Hoofstad se bestuurder tree uit

Moeketsi Mosola, munisipale bestuurder van die Tshwane-metro, tydens die mediakonferensie. Foto: ANA

Die Tshwane-metro se beleërde stadsbestuurder, Moeketsi Mosola, het uiteindelik sy uittrede aangekondig.

Dit volg nadat die metroraad Donderdag ʼn ooreenkoms met Mosola bereik het wat stipuleer dat hy teen die einde van Julie sy kantoor moet ontruim.

Luidens ʼn verklaring van die DA was dit nie ʼn ligtelike besluit nie. Volgens John Moodey, die DA se provinsiale leier, wou die stad Mosola reeds by twee vorige geleenthede skors vir sy rol in die Glad Africa-saak, asook vir sy oortreding van die gedragskode vir lede van munisipale personeel.

Moodey het gesê die ooreenkoms oor sy ontslag is tydens ʼn geslote sitting van die metroraad bereik.

Die ANC in die Tshwane-metro het op 28 Februarie die skikking verwerp wat burgemeester Stevens Mokgalapa met die ingenieursfirma Glad Africa bereik het. Die skikking het oor ʼn onreëlmatige kontrak met die stad gehandel.

Kgosi Maepa, streekvoorsitter van die ANC in die Tshwane-metro, het destyds gesê Mokgalapa het nie die mag om Glad Africa se kontrak te beëindig nie of om die skikking van “ʼn korrupte goue handdruk van R250 miljoen” aan die einde van Junie te betaal sonder om die raad te nader vir goedkeuring.

Die ouditeur-generaal het ook nadelige bevindings oor die uiters omstrede kontrak gemaak en dit onreëlmatig verklaar. Vroeër in Februarie het Mokgalapa aangekondig dat die kontrak, wat reeds meer as R300 miljoen van die metroraad se geld opgeslurp het, eers aan die einde van die finansiële boekjaar gekanselleer sou word.

Tshwane-metro het die betrokke kontrak in November 2017 met Glad Africa aangegaan om hulp te verleen met die instelling van infrastruktuurprojekte ter waarde van R12 miljard.

Moodey het Donderdag gesê die DA het hard saam met die stad se veelparty koukus gewerk om ʼn ondersoek na die Glad Africa-aangeleentheid deur ʼn eksterne ondersoeker te laat doen.

“By albeid geleenthede het die ANC en EFF verhoed dat die koukus die stadbestuurder skors. Die beperkinge van wetgewing en die beskerming van hierdie twee partye het gemaak dat ʼn onderlinge beëindigingooreenkoms die mees praktiese manier geword het om vorentoe te beweeg in hierdie saak en wat uiteindelik tot voordeel van die inwoners van die stad sal strek,” het hy gesê.

“Ons glo dat ʼn duurder en tydrowende geding oor die saak ons nie sou help om dit vinnig op te los nie. Ons missie is om beter diens te lewer en die lewens van die inwoners van die Tshwane-metro te verbeter. Ons sal niemand toelaat om in die pad van hierdie mandaat te staan nie. Die volgende stap is om die pos van stadsbestuurder te adverteer en om te verseker dat slegs die beste moontlike kandidate vir die aanstelling oorweeg word,” het Moodey bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hans ·

Ek vind die konsep van ‘goue handruk’onaanvaarbaar-as ‘n persoon verkeerd opgetree het bly dit verkeerd.

Chris ·

Sal seker nou een of ander kabinet’s pos as beloning kry…

Mika ·

As dit so moeilik is om n munisipale werker te fire, hoekom is dit so maklik om n ketelmaker te fire vir n leer in die middel van die werkswinkel wat hy nie gebruik nie? Hoe werk n ketelmaker op n leer? n Leer is n elektrisiër se werktuig. Dan reken CCMA maar die werkgewer het die reg om die ketelmaker te fire oor n rondstaan se leer wat iemand anders gebruik het.

ja nee ·

die dag wat die aa nnn cc die woord “verantwoordelikheid” aanneem,is die dag wat die land sal regkom.geen ander beloftes en mooi praatjies sal n verskil maak nie.

Gert van Wierdapark ·

Nou toe nou! Die mannetjie besluit om uit te tree! Flippen gerieflik nadat hy groot R12 Miljard gegaan het met ons geld om ‘n patetiese eensydige ooreenkoms op sy eie houtjie te sluit. Ons sal MOET hande vat om adv Gerrie Nel en sy span te kry om die saak oop te vlek. NIEMAND kan net “Uit-Tree” na bollie aanjaag nie! Verder – wat is sy pakket? ” Die” ket” moes eerder uit gehaal gewees het en die pak moet Oranje wees!!!

Hendrik van George ·

Net nog ‘n bewys dat dat die cANCer en EFF nooit iets sal doen ten goede van inwoners nie, maar net om hulle self te bevoordeel en geld in hulle sakke te kry… Die storie van die afgelope 25 jaar…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.