Hoof by Vrystaatse skool gegryp, losprys geëis

(Argieffoto: pixabay)

Die hoof van ’n laerskool in die omgewing van Virginia in die Vrystaat is vandeesweek by die skool ontvoer voordat sy ontvoerders ’n losprys van die skool geëis het. Die ontvoerders kon egter nie ’n sent uit die skool kry nie en het die skoolhoof eindelik vrygelaat.

Sy bakkie word egter steeds vermis.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, sê die skoolhoof van ’n laerskool in Meloding het Dinsdag net ná 07:00 deur die skool se ingang in sy Nissan NP200-bakkie gery.

’n Sekerheidswag het die hek vir die skoolhoof oopgemaak. ’n Onbekende man het ’n paar minute later by die skool opgedaag en daarop aangedring om die skoolhoof te sien.

Die onbekende man is toegelaat om die skoolterrein te betree aangesien leerders se skoolrapporte die betrokke dag uitgedeel sou word. Die sekerheidswag is daarna vort by die hek om ’n selfoonlaaier vir van sy kollegas te gaan gee.

Volgens Thakeng het die wag voor die skoolkantoor verbygeloop en gesien dat die skoolhoof se geparkeerde bakkie steeds buite die kantoor luier. Daar was egter geen teken van die hoof nie. Die wag is na die kantoor om die skoolhoof oor die voertuig uit te vra, toe dieselfde man wat vroeër versoek het om in te kom, hom gegryp en by die kantoor ingedwing het.

Die skoolhoof was in die kantoor, met sy hande agter sy rug vasgebind en sy mond toegeplak. Nog twee gewapende mans was by hom. Die sekerheidswag is deursoek en vasgebind, waarna die drie verdagtes met die skoolhoof – en ’n selfoon wat hulle by die wag gebuit het – gevlug het.

Thakeng sê die verdagtes het glo kontant van die skool geëis, maar die skoolhoof vrygelaat en met sy bakkie weggejaag toe die skool nie wou betaal nie. Die voertuig, ’n wit NP200 Nissan met registrasienommer FLR 387 FS, word steeds vermis.

Die polisie ondersoek intussen ’n saak van ontvoering, sakeroof en motorkaping.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stephen ·

Dis seker dieselfde boewe wat die “Lego” speelgoed nagemaak het.:) Jy moet bitter dom wees om n skoolhoof te ontvoer. Wonder wie reken hulle moet die omkoopgeld betaal..

Karoo ·

Net in Suid Afrika….. dankbaar die hoof en sekuriteit is ongedeurd… maar sie bakkke, is natuurlik weg.

AREND1 ·

Is die hoof nie ook betrokke daarby nie,want hoe laat hulle so gou hom vry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.