Hooggeregshof beslis weer in Intercape se guns

Boosdoeners het onlangs op nóg Intercape-busse toegeslaan. (Foto: Intercape)

Intercape het vandeesweek die nuutste ronde in sy regstryd gewen in sy poging om die regering sover te kry om dié langafstandbusdiens, sy bestuurders en passasiers te beskerm.

Die hooggeregshof in Makhanda het Woensdag ’n bevel uitgereik wat die minister van vervoer en die LUR vir vervoer in die Oos-Kaap verplig om saam met die polisie te werk aan ’n hersiene en omvattende plan om die veiligheid van Intercape se bestuurders en passasiers in dié provinsie te verseker.

Die Oos-Kaapse regering en polisie word ook ingevolge die hofbevel verplig om sigbare polisiëring te verskaf in spesifieke dorpe en op spesifieke tye wanneer Intercape se busse geskeduleer is om passasiers op of af te laai.

Polisiebeamptes word ook verplig om Intercape se langafstandbusse op sekere roetes te begelei in gevalle waar daar wesenlike kommer oor ’n risiko van intimidasie of geweld heers.

Dié uitspraak volg nadat die nasionale en Oos-Kaapse polisiekommissarisse se regspanne aangevoer het dat die polisie nie oor die nodige hulpbronne beskik om begeleiding aan Intercape se busse te verskaf nie.

Regter John Smith was egter nie oortuig nie en het gesê dat Intercape se versoek “min meer is as wat daar in elk geval redelikerwys van die polisie verwag word om te doen”.

Dit is die tweede keer dat Intercape die Makhanda-hooggeregshof nader en volg ná verskeie onlangse voorvalle waartydens daar op busse in die sogenaamde brandpuntedorpe Cofimvaba, Butterworth, Engcobo, Tsomo en Idutywa geskiet is.

Intercape het hom weer tot die hof gewend in ’n poging om die respondente te dwing om gehoor te gee aan die aanvanklike bevel wat die hof in September verlede jaar uitgereik het. Dié bevel het toe reeds die respondente beveel om ’n omvattende aksieplan te ontwikkel.

Boosdoeners het onlangs op nóg Intercape-busse toegeslaan. (Foto: Intercape)

“Daar het sedertdien nege maande verloop en die LUR en die minister het steeds nie ’n aksieplan ontwikkel wat aan die vereistes van die hofbevel voldoen nie. Daar is van hulle verwag om ’n ‘omvattende plan’ op te stel met besonderhede oor die tydperke vir die toepaslike stappe. Maar hulle het misluk. Die plan wat voorberei is, skiet jammerlik tekort,” het Intercape vandeesweek aangevoer.

Die maatskappy het voorts aangevoer dat nadat hy sy bedrywighede vroeër vanjaar in die sogenaamde brandpuntgebiede hervat het, “bevind Intercape hom weereens in die posisie van slagoffer van geweld en intimidasie”.

Intercape het gesê “daar is ’n werklike risiko dat die [oorspronklike] hofbevel niks meer as leë woorde op ’n bladsy van die wetsverslae sal neerkom nie”.

“Ons verstaan baie goed dat die begeleiding van Intercape-busse ’n buitengewone maatreël is, maar dit is ’n abnormale situasie waarmee ons te doen het en kom as ’n direkte gevolg van die polisie se algehele en absolute versuim om op te tree om hierdie aanvalle te stop,” sê Johann Ferreira, uitvoerende hoof van Intercape.

“Die enigste doeltreffende langtermynoplossing vir hierdie probleem is dat die SAPD diegene wat verantwoordelik is vir die pleeg en orkestrasie van hierdie dade, in hegtenis neem. Dit is die afwesigheid van inhegtenisnemings en vervolgings wat hierdie blatante misdadigheid en boewery moontlik maak.”

Volgens Intercape is daar niks minder nie as 150 sake reeds by die Oos-Kaapse polisie aanhangig gemaak. Niemand is egter tot dusver in verband met die sake in hegtenis geneem nie ondanks oorweldigende bewyse van misdadigheid.

  • Die jongste bevel maak voorsiening vir ’n keerdatum van 12 Julie vanjaar waarop die hof voorleggings deur die respondente sal aanhoor oor hoekom die bevel nie ’n finale hofbevel gemaak moet word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack ·

Ja rondte nommer 2.Die eerste hofuitspraak was heeltemal deur die minister afgelag.Wat kan ons van die hofuitspraak verwag ? Ek glo nie die minister of die LUR gaan ‘n vinger verroer nie.Hulle is glad nie bekommerd oor hofuitsprake nie en maak soos hulle wil.

Martie Smartie ·

Dis nou die SAPS vir ons ne. Briljant. Bevoeg by uitstek … Cele, Masemola, Ramaposa, die 3 musketiers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.