Humans se veroordeelde moordenaar storm uit getuiebank

Tewie en Eurika Human. Foto: Verskaf

Die veroordeelde moordenaar van die Human-gesin van Groot Brakrivier het Dinsdag woedend uit die getuiebank gestorm terwyl hy onder kruisverhoor was.

Thamsanqa Sishuba dien reeds twee lewenslange vonnisse uit vir die moorde en is uit die gevangenis gebring om in Stephen Lekore se verhoor te getuig. Lekore staan tereg op twee klagtes van moord en twee van roof met verswarende omstandighede.

Die egpaar, Tewie en Eurika Human, is op 14 Junie 2016 in hul huis in Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap oorval en vermoor. Hulle lyke is vier dae later deur ʼn vriendin gevind.

Sishuba het Dinsdag vinnig uit die getuiebank verby die hofbeamptes tot in die openbare galery beweeg en langs die beampte van korrektiewe dienste gaan sit. Hy was nie geboei tydens sy getuienis nie. Dit was duidelik dat hy hoogs ontsteld was omdat adv. Dawie Scholtz hom toe reeds herhaaldelik daarvan beskuldig het dat hy vir die hof lieg.

Sishuba het vroeër getuig dat hy in sy eie verhoor in 2017 leuens vertel het en dat hy nou die waarheid praat. Hy sê hy was destyds bang vir die polisie.

Regter Mark Sher het die hof ná Sishuba se uitbarsting vir ʼn kort ruk verdaag terwyl die aanklaer, adv. Lenro Badenhorst, probeer het om Sishuba te kalmeer. Die hofverrigtinge is later hervat en Sishuba is verder onder kruisverhoor geneem.

Hy het vroeër getuig dat die beskuldigde, Lekoro, hom reeds drie dae voor die moord, op 11 Junie 2016, gesê het dat hy beplan om geld by die Humans se huis te gaan haal. Lekoro het hom glo in die vroeë oggendure op 14 Junie geskakel en gesê “nou is die tyd”.

By die Humans se huis was die ligte nog afgeskakel. Lekoro het vir hom ʼn panga gegee en gesê om in die motorhuis te wag terwyl hy mnr. Human gaan roep het. Lekoro, wat by die Humans gewerk het, het mnr. Human wakker gemaak en gesê dat hy na iets in die motorhuis moet kom kyk.

Die oorledene het uitgekom en saam met Lekoro na die motorhuis gestap en afgebuk om te kyk wat Lekoro aan hom wou wys. Sishuba het getuig dat hy Human toe van agter met die panga oor sy kop gekap het. Volgens Sishuba het Human omgekyk en uitgeroep “Stephen, wat gaan nou aan?” Hierna het Lekoro hom met ʼn mes gesteek.

Sishuba het aan die hof gesê hy het daarna weggehardloop. Hy het later die aand by Lekoro gehoor dat hy mev. Human met die mes doodgesteek het. Maar Lekoro het hom na bewering vertel dat hy mev. Human eers gedwing het om geld na ʼn rekening oor te betaal waarvan hy die nommer verskaf het. Sy moes ook al die kontant in die huis aan hom oorhandig. Sy het glo tevergeefs gepleit dat Lekoro haar nie moes doodmaak nie.

Dié weergawe van die gebeure is ver verwyder van wat Sishuba tydens sy eie verhoor getuig het. Hy het vandag aan die hof gesê dat hy destyds deur Lekoro aangesê is om ʼn ander storie te vertel. In kruisverhoor wou Scholtz herhaaldelik by Sishuba weet wanneer hy lieg en wanneer hy die waarheid praat. Sishuba het duidelik al hoe meer geïrriteerd geantwoord en gesê dat Scholtz hom deurmekaar maak maar dat hy nou hier is om die waarheid te praat en dat hy nie ou stories wil hoor nie.

Die volgende oomblik, toe Scholtz dit weer aan hom stel dat hy lieg, het Sishuba vir Scholtz in Sesotho toegesnou dat hy dan maar vir Lekoro moet vra en nie vir hom nie. Tot die skok en verbasing van almal in die hof het hy toe uit die getuiebank gestorm.

Die saak duur voort.

Lees alle berigte oor die Human-egpaar op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Cherokee ·

Miskien behoort ‘almal’ nie verbaas en geskok gewees het nie, want hy is reeds die ergste straf wat die land hom kan vonnis, opgelê, so sy optrede kan niks daaraan verander nie en sy straf sal nie verswaar word nie. Die land is te genadig met moordenaars, wat behoort te ontvang wat hulle uitdeel.

Carlo Vos ·

Volgens die hof en die SAP is dit nie nodig nie! Daar was nog geen boeie aan engie van die beskuldigdes of skuldiges se voete sedert die eerste verhoor in 2016 nie. Daar is al aanmanings gemaak maar die hof wil niks weet nie.

Joke! ·

Nee Carol dit gebeur net as n blanke n nie blanke iets toesnou waarvan hul nie hou nie..

MarieM ·

Ja George, moordenaars het meer regte, en die geval gevoelens/emosies/uitbarstings.

Thea ·

Twee jaar later en steeds geen teken van berou of respek vd hof nie…! Die een kan nie gerehabiliteer word nie.

Mathys ·

Maar adv Dawie Scholtz, wat vir Lekoro verdedig, gee nie om dat die moordenaar twee mense koelbloedig, met voorbedagte rade om die lewe gebring het nie, want adv Dawie Scholtz wil reg wees, daar is geen erger ding wat met adv Dawie Scholtz kan gebeur as dat iemand hom daarvan verwittig dat hy, adv Dawie Scholtz, dalk n fout kon gemaak het nie, dat hy dalk in een geval kan help om geregtigheid te laat geskied nie, nee ons diskrediteer n veroordeelde-moordenaar staatsgetuie, want dis maklik, ek meen party leunaars moor nie, maar die gemiddelde deursnit moordenaar sal nou nie n probleem hê met n ou staltjie nie of wat? Asof die howe so naïf is dat hulle dit nie weet nie? Nee, sê adv Dawie Shultz, n geleendheid is daar om reg te wees en hoe klein dit okal is, as jy daai geleendheid versmaai, is hy weg en só bly die howe stampvol vir 4 jaar in die toekoms in om belangrikke mense se ego’s oor die bergtoppe uit te bassyn, want Suid-Afrikaners weet rykdom is minder belangrik as gevoelens en polisiëring van taal sodat ons hartjies nie seergemaak word nie, advokaat of tuisteskepper, veilige spasie is waarna ek smag, my trots, my eer, ek, ek, my, self, eerste, ekke

Advokaat probleem ·

Mathys, dit klink eerder asof jy ‘n persoonlike probleem met die Advokaat het.

Heksie ·

Ja mense wat maklik leuens vertel moet goeie geheues hê sodat hul later kan onthou wat hul gelieg het, dit gebeur gewoonlik nie!

wilma ·

en so maak kriminele soos hul wil. laat hul nie eers vani hof voorskryf.. SIES SA SE WETTE

hercu ·

‘n kompulsiewe, narsistiese leuenaar word gedefinieer as iemand wat buite die normale lieg om hom/haar self te verdedig en goed te laat voel; lieg is vir hul normaal en reflektiewe manier om op vrae te reageerb hierdie tipe leuenaars lieg oor die waarheid, groot en klein. ‘n dwangleuenaar word gekenmerk deur liegstories en glo homself; daar is sielkundig vasgestel dat dwangleuen in die vroeë kinderjare ontwikkel word as gevolg van die feit dat dit in ‘n omgewing geplaas is waar leuens nodig was om omstandighede te kon hanteer

vir die grootste deel is kompulsiewe dwangleuenaars nie manipuleerend nie, maar dit word ‘n gewoonte soos hulle ouer en “slimmer” word volgens hulself; dit is ‘n outomatiese reaksie wat moeilik is om te breek en een wat die verhaal kan aanneem van vorige versuurde verhoudings!!

patriot ·

Dis nou die ding van `n liegstorie, jy kan nie altyd onthou hoe het jy waar gelieg nie…

blouapie ·

Die misdadigers het baie meer regte as ons op straat veral as jou velkleur jou kan beskerm.

gert ·

Dis onaanvaarbaar dat veroordeelde moordenaars of verdagtes uit Lesotho sonder voetboeie getuig. Beide is hoë vlugrisiko’s.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.