‘Hy was skielik ʼn ander Jaco,’ sê ou vriend

Edwin Strydom. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Toe Edwin Strydom in 2012 by die veroordeelde vroueslaner Jaco Swart se motorhandelonderneming in Gezina begin werk het, het hy Swart as ʼn “nice ou” leer ken. Dít was voordat Swart, wat aan die aanranding op sy vervreemde vrou, Nicoleen, skuldig bevind is, Strydom in 2018 in sy kantoor aangerand het.

Die voormalige kollegas en vriende het destyds ook gereeld saamgeoefen en volgens Strydom was Swart ʼn “gelukkige mens, altyd vol grappe en iemand wat ander sou help waar hy kon”.

Op die oog af het die Swart-gesin ook vir Strydom “gelukkig” gelyk.

Strydom het in 2015 ander geleenthede nagestreef, maar ʼn paar jaar later weer vir Swart gaan werk nadat dieselfde motorhandelonderneming in Pretoria-Noord gevestig is.

Dis toe dat hy skielik met “ʼn ander Jaco” gekonfronteer is.

Skermskoot uit die video waarin Jaco Swart vir Edwin Strydom aanrand.

“Ek weet nie of dit die steroïede of finansiële stres was nie, maar hy was anders. Dis asof sy kop hom gelos het,” het Strydom vandeesweek aan Maroela Media gesê.

Swart is in Junie vanjaar ʼn boete van R20 000 deur die streekhof in Pretoria-Noord opgelê, asook drie jaar tronkstraf wat vir vyf jaar opgeskort is, nadat hy aan die aanranding op Nicoleen skuldig bevind is. Van die aanrandings op Nicoleen is ook op video vasgevang, asook ʼn voorval waar Swart Strydom klaarblyklik uit die bloute in sy kantoor aanval terwyl hy op sy rekenaar besig is.

“Ek het dit glad nie verwag nie. Ek en Jaco was voorheen al amper in ʼn kaping, en my eerste gedagte toe hy my in die kantoor aanval, was dat ons beroof word. Dit was eers toe ek opstaan dat ek gesien het dis hy.

“Ek het nie geweet wat gaan aan nie. Hy het op my geskree en my aangerand. Ek het eers later op die video gesien dat hy my met ʼn stoel geslaan het.”

Jaco Swart (links) en Edwin Strydom (regs) was destyds vriende. (Foto: Verskaf)

Strydom het probeer kalm bly en nie teruggeslaan nie. Hy is kort ná die voorval daar weg.

“In daardie stadium was my dogtertjie nog klein. Ek het net gedink ‘as ek hom nou terugslaan, gaan ek nooit my geld sien nie’. Dit was die Here se genade,” het Strydom gesê.

Volgens Strydom skuld Swart hom egter steeds die geld van die kommissie wat hy op agt motors se verkope verdien het. Hy het nooit ʼn saak teen Swart aanhangig gemaak nie omdat hy meen dit hom in elk geval meer sou kos as wat Swart hom skuld.

Dieselfde week as die aanranding op Strydom, het Swart Nicoleen ook by dié onderneming aangerand, waarna sy ʼn saak by die polisie ingedien het.

Strydom sê hy het later allerhande gerugte gehoor oor waarom Swart glo so kwaad was, onder meer dat Swart gedink het hy en Nicoleen het ʼn verhouding.

Skermskoot uit die video waarin Jaco Swart vir Edwin Strydom aanrand.

“Daar was geen waarheid daarin nie. Nicoleen was ʼn goeie vrou vir Jaco en is ʼn goeie ma vir hul kinders. Sy het hom altyd ondersteun.” Hy sê hy het ook nie geweet Nicoleen word mishandel nie, aangesien hy en die gesin nie oor en weer gekuier het nie, en hy Nicoleen nie baie gesien het nie.

Swart het kort ná sy skuldigbevinding skoonveld verdwyn en dit is steeds onduidelik waar hy hom bevind.

Strydom sê hy het geen idee waar Swart kan wees nie, en dat hy jare laas van hom gehoor het.

Hy het Swart sowat twee jaar gelede by ʼn kuierplek raakgeloop waar Swart aan hom om verskoning gevra het vir die aanranding.

Jaco Swart (regs) en Edwin Strydom (links) was destyds vriende. (Foto: Verskaf)

“Ek dink hy het die verskoning opreg bedoel. Ek het vir hom gesê ek vergewe hom en dat dít wat na sy kant toe kom, sy saak is.”

Strydom sê hy deel nie sy storie vir enige soort erkenning nie.

“Dit gaan op die ou einde daaroor dat vroue nie weer vasgevang word in so ʼn verhouding nie, en dat vroue wat wel in so ʼn verhouding is, nie sal bang wees om na vore te kom en sulke mans om die verkeerde redes famous te maak nie.”

Hy glo ook dat die uitdiening van tronkstraf die enigste manier is waarop Swart werklik sal verander – selfs al dien hy net ʼn jaar of twee uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Realis Thailand ·

Hy kan nie net sommer so verdwyn nie
Sy vriende steek hom weg maar een of ander tyd gaan hy weer in die openbaar verskyn en hoop ek hy word aangekla vir die ander aanrandings
Die polisie is te treurig om hom op te spoor

Lillian ·

Volgens berigte is deur ‘n paar manne wat hom gewys het waar die Dawid gegrawe het…. Hoop hy ly nou nog…. Rubbish

ES ·

Enigiemand wat iemand anders aanrand, het geen selfbeheer nie en hoort nie in die samelewing tussen ander mense nie. Die tjoekie sal hom genees.

Marcello ·

Hoop dit help hom, en dat hy nie meer agrisief daar uitkom nie. Ek weet van iemand wat erger daar uitgekom het, en sy verweer is nou: Hy moes “survive”……..

Groen-oog ·

Ek is nogal bly eks nie die ou nie.

Ek kan net sien hoe staan hy in n Spar of Pnpay of so en kyk na n produk en skielik **OUT OF NOWHERE** brand sy ore soos warm klappe reen sonder waarskuwing.

Ek dink die ou moet permanent met n staal sambreel loop want waar mans hom gaan kry mag dit dalk net klappe reen.

Veronika ·

Hopelik het hy n goeie pakslae gekry, nou kruip hy weg vir die lafaard wat hy is!!

Niklaas ·

Ek glo nie daardie brokkie nuus oor die kastige aanval op hom , geskep deur sy prokureur , om simpatie te wek. Ek dink dis louter snert. Anders was daar fotos van sy wonde getoon.

Perdeby ·

Dot gaan nie help nie sulke mense kan ongelukkig nie gerehabiliteer word nie, en nog minder kan medikasie vir hom help. Hulle is soos ‘n narsis, jy kry ongelukkig nie medikasie om iemand se persoonlikheid te verander nie.

Catantho ·

Mens rehabiliteer nie ‘n vroueslaner nie. Dit is ‘n ingebore chauvinisme. Hy glo altyd hy is beter en hy is reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.