Hupstoot vir SA skole met nuwe handleiding

paul-colditz-fedsas

Argieffoto: Paul Colditz van Fedsas.

Skoolbeheer en die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel het onlangs opnuut ʼn sterk hupstoot gekry met die publikasie van ’n handleiding wat die King-beginsels vir goeie korporatiewe beheer vir openbare skole toeganklik maak.

Die handleiding, Beheer in openbare skole, ’n handleiding oor die toepassing van die King-beginsels in openbare skole, is die verwesenliking van ’n jare lange droom van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrika (Fedsas).

Die King III-verslag, die derde weergawe van die King-komitee se beginsels waarop goeie korporatiewe bestuur en etiese leierskap berus, word internasionaal gereken as een van die voorste bestuurskodes in die wêreld. Dit word ontwikkel en gepubliseer deur die Institute of Directors of Southern Africa (IoDSA).

“Sedert King III in 2009 bekend gestel is, het Fedsas gedroom van ’n handleiding vir skoolbeheerliggame wat hierdie beginsels vervat. Ons wou die King-beginsels en skole nader aan mekaar bring,” het Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, gesê.

Colditz sê die King-beginsels bied ’n oplossing vir die grootste uitdagings van skoolbeheer, naamlik ’n gebrek aan etiese leierskap en goeie en universeel aanvaarde standaarde van beheer. “Onvoldoende beheer en bestuurspraktyke is dikwels die onderskeid tussen wanfunksionerende en suksesvolle skole.”

Ten einde die droom te verwesenlik, het Fedsas die IoDSA genader om saam te werk aan die publikasie van só ’n gids. Die uitvoerende hoof van Fedsas se Instituut vir Skoolbeheer, dr. Derek Swemmer, was aan die stuur van dié projek om ’n verstaanbare en praktiese handleiding, gegrond op die King-beginsels vir lede van skoolbeheerliggame, saam te stel.

Die projek word ook ondersteun deur die departement van basiese onderwys. Die handleiding stel skoolbeheerliggame in staat om nie net te voldoen aan die bepalings van die Skolewet nie, maar ook aan die King-beginsels. Dit skep die geleentheid vir goeie skole om uitstekende skole te word.

Die uitdagings waarmee skoolbeheerliggame worstel, is nie eie aan die onderwys nie. Hoewel Suid-Afrika een van die beste bestuurskodes ter wêreld het, is die toepassing daarvan nie altyd na wense nie. “Daar is sowat 300 000 lede van skoolbeheerliggame in Suid-Afrika. Dink net watter positiewe uitwerking dit op die Suid-Afrikaanse samelewing sal hê wanneer soveel mense blootgestel word aan die wêreld se voorste praktyke in beheer, bestuur en leierskap. Dit strek verder as net onderwys, en ons het nou die geleentheid om die leiers van die toekoms te ontwikkel om sodoende ’n betekenisvolle rol in Suid-Afrika te kan speel,” het Colditz gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Koos ·

Dankie Paul, Derek en almal wat hieraan gewerk het.
Ek is ‘n beheerliggaam lid van ‘n skool en wil graag ‘n eksemplaar he. Waar gaan ek dit kan kry?
Gaan dit versprei word deur die department, of moet ons bestel of hoe gemaak?

Francois Le Cochon ·

@Koos. Die SA Skolewet en al die regulasies waarna die SASW verwys, tesame met jou provinsie se finansiele handleiding, is al wat jy nodig het. PLUS etiek. Moenie toelaat dat die skoolbestuur die SBL “dwing” om onregnmatige uitgawes aan te gaan nie, veral Art 38A uitgawes, wat meeste van die gevalle onregmatig betaal word.

Francois le Cochon ·

@HEVW. Hierdie in nie ‘n wet wat geimplimenteer hoef te word nie, dit is net ‘n handleiding. Die probleem met SBL’s is dat die meeste ouers wat op SBL’e dien, is mense met groot ego’s wat maak soos hul wil, en nie die moeite doen om die SA skolewet te bestudeer nie.

Francois le Cochon ·

Goeie ding, net jammer ouers gaan dit nie bestudeer nie. Skool Beheer Liggame buit ouers se onkunde uit, en sodoende betaal ouers meer skoolgelde as nodig (wettig) is. SBL’e MAG NIE skoolgeld gebruik as dit nie gehalte onderwys sal bevorder nie. Gratis tee/koffie, funksies, blomme en geskenke en sportklere vir onderwysers is onwettig. Ook skoolgeld afslag vir onderwysers se kinders. Skoolgeld afslag mag slegs toegestaan word na gelang van ‘n ouer se vermoe om te betaal. SBL’e mag ook nie bonusse betaal aan staatsonderwysers nie. Bykomende vergoeding aan staatsdiens onderwysers mag slegs betaal word indien die onderwyser gekontrakteer word in ‘n SBL pos, waarvan die pligtestaat geen pligte van die Departement bevat nie, en ook nie meer as die uurlikse tarief wat die Departement die onderwyser betaal nie.
Betaling aan staatsonderwysers mag nie deel uitmaak van die SBL se personeel begroting nie, dit moet afsonderlik op die begroting aangedui word (Artikel 38A uitgawe). Ook mag ‘n SBL nie enige vorm van beurse betaal uit die skoolgeld nie.
Ouers moet ook daarop let dat met skoolgeld van bv. R21,000.00 per jaar, kwalifiseer ouers wat minder as R750,000.00 gesamentlik verdien, vir skoolgeldafslag. ‘n Ouer hoef nie armlastig te wees om vir skoolgeld vermindering te kwalifiseer nie.

Frederik ·

Lesufi het laasjaar gesê hy soek swart onderwysers ook by Roodeplaat Curro.
Die naweek vertel iemand my dat van die swart kinders in Roodeplaat Curro se ouers blykbaar die ou laat weet het dat as daar net een swart onderwyser aangestel word, hy oorlede Lesufi sal wees. Ek wonder hoe waar dit is, want die ou is maar bra stil deesdae oor die Curro skole.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.