Huishulp, kleinseun red boer uit brandende huis

(Foto: Verskaf)

ʼn Verwoestende brand wat op munisipale grond sonder ʼn brandpad uitgebreek het, het na Jan en Annamarie Botha se wildsplaas in Limpopo versprei en alles, waaronder wild en tien chalets, verwoes. Dit het boonop ook amper Jan se lewe geëis, as dit nie was vir die dapper optrede van die egpaar se huishulp en kleinseun nie. Jan is bedlêend weens ʼn voetwond.

Die brand het Donderdag omstreeks 13:00 op die wildsplaas JB Game Ranch, op die Jasperpad in Modimolle (Nylstroom), uitgebreek en ʼn pad na verwoesting begin oopkloof.

Kol. Mamphaswa Seabi, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die brand het op die munisipaliteit se grond – wat direk langs die Botha-egpaar se plaas geleë is – uitgebreek. Daar is informele nedersettings op dié grond.

Die egpaar se dogter, Janita van der Walt, sê omdat daar geen brandpad was wat die brand kon keer nie, het die vlamme blitsvinnig na haar ouers se plaas versprei. Sy sê die boere het al verskeie kere vantevore gekla oor die munisipale grond en dat daar geen veiligheidsmaatreëls – soos ʼn brandpad – ingestel is wanneer ʼn brand sou uitbreek nie.

“Die brand het oor my ouers se plaasheining en brandpad versprei en hul hele plaas verwoes.”

Volgens Van der Walt is die veld, onthaalsaal, hoofplaashuis en drie ander huise, motorhuise, trofeekamer, lapa, tien chalets, winkel, klubhuis en kombuis, konferensiekamer, gholfbaan en voertuie afgebrand.

“Als het afgebrand. Daar is nie eens ʼn enkele beker, bord of kombers oor nie.”

Al die wild en die egpaar se troeteldiere het in die brand doodgebrand.

Van der Walt vertel haar seun, Janrich, het vir Jan in die brandende plaashuis gaan soek toe die brand na die huis versprei het. Jan was egter reeds buitekant nadat die huishulp, Maria, hom betyds uit die brandende huis gehelp het.

“Ek is trots op my dapper seun wat in die brandende huis – deur die rook en hitte – gekruip het om sy oupa te probeer red.”

Janrich het deur die vlamme met ʼn Polaris-motor vir Jan en Maria na veiligheid gejaag. Al drie het ongedeerd van die brand afgekom.

Plaaswerkers het rondgeskarrel om die brand in bedwang te bring. Hulle het die egpaar se Pajero-motor van die huis probeer wegsleep, maar dit het weens die vlamme begin smelt.

“Een van die plaaswerkers, Chris, het een van die vragmotors aan die gang probeer kry, maar die vlamme het hom ongelukkig oorweldig. Hy het erge brandwonde opgedoen.”

Volgens Van der Walt is haar ouers erg getraumatiseerd en het hulle ʼn groot finansiële verlies gely.

“Hul hele lewe se harde werk, 21 jaar van opbou, mooi maak, verbeter, instandhouding, hul drome en trots, is deur die brand verswelg.”

Die egpaar oorweeg regstappe teen die munisipaliteit.

“My ouers sit nou op hul oudag met niks en dit is deur die munisipaliteit se doen en late, deurdat hulle nie hul werk gedoen of pligte nagekom het nie.”

Die Botha-egpaar bly tans by hul kinders in Marble Hall.

Die egpaar kan nie die skade van ʼn versekeringsmaatskappy terugeis nie, omdat hulle noodgedwonge tydens die Covid-19-pandemie hul versekering moes staak. Dít is omdat hulle nie ʼn inkomste uit die plaas gekry het nie.

Die familie het ʼn Back-a-Buddy-fondsinsameling begin om vir die egpaar geld in te samel sodat hulle weer ʼn nuwe lewe vir hulself kan vestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Anonymouse ·

Sjoe dis erg en hartseer. Hoop daar’s ‘n back-a-buddy ook vir al die werkers wat probeer help het en nou ook sonder ‘n inkomste sit, en met brandwonde boonop ook. En kon hulle nie ook ‘n brandpad gemaak het, veral as hulle geweet het hulle het nie meer versekering nie?

Anonymouse ·

Jy’s reg. Ek het die artikel gelees, maar dit gemis.

Cherokee ·

Dit open die vraag of ‘n munisipale brandpad sou help.

Johan ·

Dagvaar maar die munisipaliteit, want die brandskade het ontstaan weens hulle nalatigheid. As die grondeienaar het hulle net soveel verantwoordelikheid soos enige ander grondeienaar om voorsorgmaatreëls te tref wat verhoed dat ‘n brand versprei van hulle eiendom na ‘n naburige eiendom.

Oosieoos ·

Munisipaliteit moet betaal dis blatante agterlosigheid. Die arme diere shame

Miskruier ·

Die munisipale area word as stortingsterrein gebruik. Gereeld word die vullis aan die brand gesteek.

Lillian ·

Ag die munisipaliteit voel vere want dis nie hul eiendom wat verwoes is nie. Laat jul versekering hulle dagvaar!

Nella ·

Watse versekering gaan hul help om die munisipaliteit te dagvaar as hul nie versekering het nie. Daar staan duidelik geskrywe dat hul geen versekering het nie. Dit is gekanselleer na Covid uitgebreek het

Pieter ·

DA beheerde munisipaliteit. Pleks dat salarisse vir raadslede gestaak word (oral) sodat daar geld vir werk om te doen is en raak ontslae van die kriminele organisasie ANC met hul kaders in die strukture. Onvolhoubare belaglike stelsel in die 21ste eeu. Hartseer vir die gebeure.

Kerrie ·

Informele nedersetting inwoners langs Karan Beef plaas in Heidelberg het 20 000 ton se voer-bale en dan ook weiding afgebrand…geen ongeluk.

Inge ·

Wel gedaan aan die huishulp wat Jan se lewe gered het. Dit is ‘n vreeslike verlies. Ek wens hulle alle sterkte toe.

Jack ·

Brandstigting is beslis n sterk moontlikheid. Nou sal hy moet herbou of die grond vir die plakkers gee. Hulle sal nou begin stroop en intrek.

philippus ·

Tragies. Maar julle moes ook n brand pad gemaak het. Pad het 2 kante

Brakanjan ·

Lees gou weer. “Die brand het oor my ouers se plaasheining en brandpad versprei en hul hele plaas verwoes.”

SjN ·

Die betrokke munisipaliteit moet ook mos voldoen aan die brand voorkomings regulasies soos vervat in wetgewing, hoop daar word teen hul opgetree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.