Altesaam 21 mense is Sondag gered nadat die hooggety hulle in Dappat se Gat naby Kogelbaai, tussen Gordonsbaai en Pringlebaai in die Wes-Kaap, vasgekeer het.
“Die groep mense het die gewilde inham, bekend as Dappat se Gat, gaan besoek terwyl dit laaggety was,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), gesê. “Hulle het nie besef dat die inkomende gety hulle sou verhoed om na die vasteland terug te keer of dat die hooggety die hele baai in water sou bedek nie.”
Die groep het met selfone hulp ontbied toe hulle besef hulle is vasgekeer.
“Die inkomende gety het hulle reeds van die vasteland afgesny en reddingsvoertuie kon nie tot by hulle kom nie. Lewensredders kon ook nie na hulle toe swem nie. ʼn Helikopter en reddingsboot met lewensredders aan boord moes gebruik word om die groep te bereik,” het Lambinon verduidelik.
Daar is besluit om die meeste mense met ʼn helikopter uit die baai te hys voor die gety die baai sou oorstroom. Lewensredders het bygestaan om mense te red, sou hulle deur die see meegesleur word.
Altesaam 19 volwassenes en twee kinders, onderskeidelik sewe en agt jaar oud, is na veiligheid gebring.
Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Lambinon het gesê teen die tyd wat die reddingspanne klaar was, was die rotse reeds oorstroom.