Hospitaaltroue ter wille van leukemie-pa

Die intieme seremonie in die hospitaal in Kaapstad. (Foto: Louis Aucamp/Facebook)

ʼn Paartjie van Knysna het Dinsdag hul families in trane gehad toe hulle in dieselfde hospitaal getrou het waar die bruid se pa vir leukemie behandel word.

Louis Aucamp (27) en Ashley Cilliers (25) het kort nadat dié soort kanker by Ashley se pa, Chris Cilliers, gediagnoseer is, besluit om in die Melomed in Tokai te trou sodat hy ook deel van hul groot dag kon wees.

“Dit was vir ons so ʼn groot eer om hom daar te hê,” sê Louis.

Die paartjie het in 2018 ontmoet en ses maande daarna verloof geraak. Hulle sou aanvanklik verlede jaar trou, maar die Covid-19-pandemie het hul planne omvergegooi. Hul troue was vir September vanjaar beplan, maar die twee was nie seker of Ashley se pa die aggressiewe behandeling sou oorleef nie.

“Ons het ons groot troue laat vaar om my skoonpa daar te hê – en ons sou dit nie anders wou hê nie.

“Die troue in die hospitaal was intiem en persoonlik, en net ons familie was daar. Die personeel het vir ons ʼn koek gebak en vingerhappies uitgesit. Dit was alles wat dit moes wees en my skoonpa kon selfs vir ʼn paar oomblikke uit die rolstoel opstaan.

Ashley en Louis nadat hulle in die hospitaal getrou het. (Foto: Louis Aucamp/Facebook)

“Die trane het daardie oggend vlak gelê.”

Volgens Louis het Chris einde Februarie begin siek voel en was hy heeltyd moeg. Teen die einde van verlede maand kon die gesin Chris eindelik oorreed om dokter toe te gaan. Chris is aanvanklik opgeneem vir ʼn abses in sy ingewande, maar nadat hy verskeie bloedtoetse ondergaan het, was dit duidelik dat iets nie pluis is nie.

“Die dokters het uit die staanspoor gedink dit is leukemie en dit is bevestig toe die dokter een Sondagaand gebel het om te sê dat my skoonpa Kaapstad toe moet gaan om behandeling te ontvang.”

Chris is per ambulans van Knysna na Tokai, aangesien hy reeds gesukkel het om asem te haal.

“Vir my vrou was dit ʼn groot skok. Nadat hy opgeneem is, het ons gedink om dalk in die hospitaal te trou. Ons wou hê hy moet deel van ons troue wees en ons was bang dat hy nie teen daardie tyd sterk genoeg sou wees of dalk glad nie hier sou wees nie,” sê Louis.

“Teen Donderdag 1 April het ons besluit om dit te doen en ʼn klein geleentheid agterna te hou.”

Volgens Louis wou hul families die partytjie ná die huweliksbevestiging allesbehalwe klein hou.

“Ons families het saamgewerk en ʼn partytjie by Rusty Oaks in Durbanville gereël nadat ons by die hospitaal was. Ons het ons eerste dans as man en vrou gehad en so baie van ons familie en vriende kon die dag met ons deel,” sê hy.

“Ons het toe wél ons makietie gehad en dit was perfek.”

Louis sê hoewel Chris nie by hul onthaal kon wees nie, was hy opgeruimd toe hulle by die hospitaal vertrek het. “Hy was baie meer positief as wat hy twee dae voor die troue was, asof hy ʼn nuwe asem gekry het.”

Chris het Donderdag met chemoterapie begin en sal na verwagting vir die volgende drie tot vier weke intensiewe behandeling ontvang om die kanker te beveg.

“Dit is natuurlik nog ʼn sensitiewe tyd vir my vrou en haar gesin. Ek probeer sterk staan vir haar, maar hierdie hele proses het ons soveel nader aan mekaar gebring. Daar is ʼn mate van rustigheid in ons harte oor ons toekoms as getroudes.”

Hoewel Ashley en Louis nie meer hul groot troue in September gaan hou nie, beplan hulle om ʼn geleentheid vir al die familie en vriende wat hul spesiale dag misgeloop het, te hou. Daarna gaan hulle op wittebrood.

“Van dag een af het ek geweet dat Ashley my trouvrou is, so dis lekker om mekaar amptelik man en vrou te kan noem,” sê Louis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Dit is iets besonders. Hoop julle huwelik gaan net so besonder wees.

SomeOne ·

trane le vlak, ek weet wat is chemo, sterkte aan die jong getroudes en ek bid vir genesing vir chris

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.