Huldeblyke stroom in oor Buthelezi se afsterwe

Mangosuthu Buthelezi. (Foto: Sibonelo Ngcobo/ANA)

Verskeie organisasies en politieke partye het Saterdag hul meegevoel betuig met prins Mangosuthu Buthelezi se afsterwe.

Maroela Media het vroeër berig Buthelezi, voormalige leier van die Inkatha Vryheidsparty en tradisionele premier van die Zoeloes, is Saterdag in die vroeë oggendure oorlede. Hy was 95 jaar oud.

Velenkosini Hlabisa, president van die IVP, het gesê die party is platgeslaan oor dié “onuitspreekbare verlies aan die IVP, die Zoeloenasie, ons land en die groter saak van geregtigheid en vrede”.

“Namens die IVP betuig ek ook my meegevoel met koning Misuzulu kaZwelithini en die koninklike Zoeloe-familie.”

Hlabisa het ook sy medelye betuig aan die Buthelezi-stam, vir wie prins Buthelezi sewe dekades lank as Inkosi gedien het.

“Talle sal sy verlies voel, veral diegene wat voordeel getrek het uit sy leierskap en diegene wat sy voorbeeld van iemand wat met ʼn diensbare hart optree, gevolg het.”

John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie, het ook sy meegevoel betuig met “die familie wat ʼn geliefde aan die dood afgestaan het, die IVP en die Zoeloe-nasie wat ʼn groot leier verloor het en aan alle Suid-Afrikaners wat ʼn grondlegger verloor het”.

“Prins Buthelezi was ʼn reus in Suid-Afrika se politieke landskap. Hy sal vir altyd in ons harte en gedagtes voortleef as ʼn werklike dienskneg-leier wat sy lewe toegewy het om die lewens van ander te verbeter en om vir vryheid te baklei. Ons eer sy onwankelbare toewyding tot ʼn vreedsame, regverdige en vrye land.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê Buthelezi was ʼn simbool van respek en waardigheid in die parlement. “Hy het respek van almal afgedwing met sy waardigheid en optrede en is oor politieke grense heen gerespekteer.

“Hy is die enigste Zoeloe-leier wat verskoning gevra het vir die wandade en moorde teenoor Voortrekkers. Dit dien as bewys dat hy ʼn leier van inbors was wat nie weggedeins het van die waarheid nie.”

Groenewald sê Buthelezi het ook nie geskroom om die ANC-regering te wys op sy foute en hom daaroor aan te spreek nie.

“Sy afsterwe is ʼn verlies nie net vir sy naasbestaande en die Zoeloe-volk nie, maar ook vir Suid-Afrika. Mag hy in vrede rus.”

Herman Mashaba, president van ActionSA, sê dit is ʼn hartseer dag vir die provinsie.

“Hy was die langsdienende tradisionele eerste minister van die AmaZulu tot drie agteropeenvolgende Zoeloe-konings wat terugdateer tot koning Cyprian Bhekuzulu. Hy was aan die voorpunt om koning Misuzulu kaZwelithini se troonopvolging te verseker.

“Buthelezi was ʼn reus wat ʼn instrumentele rol in die stryd vir demokrasie tydens die apartheidsregime gespeel het en het as minister van binnelandse sake van 1994 tot 2004 gedien. Hy het die politieke koninkryk van die Zoeloes met onkreukbare uitnemendheid, vol gewete, integriteit en hoogs emosionele intelligensie gelei.”

Mmusi Maimane, leier van Build One South Africa (Bosa), sê Buthelezi se bydrae tot die Zulu-gemeenskap is onmeetbaar. “Hy was ʼn kurator van kennis en waardes. Sy leierskap van die IVP en rol in die oorgang van ons land het ʼn beduidende deel gevorm van ons demokrasie.”

Ek dink aan en bid vir sy familie, die IVP en die koninkryk van die Zoeloe-nasie.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het ook sy meegevoel betuig.

“As ʼn veteraan van Suid-Afrikaanse politiek het hy gehelp om die land se politieke landskap ná 1994 te vorm. Hy het ʼn noodsaaklike rol gespeel in Suid-Afrika se oorgang na demokrasie. Hy het deurgaans wyse leierskap en werklike patriotisme getoon. Sy verlies sal oral gevoel word.”

Winde sê hy dink aan Buthelezi se familie en geliefdes, asook die Zoeloe-nasie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê sy organisasie neem ook met leedwese kennis geneem van die afsterwe van prins Mangosuthu Buthelezi, Inkosi van die Buthelezi- tradisionele gemeenskap en eerste minister van die Zoeloe-koninkryk en -volk.

“Ons bid dat die Here die Buthelezi- koninklike familie, die Buthelezi- tradisionele gemeenskap, die Zoeloe- koninklike familie en die Zoeloe-volk in hierdie moeilike tyd sal vertroos. Ons sal prins Buthelezi onthou vir sy integriteit en toewyding om vreedsame oplossings te vind vir die komplekse naasbestaanvraagstuk waarmee kultuurgemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika te kampe het.”

Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, sê prins Buthelezi, ’n kleinseun van koning Dinuzulu KaCetshwayo, het deur sy optrede die trotse nalatenskap van sy voorouers geëer. “Hy het in die belang van sy kultuurgemeenskap opgetree en terselfdertyd daarna gestreef om die histories goeie verhoudinge wat tussen die Zoeloes en Afrikaners bestaan, te handhaaf.”

Songezo Zibi, leier van Rise Mzansi, sê Buthelezi se lewe het ʼn groot invloed gehad op Suid-Afrika se politieke landskap. “Hy is wêreldwyd erken as een van die land se voorste politieke leiers wie se werk en sienings die land se politieke ontwikkeling beïnvloed het.”

Volgens Zibi was Buthelezi die afgelope paar jaar ook die “volwassene in die vertrek” toe sittings van die nasionale vergaderings in chaos ontaard het.

“Alhoewel hy trots en onboetvaardig umZulu was, het hy begrip gehad vir die projek, om ʼn Suid-Afrikaanse nasionale identiteit te bou wat ons almal verenig. Hy het in ʼn stadium gesê: ‘Ons het ons eie geskiedenis, ons eie taal, ons eie kultuur. Maar ons lot is verbind met die lot van ander mense – die geskiedenis het van ons almal Suid-Afrikaners gemaak’.”

Zibi sê Rise Mzansi betuig sy innige meegevoel met die Zoeloe-nasie, die IVP asook die vriende, familie en geliefdes van dié staatsman.

Zama Ntshona van die African Transformation Movement sê uShenge het oor baie jare heen ʼn beduidende bydrae gemaak tot die land se politieke landskap en ʼn onuitwisbare merk gelaat op die land se geskiedenis.

“Ons erken prins Buthelezi se rol om die tradisie en stabiliteit van die Zoeloe-nasie vol te hou. Alhoewel sy nalatenskap gekenmerk word deur diverse perspektiewe, onthou ons sy bydra met plegtigheid en respek. Ons dink aan sy familie, die IVP en almal wat treur oor sy afsterwe.”

Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond, neem ook met groot hartseer kennis van die heengaan van Buthelezi.

“Namens ons voorsitter, Dries Wiese en die nasionale raad van die Afrikanerbond dra ons graag ons opregte simpatie en meegevoel met sy familie en vriende en ook elke Suid-Afrikaner oor.”

Bosman het ʼn meelewing gedeel met die koningsgesin, tradisionele leiers, en die Zoeloe-nasie.

“Prins Mangosuthu Buthelezi was een van die fakkeldraers wat die hoop en verwagtinge van demokratiese Suid-Afrika hoog gehou het. Dit is nou vir elke Suid-Afrikaner om die fakkel van versoening omhoog te hou en die waardes wat prins Mangosothu Buthelezi tot aan die einde van sy lewe voorgestaan het, te bevorder.

“Die Afrikanerbond het verskeie kere met prins Mangosuthu Buthelezi kontak gehad in gesprekke by die parlement. Sy merkwaardige groeteboodskap aan die Afrikanerbond met ons Eeufeesviering staan uit. Die uittreksel is vir ons belangrik want dit was die basis van die wedersydse respek: ‘My eie identiteit as ʼn lid van die Zoeloe-nasie het my nog altyd geleer om ander kulture ook te respekteer. Ek weet hoe diep julle, jul tradisies, kultuur en taal ag en hoe hierdie waardes julle identiteit vorm meer as enigiets anders. Ek glo dat hierdie gevoel van ʼn identiteit mag is, nie net vir die Afrikaner-nasie nie maar vir Suid-Afrika as geheel. Dis waar dat ons land ʼn tuiste is wat ons almal deel. Ons verlede is hier. Ons nou is hier en ons  toekoms  is hier, in die land. Dis hoekom dit dan belangrik is dat ons hande vat om saam oplossings te vind vir al die probleme wat deur ons in die gesig gestaar word, met die wete dat ons bydraes uniek is. Die Afrikaner-nasie het nog altyd probleme getakel met toewyding wat geen gelyke het nie’.” Klik hier om die volledige boodskap te lees.

Bosman sê die rol van Buthelezi in dekades van nasiebou, versoening en pogings tot vrede in geweldgeteisterde gebiede kan nie geringgeskat word nie. “Sy integriteit, leierskap, wysheid en insigte het hom een van die uitstaande leiers van die oorgang na die nuwe bedeling 1994 gemaak. Vandag amper 30 jaar later eer ons sy nalatenskap.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.