net nie as ʼn prioriteit nie,” sê ʼn private veearts op die dorp.

Zandisile Luphahla, woordvoerder by die departement van landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling in die Noord-Kaap, sê dit is nie ongewoon vir die siekte om uit te breek waar ʼn groot deel van die hondebevolking nie daarteen ingeënt is nie.

“Dit is die verantwoordelikheid van elke troeteldiereienaar, ingevolge die Wet op Dieresiektes, om te verseker dat hul hond ingeënt is.”

Keshvi Nair, woordvoerder van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV), sê die NDBV en plaaslike DBV’s probeer waar moontlik aksies reël waartydens diere gratis ingeënt word.

“Die uitreikaksies is egter onderworpe aan die beskikbaarheid van befondsing. Die DBV word nie deur die regering gefinansier nie, dus kan ons nie altyd diere gratis inent nie. Baie van ons DBV’s het wel klinieke wat inentingsdienste teen ʼn fooi aanbied.”

Daar is lank reeds nie meer ʼn DBV op Upington nie, inwoners maak dus nou staat op private veeartse of die DBV in Kimberley wat sowat 400 km van hul tuisdorp is.

Hoe nou gemaak?

Hoewel dit lyk of die wil om die huidige uitbreking hok te slaan daar is, word enige pogings om dit hok te slaan skynbaar gepootjie deur ʼn gebrek aan geld en hulpbronne.

Omdat hondesiekte nie ʼn staatsbeheerde siekte is nie, is dit nie in die staat se vermoë om uitbrekings daarvan te bekamp nie, verduidelik die staatsveearts. Die staatsveearts op die dorp het in ieder geval nie ʼn kliniek om vanuit te bedryf nie.

As dit ʼn staatsbeheerde siekte was, sou dit die verantwoordelikheid van die direktoraat van veeartsenydienste binne die departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming gewees het om in te gryp.

“Al is dit nie ons verantwoordelikheid nie, beteken dit nie dat ons nie wil help nie. Dit moet egter op die regte manier gedoen word anders loop ons die risiko om meer skade as goed te doen. Ons het net in hierdie stadium nie die hulpbronne of befondsing om dit te doen nie,” het die kantoor van die staatsveearts gesê.

Die private veeartse meen die verantwoordelikheid om die siekte te bekamp, rus nou op hulle skouers, aangesien die inwoners nou na hulle kyk om hulp. Maar hulle het self ondersteuning van groter organisasies soos die DBV nodig.

“Ons probeer help waar ons kan, en mense is welkom om enige van die private veeartse te bel om raad te vra. Ons het net nie tans die wettige reg om aan mense se deure te klop en honde uit te sit nie. Ons sal ook nie weet wat om met die massas karkasse te doen nie, want ʼn dooie hond met hondesiekte kan dit steeds aan ʼn lewende dier oordra.”

Volgens die NDBV het hy reeds ʼn span van die Kimberley DBV op bystand om verdere hulp te verleen, indien nodig.

“Die gemeenskap weet ook dat hulle bystand van die dorp se veeartse kan verwag, sou hulle simptome van hondesiekte by hul troeteldiere opspoor,” het Nair gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.